1
BYBELKUNDE 1
SERTIFIKAAT IN CHRISTELIKE DIENS.
Module 1
HOMILETIEK
2
Inhoud Bladsy
1. Inleiding. 7
1.1. Die Naam Homiletiek. 7
1.2. Die Begrip Homiletiek. 8
1.3. Die Bediening van die Woord. 8
1.4. Die Doel van die Bediening van die Woord. 9
1.4.1. Die Opbouing van die Gemeente. 10
1.4.2. Die Bekering van die Ongelowiges. 10
1.4.3. Die Verheerliking van God. 10
1.5. Die Subjek van die Bediening van die Woord. 10
1.5.1. Psigiese Kwaliteite. 11
1.5.2. Religieus-etiese Kwaliteite. 11
1.6. Die Stof vir die Bediening van die Woord. 11
1.7. Verwysings. 12
2. Die Uitleg van „n Preek. 12
2.1. Beswaar teen „n Skets. 12
2.2. Waarde van „n Skets. 13
2.2.1. Dit bou die Prediker se Selfvertroue. 13
2.2.2. Dit help die Prediker om te onthou. 13
2.2.3. Dit help die luisteraar om die preek te onthou. 14
2.3. Die Struktuur. 14
3. Die Tema. 16
3.1. Omskrywing van „n Tema. 17
3.2. Die onderskeid tussen „n Tema en „n Onderwerp. 17
3.3. Die keuse van „n Tema. 17
3.3.1. Die Gemeentelike Behoeftes. 17
3.3.2. Die Prediker se Temperament. 18
3.3.3. Die Prediker se Ondervinding. 18
3.3.4. Die Prediker se Konsep van die Woord. 18
3.4. Die Eienskappe van „n goeie Tema. 18
3
3.5. Die metode van die daarstel van die Tema. 20
3.5.1. Die Logiese Metode. 20
3.5.2. Die Retoriese Metode. 20
3.6. Verwysings. 20
4. Die Teks. 20
4.1. Die noodsaaklikheid van „n Teks. 21
4.1.1. Dit verleen Gesag aan die Preek. 21
4.1.2. Dit Beperk die Prediker tot sy Tema. 21
4.1.3. Dit bind die Preek tot „n Eenheid. 21
4.1.4. Dit Werk Verskeidenheid in die Hand. 21
4.1.5. Dit maak die hoorder bekend met die Skrif. 21
4.2. Die keuse van die Teks. 22
4.2.1. Maak seker dat die sentiment van die Teks geïnspireerd is. 22
4.2.2. Kies „n Teks wat die hele gedagte insluit. 22
4.2.3. Vermy Tekste waarvan die betekenis onduidelik is. 22
4.2.4. Kies Tekste wat jou aangryp. 23
4.2.5. Die Tipe gehoor sal ook in die keuse van die Teks beïnvloed. 23
4.3. Die Verklaring van die Teks. 23
4.3.1. Die Teks moet verklaar word in konteks. 24
4.3.2. Die Teks moet verklaar word in sy taal. 24
4.3.3. Die Teks moet verklaar word in die lig van die Kultuur,
Geskiedenis en Geografie van daardie tyd. 24
4.3.4. Die Teks moet verklaar word in die Lig van die res van
die Bybel. 24
4.3.5. Die Teks moet verklaar word in die lig van die spesifieke
bedeling. 25
4.4. Verwysings. 25
5. Die Inleiding van die Preek. 26
5.1. Die Doel van die Inleiding. 26
5.1.1. Dit moet treffend wees. 26
4
5.1.2. Dit moet belangstelling uitlok. 27
5.2. Die voorbereiding van die Inleiding. 27
5.2.1. Die Verduidelikingsmetode. 27
5.2.2. Die Voorstellingsmetode 27
5.2.3. Die Verklaringsmetode. 27
5.3. Die Verskeidenheid faktor. 28
5.4. Die Skrywe van die Inleiding. 28
6. Die Hoofindelings. 28
6.1. Die waarde van Indelings. 29
6.1.1. Dit verbeter die verstaanbaarheid van die gedagte. 29
6.1.2. Dit verhoog die waarde van die Preek vir die toehoorder. 29
6.1.3. Dit Help die toehoorder om te onthou. 29
6.1.4. Dit fassineer die toehoorder. 30
6.2. Die Konstruksie van die verskillende afdelings. 30
6.2.1. DIE OMVANG VAN DIE MENS SE SONDE. 30
6.2.2. DIE AARD VAN DIE MENS SE SONDE. 30
6.2.3. DIE GEVOLGE VAN DIE MENS SE SONDE. 30
6.2.4. DIE OMVANG VAN DIE MENS SE SONDE (9-12). 30
6.2.5. DIE AARD VAN DIE MENS SE SONDE (13-18). 31
6.2.6. DIE GEVOLGE VAN DIE MENS SE SONDE. 31
6.3. Die kenmerke van goeie Indelings. 32
6.3.1. Dit moet skakel met die Tema. 32
6.3.2. Dit moet „n logiese ontwikkeling van Gedagte hê. 32
6.3.3. Dit moet kort en bondig aangebied wees. 32
6.3.4. Dit moet logies uiteengesit wees. 33
6.4. Die Aantal Indelings. 33
6.4.1. Die Tema bepaal die Aantal. 33
6.4.2. Die aantal in preke word gebaseer op teenstellings. 33
6.4.3. Preke gebaseer op verhale. 34
6.4.4. Preke gebaseer slegs op Teks. 34
5
7. Die Slot. 35
7.1. Die Behoefte aan „n goed voorbereide Slot. 35
7.2. „n Effektiewe Slot. 35
7.2.1. Rekapitulasie. 36
7.2.2. Illustrasie. 36
7.2.3. Geskikte Aanhalings. 36
7.3. Algemene opmerkings omtrent die Slot. 37
8. Die Voorbereiding van „n Preek. 37
8.1. Indirekte Voorbereiding. 37
8.1.1 Die Prediker se daaglikse Gebedslewe. 37
8.1.2. Die Prediker se daaglikse Lewe. 38
8.1.3. Die Prediker se daaglikse Bybelstudie. 38
8.2. Direkte Voorbereiding. 38
8.2.1. Begin betyds met die Voorbereiding. 38
8.2.2. Lees die Skrifgedeelte herhaaldelik deur. 39
8.2.3. Maak gebruik van „n konkordansie. 39
8.2.4. Raadpleeg ander skrywers se werk. 39
8.2.5. Maak notas. 39
8.2.6. Skryf die Preek volledig neer. 40
8.2.7. Vergewis jouself met die inhoud van die Preek. 41
8.2.8. Kry Heilige Gees inspraak in die Preek. 41
8.3. Die Kriteria van die toepaslike inligting. 41
8.3.1. Dit moet lewenskragtig wees. 42
8.3.2. Dit moet oorspronklik wees . 42
8.4. Verwysings. 42
9. Die Aanbieding. 43
9.1. Die gedrag van die prediker. 43
9.1.1. Nederig, maar nie slaafs. 44
9.1.2. Ernstig dog selfbeheers. 44
9.1.3. Hoflik en tog getrou in sy aanbieding. 44
6
9.1.4. Netjies voorkoms, maar nie pronkerig. 44
9.2. Die prediker se Taalgebruik. 45
9.3. Die Prediker se Stem. 46
9.4. Die prediker moet „n verwagting koester. 47
10. Die verskillende soorte Preke. 48
10.1. Die Tekstuele Preek. 48
10.2. Die Onderwerp Preek. 50
10.3. Die Uitlegkundige Preek. 52
11. Die Versameling van preekmateriaal. 55
11.1. Die Groot Koevert Metode. 55
11.2. Die Groot Boek Metode. 56
12. Bibliografie. 57
13. Werksopdrag. 58
7
1. Inleiding.
Die geïnspireerde boodskap van die Apostel Petrus in Hand 2 was die oorsprong
van „n nuwe veld van Evangelie Bediening by name: Preekkuns. Die sou in die
eeue om te kom nie net „n geweldige rol speel in die Kerk van Jesus Christus
speel nie maar ook „n magtige gereedskapstuk word om die ongeredde in die
wêreld te bereik. Om hierdie juiste rede vermaan Paulus sy geestelike seun
Timoteus so: “verkondig die woord” (2 Tim. 4:2). Alleen só sal die Groot Opdrag
van Christus aan Sy Kerk: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Evangelie
aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15), in vervulling kan gaan.
‟n Noukeurige beskouing van die prediking in die Bybel toon dat dit hoegenaamd
nie gesetel is in die menslike idees omtrent God nie, maar in wat God vir die
mens gedoen het. Daarom moet die prediking uit die Woord van God geneem
word, wat die rekord is van wat God vir die mens gedoen het, eerder as „n
voortvloeiing van menslike spekulasies. Donald Miller stel dit so mooi vir ons as
hy sê: “True preaching is God‟s Word to man rather than man‟s word about God .
. . ” Paulus beklemtoon hierdie waarheid as hy aan die Tessalonisense skryf: “toe
julle die Woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit
aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die
Woord van God wat ook werk in julle wat glo” (2 Thess. 2:13). Dit is alleen
wanneer die prediker die kontemporêre instrument word waardeur die Woord van
God spreek, dat „n preek „n preek is. Anders is dit net „n toespraak oor „n
godsdienstige onderwerp of ‟n menslike rede oor God, en nie God wat oor
Homself tot die mens spreek nie.
1.1. Die Naam Homiletiek.
Die woord “Homiletiek” is afgelei van die Griekse woord “homilia” wat “gesprek”
beteken. Vandaar ook die werkwoord “homilein” of “om met mekaar te praat”, wat
in die Nuwe Testament eenmaal voor kom en wel in Hand. 20:11. Die betekenis is
die verkondiging van die Woord in die midde van die gemeente.
8
1.2. Die Begrip Homiletiek.
Homiletiek is die Teologiese Wetenskap wat tot studieobjek het die bediening van
die Woord van God in die vergadering van die gemeente van Christus. Ons het
hier te doen met ‟n wetenskap, wat wel dien as ‟n kuns en vir die praktiese
uitoefening van die Pastorale amp van die grootste belang is. Homiletiek is die
wetenskap of geklassifiseerde kennis wat die agtergrond en die onderliggende
basis vorm; terwyl preek die kuns of die toepassing en aanwending is van
daardie kennis. Die volle nadruk moet bly val op die feit dat die Homiletiek tot
objek van ondersoek het die bediening van die Woord in die vergadering van die
gemeente van Jesus Christus.
Ons moet nie uit die oog verloor dat die prediking nie net gaan om die
vergadering van die gemeente van Christus nie, maar ook om die ongelowiges.
Die onderskeid gaan ten eerste om die doel: By die prediking tot die gemeente is
die doel die vervolmaking van die gemeente; maar by sending en evangelisasie is
dit om die ongelowige tot bekering te bring. ‟n Verdere onderskeid is in die stof;
nie wat die hoof inhoud betref nie, want albei verkondig Christus; maar in die sin
dat die bediening van die Woord vir die gemeente sig van die middelpunt van die
evangelie na die periferie wend om die hele lewe deur die Woord te laat
deurdring; terwyl by die evangelisasie hoofsaaklik die sentrale stukke van die leer
van verlossing behandel word.
1.3. Die Bediening van die Woord.
Vir die mededeling van wat die Here deur sy diensknegte tot ons saligheid wil
bekend maak, word in die Heilige Skrif verskeie woorde gebruik. “Kerusso” en
“Euaggelizo” is die twee belangrikste terme wat die hoof aspekte van ons
prediking aandui. Die woord “Kerussein” in die Nuwe Testament is nie uitsluitend
gebruik vir missie prediking nie. Dit dui aan dat die heilsboodskap van God
gebring word op gesag wat ontleen is aan die outoriteit van die Koning van die
Ryk. Verder lê in “Kerussein” nog opgesluit dat die prediking publiek is (Matt.
10:27). Die woord “Kerussein” dui die publieke prediking van Gods weë hieruit
9
aan. “Euaggelizo” is ‟n terminus tegnikus vir “nuus van oorwinning”. Donald
Miller gee die volgende toeligting omtrent die woord: “Originally it was used by
the Greeks to announce any joyous event, but finally it came to be used more
exclusively in the sense of reporting a victory on the field of battle. It was
appropriately selected by the Christians to describe their preaching. It consisted
mainly in the announcement of the victory of Christ over sin and death, and what
that entailed for human life here and hereafter.” Die werkwoord “euaggelizesthai”
gee te kenne ‟n blye boodskap wat die hart verheug te midde van die ellende van
die wêreld. Waar “Kerussein” die publieke prediking van God se Woord aandui,
daar dui “euaggelizesthai” die inhoud van die verkondiging aan, naamlik ‟n
boodskap van heil.
Die evangelie is van ‟n bepaalde sy besien ook te neem in die sin van onderrig,
want dit bring kennis vir die onwetendes, vandaar die gebruik van die woord
“Didaskein” in die Nuwe Testament. As dit trag om op die wil van die mens in te
werk, dan verkry dit ‟n vermanende karakter en word “Parakalein” genoem,
byvoorbeeld Luk. 8:18; 2 Kor. 5:20. Ook die vertroostende karakter lê in die
“Parakalein” opgesluit (ook omdat die Heilige Gees hier bygebring word).
1.4. Die Doel van die Bediening van die Woord.
Die gesproke Woord “is ‟n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom.
1:16). Die invloed van die Heilige Gees deur die prediking van die Woord werk
selfontdekking, beskaming, neerwerping, opbeuring, vertroosting,
verootmoediging, onderwysing, vermaning en versterking. Die inwerking van die
Heilige Gees deur die Woord in die lewens van mense, kan nie psigologies
verklaar word nie, want die Heilige Gees se werking in die verborge diepte van die
siel is onsigbaar en bly vir die mens ‟n misterie; slegs die uitwerking daarvan is
sigbaar. Die prediker sien weliswaar nie altyd die vrug van die verkondigde
Woord nie; dikwels maai ander waar deur die voorganger gesaai is.
Die doel van die prediking is drieledig van aard:
10
1.4.1. Die Opbouing van die Gemeente.
Die doel van die prediking moet wees dat dit seggenskap in die hart en in die lewe
van die gemeente moet verkry. Volgens die Heilige Skrif is die doel van die
prediking die “Oikodomé” (opbouing, stigting) van die gemeente. Stigting nie in
die sin dat die gemoed gestreel moet word nie, daarom moet dit gesien word in
die sin van die geestelike wasdom van die gemeente, die ontplooiing van alle
gawes en kragte wat in die gemeente aanwesig is, totdat dit gekom het tot die
mate van die volle grootte van die volheid van Christus (Ef. 4:13). Die gemeente is
‟n liggaam wat deur geestelike voeding van die Woord deur die amp tot volle
ontwikkeling moet kom.
1.4.2. Die Bekering van die Ongelowiges.
Die doel van die prediking moet ook wees om in die gemeente tot bekering te
bring die wat nog buite Christus staan.
1.4.3. Die Verheerliking van God.
Die oikodomé of die opbouing en stigting van die gemeente is weer ondergeskik
aan die verheerliking van God wat die einddoel van alles is. Die hoogste doel van
die bediening van die Woord gaan dus om die eer en verheerliking van die Here.
1.5. Die Subjek van die Bediening van die Woord.
In geheel en in ‟n enige sin is Christus die Subjek van die bediening van die
Woord. Voor Sy vleeswording is die profete deur die Gees bekwaam gemaak om
van Hom te spreek (1 Pet. 1:11); tydens Sy omwandeling op aarde het Hy self die
Woord verkondig en na Sy hemelvaart gebruik Hy mense wat Hyself geroep het
om die taak te vervul. In verband met die psigiese disposisie en religieus-etiese
kwaliteite van die leraars kan ons nogal een en ander in Gods Woord vind.
11
1.5.1. Psigiese Kwaliteite.
Na aanleiding van 1 Tim. 3:2 en 2 Tim. 4:5 moet die bedienaar van die Woord
voldoen aan die volgende psigiese disposisie: (a) Hy moet bekwaam wees om te
onderrig. D.w.s. om kennis en wysheid wat verwerf is, in bevatte en duidelike taal
aan ander oor te dra. (b) Hy moet selfbeheersing hê. D.w.s. waar hy hom beweeg
moet “besonnenheid” sy wandel versier; verder sluit dit ook in ‟n aangebore takt
om hom as ‟n welopgevoede mens te gedra. (c) Hy moet vriendelik wees jeens
almal en met sagmoedigheid diegene wat teenstand bied onderrig (2 Tim. 2:24,
25).
1.5.2. Religieus-etiese Kwaliteite.
Wat die religieus-etiese kwaliteite van die leraar aangaan, word dit van hom
verwag om: (a) ‟n Skrifgeleerde te wees. Saam met Paulus moet hy kan sê: “Ons
glo daarom spreek ons” (2 Kor. 4:13). Om self te kan leer moet daar tyd gevind
word vir studie en hierdie studie moet die liefde vir die Woord verdiep en dit dan
weer met opregtheid verkondig. (b) In die sfeer van die religieus-etiese lewe stel
die Skrif aan die ampsdraer hoë eise: Hy moet ‟n voorbeeld wees in godsvrug en
daarom homself oefen tot godsaligheid. Hy moet onbesproke en onberispelik
wees. (c) Die religieus-etiese kwaliteite wat in die Skrif gevra word van die leraar,
veronderstel almal dat hy ‟n wedergebore mens van God moet wees; ‟n herder
van die kudde van die Here moet self ‟n skaap van die Goeie Herder wees.
1.6. Die Stof vir die Bediening van die Woord.
Op die gebied van die gewone redeneerkuns is die keuse van die stof vir die rede
van die grootste belang. Des te meer in die prediking van die Woord. Die stof vir
die preek moet geput word uit die Skrif alleen. Dit wil nie nou sê dat die preek ‟n
aaneenryging van Bybeltekste moet wees nie; inteendeel, terwyl die preek ‟n
verklaring en toepassing van die Woord moet wees, is dit juis „n waarborg
daarteen, want sodanige gepredikte Woord moet deur die bewussyn van die
prediker opgeneem en deur die toepassing in verband gebring word met die lewe
12
van die gemeente. Die prediker mag egter ook nie die stof vir sy preke put uit die
religieuse bewussyn nie, want sodoende sou die prediking antroposentries en nie
teologies wees nie.
Om die Woord te kan preek, moet die dienaar dit in sy bewussyn opgeneem het,
sodat dit sy lewe geheel-en-al deurdring en eers dan kan hy dit verkondig as hy
dit gelowig in sy lewe opgeneem het. Naas die Skrif mag geen ander boek gestel
word as stof bron vir die prediking nie.
1.7. Verwysings.
1. Turnbull, R. G., Baker‟s Dictionary of Practical Theology (London: Marshall,
Morgan & Scott, 1968) p.1.
2. Ibid, p.5.
2. Die Uitleg van „n Preek.
„n Preek wat nie volgens ‟n vaste sketspatroon gebou is nie, neem dikwels die
vorm van ‟n sameflansing van onsamehangende en losstaande gedagtes aan. In
stede dat dit die gehoor sal bybly en daartoe meewerk dat die hoorder die preek
sal onthou, lank nadat hy dit gehoor het, vergeet hy dit byna onmiddellik nadat hy
dit gehoor het. Dit is nou so dat hoe meer metodies en ordelik „n saak gestel
word, hoe makliker verstaan en onthou die gehoor dit. Dit is immers die gedagte
agter dit alles, dat die preek solank as moontlik onthou moet word.
2.1. Beswaar teen „n Skets.
Hier en daar sal nog persone gevind word wat beswaar het teen ‟n skets omdat na
hulle mening die prediker “uit die Gees” moet preek, daarom moet hy wag totdat
die Gees oor hom vaardig word, en alleen dan kan hy „n lewende getuie vir God
wees. Daar bestaan geen twyfel omtrent hierdie opvatting dat dit op ‟n valse
veronderstelling berus nie. Die voorstanders van hierdie rigting verwar inspirasie
en illuminasie met mekaar. God het inspirasie in besondere mate geskenk aan die
buitengewone amp van profete, terwyl illuminasie geskenk word aan diegene wat
13
Sy gekodifiseerde Woord moet verkondig en verklaar. Uit die woorde van Paulus,
“Lê jou daarop toe (Engels: “ Study”) om jou beproef voor God te stel as „n
werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny”
(2 Tim. 2:15), blyk dit dat hy hom voorberei het vir die verkondiging van die
Woord. Die wêreld se grootste predikers tel onder diegene wie se raamwerk van
versugtinge en weldeurdagte voorbereiding getuig. „n Goeie raamwerk kan nooit
die oorsaak van mislukking van „n preek wees nie. Oorsake soos die fisiese
toestand van die prediker ten tye van die aflewering van sy preek; sy houding
teenoor sy onderwerp, soos sy oortuiging, sy helderheid van sy gedagtes; die
atmosfeer van die diens, is alles faktore wat kan meewerk dat die preek „n
mislukking kan wees. Terwyl ons nie die moontlikheid van mislukking kan
uitskakel nie, kan ons dit egter tot die minimum beperk deur „n goeie raamwerk
en skets te hê waarop ons die rede kan uitbou.
2.2. Waarde van „n Skets.
Die waarde van „n goeie raamwerk kan nooit oorbeklemtoon word nie, want:
2.2.1. Dit bou die Prediker se Selfvertroue.
„n Goeie raamwerk getuig van weldeurdagtheid en gee aan die prediker die
nodige selfvertroue om sy beste te lewer. Dit gee ook aan hom beslistheid van
uitspraak en helderheid van doel. Hy weet presies wat hy wil sê, hoe hy dit wil sê
en waarheen hy mik.
2.2.2. Dit help die Prediker om te onthou.
„n Duidelike skets onthef die prediker van die nodigheid om die baie – en fyner
detail van sy preek te onthou, want die einde van een gedagte of besprekingspunt
veronderstel en lei die volgende gedagte in. Sulke prediking laat meer
verstandelike krag aan die prediker toe vir die benadrukking van elke
besprekingspunt en verleen konsentrasie en lewenskragtigheid aan die
aflewering van die preek.
14
2.2.3. Dit help die luisteraar om die preek te onthou.
Gedagtes wat logies gerangskik en onder kort en eenvoudige opskrifte ingedeel
en gegroepeer is, dien as middele waardeur die hoorder die preek sal onthou.
Deur die opskrifte van die indelings van die preek te onthou, kan die hoorder alles
wat gesê is met hom saam huistoe neem. „n Duidelike raamwerk dien as „n
“mandjie” waarin die hoorder die geestelike voedsel met hom kan saam neem.
2.3. Die Struktuur.
Na alles wat ons gesê het ten opsigte van die waarde van „n goeie raamwerk, kom
die vraag tot ons: Moet die skets aan „n sekere vorm of patroon voldoen, indien
dit die geval is, wat behels daardie sketsplan? Die eksponente van homiletiek is
dit almal eens dat daar „n logiese begin, ontwikkeling of liggaam en „n slot moet
wees.
Die onderstaande patroon is die aanbevole een wat ons deurgaans by sal bly en
gebruik in die konstruksie van preke.
DIE EVANGELIE.
Lesing:
2 Tim. 2:1-13
Teks:
Rom. 1:16 – “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie,
want dit is „n krag van God tot redding vir elkeen wat glo „n ..”
Inleiding: Die doel van die preek is om „n saamgestelde oorsig van die evangelie
te gee om te sien of daar enigiets in die evangelie is waaroor ons, ons moet
skaam.
15
I. FEITE – WAT GEGLO MOET WORD
i) Dood
ii) Begrafnis 1 Kor. 15:1-3
iii) Opstanding
II. KONDISIES – WAT GEHOORSAAM MOET WORD
i) Geloof (Hand. 16:31)
ii) Bekering (Hand. 2:38)
iii) Belydenis (Rom. 10:9,10)
iv) Doop (Hand. 2:38)
III. BELOFTES – WAT GENIET MOET WORD
i) Vergifnis van sonde (Hand. 2:38)
ii) Gawe van die Heilige Gees (Hand. 2:38i)
iii) Ewige lewe (Joh. 3:16; Mark. 16:16)
Slot:
Glo u die feite?
Sal u die kondisies gehoorsaam?
Indien wel, sal u die beloftes geniet.
Dit dien om op gelet te word dat die Tema en die hoof indelings altyd in
hoofletters geskryf moet word, terwyl die Lesing, Teks, Inleiding en Slot altyd in
klein letters geskryf moet word. Alle opskrifte moet met rooi onderstreep word.
Alle direkte aanhalings uit die Skrif moet ook in rooi geskryf word. Dit alles help
en dra daartoe by om die prediker te dissiplineer om te hou by „n vasgestelde
patroon.
Na voltooiing van die skets gaan die prediker daartoe oor om die preek uit te
skryf. Volgens die sketsplan word die huis gebou en so ook met die preek.
16
Volgens die sketsplan word die preek saamgestel. Om te gou aan die preek te
begin skrywe, is nie goed nie, want die hele konstruksie moet eers skematies
gereed lê anders kan die skrywe van die preek nie vlot nie. Dit is sekerlik goed as
die hele preek uitgeskrywe word om sodoende die hele omlyning te kry. Die
volgende voordele verbonde aan die uitskrywe van die preek kan hier opgesom
word:
By die skrywe van die preek kristalliseer die gedagtes beter.
Die onderlinge verhouding van die dele kom beter tot hulle reg.
Taal en styl kan beter versorg word.
Die Aanbieding van die beheerste stof sal lewendiger en meer benadruk
wees.
Om aan hierdie eise te voldoen, sal nie maklik gaan vir „n prediker veral as
ervaring nog ontbreek. Om twee preke elke week behoorlik uit te werk en uit te
skrywe nie is tog nie gerade om die eise te verswak nie, want gaandeweg word dit
makliker. Later sal ons meer oor hierdie onderwerp uitbrei as ons die
voorbereiding van die preek bespreek.
3. Die Tema.
Die eerste aspek van die preek noem ons die tema. Die tema is vir die preek
noodsaaklik en wel om die volgende redes:
• Die preek moet „n organisme wees en gevolglik is daar een sentrale
gedagte nodig wat die hele rede beheers. „n Preek mag geen samevoeging
van onsamehangende gedagtes wee nie.
• Die tema is nodig vir die gemeente wat onder die indruk moet kom van die
een groot heilsgedagte en daarmee geestelik gevoed word. Los gedagtes
verhinder die gemeente om te konsentreer, terwyl „n sentrale gedagte dit
vergemaklik.
• Die tema is nodig ter wille van die prediker wat slegs dan „n goeie rede kan
opbou as daar een groot gedagte is wat hom van begin tot end beheers.
17
3.1. Omskrywing van „n Tema.
Die wese van die tema kan ons soos volg aandui: Dit is die noukeurige
uiteensetting of verklaring van die hoofgedagte van die teks. Met ander woorde,
dit is die kort begrip van die teks. Alfred Gibbs stel dit baie mooi vir ons: “Thus
the theme is the sermon condensed, and the sermon is the theme expanded.” (1)
Hieruit volg dat „n teks net een tema kan hê. Oor die formulering van die sentrale
gedagte is verskil moontlik en dit is selfs moontlik dat in dieselfde teks deur
verskillende predikers verskillende temas gesien kan word. Maar in abstraktum
geredeneer, is daar vir elke teks net een tema moontlik. ‟n Goed gekose teks kan
gewoonlik deur geen prediker in een preek uitgeput word nie, daarvoor is Gods
Woord te ryk.
3.2. Die onderskeid tussen „n Tema en „n Onderwerp.
Daar is „n wesenlike verskil tussen „n Onderwerp en „n Tema. „n Onderwerp dek „n
veel breër veld as „n tema. Byvoorbeeld liefde, geloof, opstanding en die
wederkoms is nie temas sonder meer nie, aangesien dit slegs begrippe is en
daaroor kan nie net een preek gemaak word nie. Sou ons die begrip “Geloof”
beperk tot “Die Krag van Geloof” en die algemene begrip “Liefde” beperk tot “Die
Offervaardigheid van Liefde”, dan het ons die onderwerp tot „n tema verander. Die
verskil tussen „n onderwerp en „n tema lê dus daarin dat „n onderwerp net „n
algemene begrip kan wees, terwyl „n tema „n spesifieke aspek van die onderwerp
bespreek.
3.3. Die keuse van „n Tema.
Daar is etlike faktore wat die keuse van „n tema kan beïnvloed:
3.3.1. Die Gemeentelike Behoeftes.
Die prediker wat die sedelike en geestelike welstand van sy gemeente op die hart
dra, sal eerstens in sy prediking die soort boodskap bring wat sy gemeente sal
help en rig in hul probleme, sowel as om hulle te sterk en te stimuleer in hul
eerbare aspirasies.
18
3.3.2. Die Prediker se Temperament.
Die optimistiese prediker sal streef om sy mense te bemoedig om in die weë van
geregtigheid te wandel ten spyte van die materialistiese druk en invloede om
hulle. Selfs hulle in die gemeente wat onverskillig staan ten opsigte van hulle
verpligtinge, sal hy met liefde aanmoedig. Andersyds sal die pessimistiese
prediker toelaat dat die omstandighede hom mismoedig en negatief stem. Hy sal
klaend en ontmoedigend sy gemeente gedurig op die sondige karakter van ons
mens wys en sy preke sal meer na sonde en wêreldsgesindheid verwys as wat hy
hulle sal bemoedig en aanspoor tot „n oorwinnende lewe in Christus.
3.3.3. Die Prediker se Ondervinding.
Predikers is soms geneig om te veel na hul ondervindings van die verlede te
verwys. Alhoewel ons vorige ondervindings die basis is vir die vertolking van die
teenswoordige, moet ons versigtig wees om die elemente wat ons hoop en
blydskap afplat, te onderdruk.
3.3.4. Die Prediker se Konsep van die Woord.
As „n prediker se siening van die Bybel sodanig is dat hy dit as gesaghebbend en
as die Woord van God beskou, sal sy temas gloei met vertroue, versekering en
hoop. Hy sal sy temas met „n positiewe eerder as „n filosofiese uitkyk kies. Hy sal
sy tema met beslistheid en oortuiging bring sonder om enige verskonings aan te
voer. As „n prediker nie weet wat hy glo nie, sal hy temas soek vir bespreking wat
nie direk in verband met die Skrif staan nie.
3.4. Die Eienskappe van „n goeie Tema.
Is daar enige prinsiepe wat ons kan toepas om te bepaal of „n tema aanvaarbaar
sal wees?
Die eienskappe van „n goeie tema kan ons soos volg kortliks aandui:
• Dit moet „n lewendige belangstelling inhou. Met ander woorde, dit moet
noue verwantskap met die lewe hê. Alle ernstige oorwegings van die mens
se verhouding tot die heelal waarin hy hom bevind, is verwant aan die
19
probleme van lewe, dood, onsedelikheid, sonde en heiligheid. Hierdie is
almal onderwerpe wat nooit verouderd raak nie; dit moet net weer in „n
nuwe en lewendige manier gestel word, sodat dit die hoorder kan
interesseer.
• „n Goeie tema moet ook „n duidelike doel voor oë hê; daar moet „n duidelike
verklaring wees van die besondere waarheid wat die prediker wil tuisbring.
Die doel van elke preek behoort in een sin gestel te kan word. As dit nie
gedoen kan word nie, praat die prediker of in die algemeen of dit is „n teken
dat hy nie sy onderwerp goed deurdink het nie. Dit maak nie saak wat die
okkasie of die onderwerp van bespreking is nie, die prediker moet altyd „n
duidelike doel voor oë hê wat hy wil bereik, of hy dit aan die gemeente stel
of nie.
• „n Verdere karaktertrek van „n goeie tema is dat dit positief moet wees. Deur
die tema van jou preek aan te kondig as, “Bestaan God”, “Het Jesus uit die
Dood opgestaan?”, “Is die Bybel Geïnspireerd?” of “Het die Kerk Gefaal?”,
skep die prediker duidelik „n atmosfeer van twyfel by sy gehoor. Die mense
verwag dat die Christelike waarhede in die kansel verdedig sal word.
Derhalwe sou dit baie beter wees om „n positiewe verklaring oor die
onderwerp te maak deur byvoorbeeld te sê, “Redes Waarom ons in God
Glo”, “Bewyse vir die Opstanding”, “Hoekom Ek in die Bybel Glo” of “Die
Triomf van die Kerk.” Die wêreld verlang „n positiewe boodskap van uit die
kansel; mense het genoeg vertwyfelings van hul eie.
• Die tema moet kort en bondig wees, sodat dit maklik in die geheue van die
hoorders kan bly voortleef.
• Die tema moet helder en duidelik wees, sodat die gemeente dit kan
verstaan en geestelik absorbeer.
Die tema behoort aan die gemeente meegedeel te word met die aanvang van die
rede, sodat die prediker en die hoorders weet wat die hoofgedagte is en waarom
dit alles gaan.
20
3.5. Die metode van die daarstel van die Tema.
Daar is twee maniere hoe om „n tema aan die gemeente mee te deel, naamlik die
logiese en die retoriese metodes.
3.5.1. Die Logiese Metode.
Met die logiese metode bedoel ons die uitdrukking van „n volledige gedagte, wat
beteken dat „n werkwoord in die sin vervat is. Byvoorbeeld, “Die Nuwe Geboorte
is Essensieel om die Koninkryk van God te Beërwe.” In die logiese verklaring van
die tema word die volledige gedagte van die teks beknop gestel. Die voordeel van
hierdie metode is dat dit die prediker help om nie van een tema na „n ander af te
dwaal nie en dat die hoorders presies weet waarom die preek gaan.
3.5.2. Die Retoriese Metode.
Met hierdie metode bedoel ons meedeel van die tema aan die gehoor in die vorm
van „n sinsdeel of frase. Dit is „n groep wat nie „n volledige gedagte uitdruk nie.
Byvoorbeeld, “Gods Gawe”, “Die Wedergeboorte” ens. Die voordeel van hierdie
metode is dat dit kort en bondig is, en maklik deur die gehoor onthou kan word.
Beide die metodes om die tema aan te kondig, is goed. Tog sou dit beter vir die
prediker se verstandelike dissipline wees, as hy die tema in sy logiese vorm in sy
studeerkamer stel, terwyl dit vir die gehoor beter is om dit retories te hoor.
3.6. Verwysings.
1. Gibbs, A. P., Preach the Word, Emmaus Correspondence School, p. 6/1.
4. Die Teks.
Die gedeelte van die Heilige Skrif wat in die preek verklaar en toegepas word, heet
die “teks”. Die woord “teks” is afgelei van die Latynse woord “textus” wat weer
afgelei word van “texere” (“om te weef”, en dit dui „n samehangende geheel aan
of te wel „n gedagte kompleks wat „n eenheid vorm waarvan die een deel met die
ander saamgeweef is.
21
Die teks kan „n enkele vers, „n gedeelte van „n vers of „n gedeelte van die Skrif
bestaande uit etlike verse, wees. Die teks dien dan as die fondament waarop ons
die preek bou. Die primêre doel van prediking is om die Woord van God te
verklaar wat weer die hoorder indoktrineer.
4.1. Die noodsaaklikheid van „n Teks.
Die redes en voordele waarom ons „n teks uit die Skrif gebruik, kan ons soos volg
stel:
4.1.1. Dit verleen Gesag aan die Preek.
Die Bybel word erken as die bron van waarheid, en gee „n aanhaling uit die Skrif
dan gesag aan die preek. Wanneer „n prediker sy eie verduidelikings van
waarheid gee, sonder „n Skrif basis, voel ons geregverdig om dit aan te neem of
om dit te verwerp, soos ons met enige ander spreker sou doen.
4.1.2. Dit Beperk die Prediker tot sy Tema.
Die keuse van „n teks is nodig om te voorkom dat „n prediker oor sy eie ervaring
of iets dergeliks preek. Dit wil sê, die prediker preek die “Christen” en nie die
“Christus” nie.
4.1.3. Dit bind die Preek tot „n Eenheid.
Gevolglik is dit te verstaan dat „n teks eenheid aan „n preek verleen. Die teks se
hoofgedagte is en bly die tema van die hele preek. Die prediker moet sorg dra dat
die waarheid van die teks in elke indeling van die preek gehoor word.
4.1.4. Dit Werk Verskeidenheid in die Hand.
Omdat daar soveel tekste is en elkeen met sy eie hoofgedagte, verleen dit „n
groot keuse van temas aan die prediker om van te kies.
4.1.5. Dit maak die hoorder bekend met die Skrif
Een van die grootste voordele van almal is dat die gebruik van „n teks die
hoorders vertroud met die Skrif maak. Namate ons die gehoor met die Woord van
22
God voed, word “die woord van die kruis die krag van God” (2 Kor. 1:18) in hul
lewens.
4.2. Die keuse van die Teks.
Daar is verskeie beginsels wat die keuse van „n teks bepaal:
4.2.1. Maak seker dat die sentiment van die Teks geïnspireerd is.
Nie elke willekeurig gekose gedeelte uit die Skrif kan as teks diens doen nie. Die
prediker mag slegs „n sodanige gedeelte van die Skrif tot teks neem, dat sy
verklaring en toepassing inderdaad „n bediening van die Woord van God is. Die
hele Skrif is in formaat wel die Woord van God, maar dit wil sê nie dat elke volsin
kan deurgaan as Woord van God nie. Daar kom woorde van mense voor (Pred.
9:1-6) en selfs van duiwels en hulle kan nie los van alle verband geneem word en
as Woorde van God bestempel word nie. Daarom is die eis dat die teks gekies
moet word in die verband met die hele Skrif en in die regte perspektief besien
word. Byvoorbeeld „n teks soos Gen. 3:15, “jy sal soos God wees”, sonder enige
verband is ongeoorloof. Alhoewel die rekord van dié woorde (Satan se woorde)
geïnspireerd is, is die sentiment of inhoud daarvan beslis „n leuen.
4.2.2. Kies „n Teks wat die hele gedagte insluit.
So „n teks is een wat noodwendig oor „n werkwoord beskik. So sal „n gedagte
soos byvoorbeeld “Die liefde van God” wel as „n tema gebruik kan word, maar
beslis nie as „n teks nie, omdat dit „n blote frase sonder „n gedagte of boodskap
is.
4.2.3. Vermy Tekste waarvan die betekenis onduidelik is.
Tekste waarvan die inhoud te moeilik is vir die prediker om aan die gehoor oor te
dra, moet liefs vermy word. Geen prediker kan „n sukses van sy preek maak as hy
self nie weet waarom dit nou eintlik gaan nie.
23
4.2.4. Kies Tekste wat jou aangryp.
Die prediker moet alleen die tekste kies wat hom aangryp. Na gelang die prediker
die Skrif navors, sal sekere tekste hom meer beïndruk as ander, dit is dié tekste
waarop hy moet konsentreer.
4.2.5. Die Tipe gehoor sal ook in die keuse van die Teks beïnvloed.
Die aard van die gehoor is ook „n bydraende faktor in die teks keuse. Die objek
van die bediening van die Woord moet altyd die gemeente wees; sy geestelike
peil en behoeftes asook die omstandighede wat daar in die gemeente heers. „n
Teks mag nooit gekies word met die doel om „n enkel persoon uit te trap nie.
Bepaalde geleenthede soos in evangelistiese diens, kinderdiens, begrafnisdiens
en so meer moet noodwendig die teks keuse beïnvloed.
4.3. Die Verklaring van die Teks.
Die verklaring van die teks is ongetwyfeld die mees belangrikste aspek van die
preek. Sou die teks verkeerdelik geïnterpreteer word, sal die hele preek nie net „n
mislukking wees nie, maar „n geestelike bedreiging vir die gehoor inhou.
Die interpretasie van die teks is „n proses waardeur die prediker die gedagte van
die skrywer bepaal. Met ander woorde, wat het die skrywer bedoel om mee te deel
toe hy onder inspirasie die woorde neergepen het? As die juiste bedoeling van
die skrywer vasgestel is, het ons die verklaring en betekenis ontdek. Dit is so dat
„n preek se konstruksie korrek kan wees, maar dat die verklaring van die teks
verkeerd kan wees. Daarom is die eksegese en eksposisie van die Skrif so
belangrik. Eksegese verwys na die ontdekking van die materiaal, terwyl
eksposisie die uitstalling is van die ontdekte materiaal. “Exegesis draws out the
hidden meaning; exposition places that meaning out in logical, appropriate and
effective order. Exegesis is the task of the commentator; exposition is the task of
the preacher” (1)
Daar is dan ook etlike beginsels wat gehandhaaf moet word om die prediker in
staat te stel om die teks korrek en juis te verklaar in sy preek:
24
4.3.1. Die Teks moet verklaar word in konteks
Dit wil sê, die Skrifgedeeltes wat die teks voorafgaan en wat op die teks volg,
moet goed bestudeer en in gedagte geneem word. In die lig hiervan kan die ware
betekenis van die teks bepaal word.
4.3.2. Die Teks moet verklaar word in sy taal.
Die Skrifte kan nie teologies begryp word, tensy dit nie grammatikaal verstaan
word nie. Daar moet op die naamwoorde, selfstandige naamwoorde, werkwoorde,
byvoeglike naamwoorde, ens., sowel as op die tye soos die verlede tyd,
teenwoordige tyd en toekomende tyd gelet word. Die sin konstruksie moet
bestudeer word en die woordbetekenisse moet bepaal word. Hier kan van Young
se Konkordansie en van V.E. Vine se “Expository Dictionary of New Testament
Words” gebruik gemaak word.
4.3.3. Die Teks moet verklaar word in die lig van die Kultuur, Geskiedenis en
Geografie van daardie tyd.
Die verklaring van die teks moet saamval met die Bybelse geskiedenis,
gewoontes en geografiese omstandighede. Byvoorbeeld: “Here, laat my toe om
eers my vader te gaan begrawe . . . ” (Luk. 9:59). Hierdie was „n algemene
gesegde in die tyd van Christus. Dit het nie beteken dat die persoon se vader
oorlede of sterwend is nie, maar dat hy Christus se roeping om Hom te volg, wou
afstel vir „n later dag na sy vader se afsterwe.
4.3.4. Die Teks moet verklaar word in die Lig van die res van die Bybel.
Geen leerstelling kan op „n enkele teks gebaseer word nie. Dit moet die
ondersteuning van al die ander tekste wat op die onderwerp betrekking het,
berus. Dit is presies wat Petrus bedoel het toe hy geskrywe het: “dat geen
profesie van die Skrif „n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:20). Byna al die
valse leerstellings het so tot stand gekom. Alhoewel hulle almal skynbaar
Skriftuurlike ondersteuning vir hulle leerstellings het, kan die egtheid alleen
getoets word deur dit met al die aanverwante tekste te vergelyk.
25
Die geestelike moet met die geestelike vergelyk word (1 Kor. 2:12-14). Die Bybel is
nie „n samestelling van geïsoleerde tekste nie, maar is „n organiese eenheid.
Daarom is die beste kommentaar oor die Bybel, die Bybel self. Die vermaarde
Campbell Morgan het eenkeer gesê: “More and more, as I get older, and go on
preaching, I find that if I take a text, I need the whole Bible to explain it” (2)
4.3.5. Die Teks moet verklaar word in die lig van die spesifieke bedeling.
Met die begrip “Bedeling” of “Dispensasie” word bedoel die basis waarop God
met die mensdom of „n deel daarvan in die verskillende periodes van die
geskiedenis gedeel het. Dr. Schofield definer „n bedeling as “A period of time
during which man is tested in respect of obedience to some specific revelation of
the will of God” (3) Die prediker moet “die woord van die waarheid reg sny” (2
Tim. 2:15), of anders is algehele verwarring die gevolg. Hy moet kan weet waar hy
staan in verhouding met die huidige program van God, wat nie een is om die
wêreld te red nie, maar om vir Hom „n volk uit die heidene vir Sy naam te
versamel (Hand. 15:14; Joh. 10:14-16)
Die prediker moet kan onderskei tussen wet en genade (Joh. 1:17; Gal. 2:16);
tussen Jood, Heiden en die Kerk van God (1 Kor. 10:32); tussen die gawe van
saligheid en die werke (Ef. 2:8, 9; 1 Kor. 3:10-15) en tussen al die verskillende
opstandings en oordele.
4.4. Verwysings.
1. Gibbs, A. P., The Preacher and His Preaching (Kansas City: Walterick
Publishers, 1964) p.169.
2. Ibid p.177.
3. Ibid p.181 .
26
5. Die Inleiding van die Preek.
By die bediening van die Woord in die vorm van „n rede is „n inleiding
noodsaaklik. Die inleiding met die tema voorstel en die gehoor so voorberei dat
hulle na die hoofgedagte van die preek sal luister.
5.1. Die Doel van die Inleiding.
Daar is twee doelstellings voor oë met die inleiding: 5.1.1. Dit moet treffend wees.
In die inleiding moet uitgegaan word van die meer bekende tot die minder
bekende en dus so die hoorders voor te berei vir wat moet kom.
Dit is makliker om die aandag van die gehoor aan die begin van die preek te kry
as in enige ander stadium van die preek. Sielkundig moet dit so wees, want die
gedagtes van die gehoor is op die stadium nog nie deur enigiets geabsorbeer of
in enige bepeinsing vasgevang nie. As die prediker kan slaag om in die eerste vyf
minute die aandag van sy gehoor te verseker, is hy redelik verseker dat sy gehoor
met hom verder sal gaan.
Daar is „n tegniek wat sommige predikers met groot effek aanwend. Sodra hy
moet begin praat, kyk hy eers oor die gemeente, kalm en doelgerig, sonder om
hulle aan te staar. Dit skep „n oomblik van afwagting by die gehoor, “Wanneer
gaan hy nou begin?” Dit is die sielkundige oomblik om dan ook te begin.
5.1.2. Dit moet belangstelling uitlok.
In die ware sin van die woord is die doel van die inleiding om die tema voor te stel
en in te lei. Die eerste stap hiertoe is om die gehoor geïnteresseerd te kry in wat
gesê gaan word.
Die prediker moet seker maak dat sy aanvangs woorde die gedagtes van die
gehoor aangryp. Hulle moet in hulle hart kan sê, “Gaan aan! Gaan aan!” Figgis
het eenmaal oor die teks gepreek: “The Lord sitteth upon the flood; yea, the Lord
sitteth King for ever” (Ps. 29:10) en begin met een intense vraag: “Does He? Does
He?” Dit was genoeg om die belangstelling van die gehoor te prikkel. Sparhawk
27
Jones het eenkeer oor 2 Kon. 8:13 gepreek: “Is thy servant a dog, that he should
do this thing?” Na oomblik se pouse het hy kragtig begin: “Dog or no dog, he did
it !” Die gehoor moet voel dat jy iets belangrik het om aan hulle mee te deel,
derhalwe kan jy nie „n woord vermors nie.
5.2. Die voorbereiding van die Inleiding.
Daar is drie metodes wat ons kan aanwend om „n inleiding voor te berei.
5.2.1. Die Verduidelikingsmetode.
Ons kan gewoonlik „n beginpunt kry deur die teks in sy verband met die konteks
te toon en te verduidelik. Dit mag gedoen word deur die verhouding van die teks
met die boek of hoofstuk waarin dit voorkom, aan te dui. „n Teks mag ook
verduidelik word sonder vermelding van die verband met die boek of hoofstuk.
Sulke tekste vind ons gewoonlik in die Psalms en die Spreuke waar „n aantal
grondstellings versamel is, sonder dat dit enige verwantskap met mekaar het.
Hierdie tekste kan uitgelig word en afsonderlik van die verband verduidelik word.
Die soort tekste gryp gewoonlik aan as gevolg van die inherente waarheid of
vanweë die besondere sentiment wat ons graag wil aksentueer.
5.2.2. Die Voorstellingsmetode
Met die metode bedoel ons om die voorgestelde onderwerp in die teks in verband
te bring met die belange van die gehoor as „n geheel. Met ander woorde, ons toon
die betekenis van die teks as van toepassing op ons eie lewens. Mense is altyd
geïnteresseerd in kontemporêre gebeure en hul verhouding tot daardie situasies.
5.2.3. Die Verklaringsmetode.
Die derde metode is om die doel voor oë met die preek aan die gehoor te stel.
Elke preek moet „n doelstelling hê. Die doelstelling behoort altyd duidelik aan die
gehoor gestel word, sodat beide die spreker sowel as die gehoor presies sal weet
waarom die preek nou eintlik gaan. Die ontwikkeling van die preek sal dan die
verklaring as waar bewys.
28
5.3. Die Verskeidenheid faktor.
Daar is sekere middele wat aangewend kan word om variëteit aan die inleiding te
gee. Wanneer „n prediker week na week voor sy gemeente staan, word hulle gou
gewoond aan sy persoonlikheid en algemene siening van die lewe. Dit in sigself
maak dit baie moeiliker vir die pastoor om die aandag van sy gehoor te kry en te
hou, tensy hy nie variëteit in sy Inleiding aanbring nie. Sonder om sensasioneel te
wees, behoort die eerste of inleidende sinne, so ver moontlik, „n verrassing in te
hou. Geen deel van die preek verleen hom tot groter veld van oorspronklikheid as
juis die Inleiding nie.
Persoonlike wedervarings kan gebruik word; dit is altyd interessant, maar dan
moet daar beslis teen gewaak word dat dit nie die spreker verheerlik nie.
Onmiddellike gebeure om ons kan met groot sukses aangewend word as „n
inleiding tot eie preek, want almal het moontlik daarvan in die koerante gelees en
is onmiddellik geïnteresseerd om meer daarvan te hoor. „n Kort illustrasie,
verhaaltjie of „n aanhaling uit „n gedig, is almal dinge wat met groot sukses
aangewend kan word as die Inleiding.
5.4. Die Skrywe van die Inleiding.
Onwillekeurig kom die vraag tot ons of ons die Inleiding voor die ontwikkeling
van die tema of daarna moet skryf. Met die Inleiding van die preek kan eers „n
begin gemaak word as die eksegetiese arbeid klaar is, die tema vasgestel, en die
verdeling gevind is en as die preek, verklaring sowel as die toepassing deurdink
is. Dan eers kan „n toepaslike Inleiding en Slot oorweeg word.
6. Die Hoofindelings.
Die verdeling van die preek vloei voort uit die beginsel van orde wat in die
bediening van die Woord sy toepassing moet vind (1 Kor. 14:33, 40). In „n preek
mag geen verwarring heers nie, veral aangesien Gods Woord ons daarin
voorgaan dat alles ordelik moet geskied, omdat God „n God van orde is. As „n
preek waarlik „n organiese geheel moet wees, moet die teks gedagtes so
29
gegroepeer word dat hulle in goeie orde ten opsigte van mekaar en van die tema
te staan kom. Verder is die verdeling nodig vir die hoorders om daardeur die
inhoud makliker te kan verstaan en in die geheue op te neem.
Die verdeling of bespreking van die preek is natuurlik die belangrikste deel van
die preek, want dit bring die waarheid vervat in die teks na vore. Derhalwe is dit
die mees belangrikste deel van die preek.
6.1. Die waarde van Indelings.
Deur te begin werk aan enige besondere tema, is die eerste stap wat geneem
moet word, om eers al die materiaal bymekaar te kry. Skryf die gedagtes soos dit
by jou opkom neer; nadat jy genoegsame feite bymekaar gemaak het, kan jy tot
die groepering daarvan oorgaan. Die klassifisering en groepering daarvan moet
wees tot die uitbouing van die tema. Die waarde van logies gegroepeerde
indelings is dat:
6.1.1. Dit verbeter die verstaanbaarheid van die gedagte.
Ordelike rangskikking van gedagtes verwant aan mekaar en aan die tema maak „n
duidelike eenheid uit. Dit help die prediker om nie rond te dwaal in sy gedagtes
nie.
6.1.2. Dit verhoog die waarde van die Preek vir die toehoorder.
Vir dit wat gesê is om van blywende waarde vir die hoorder te wees, moet die
indelings spesifiek en duidelik genoem word. Dit is ook van belang om, wanneer
„n nuwe indeling van die preek begin word, dit met die vorige een te koppel, sodat
die progressiewe aard van die rede duidelik kan wees.
6.1.3. Dit Help die toehoorder om te onthou.
Die menslike denke vereis instinkmatiglik orde en verwerp chaos. „n Ordelik
gerangskikte preek kan baie makliker en ook veel langer onthou word as een wat
uit los saamgeflanste gedagtes bestaan. Die hele gedagte is tog dat die hoorder
die waarheid so lank as moontlik moet onthou om dit in sy lewe te kan toepas.
30
6.1.4. Dit fassineer die toehoorder.
Die metodiese en sistematiese redenaar sal sy gehoor nie alleen boei nie, maar
ook beïndruk en beïnvloed om weer na hom te kom luister. Dié mense word dan
ook die prediker se beste adverteerders wat ander mense nooi en saam te neem
om na hom te luister. So „n prediker sal altyd „n goeie gehoor hê om voor te
preek.
6.2. Die konstruksie van verskillende Afdelings.
Neem Rom. 3:9-20 as „n voorbeeld. Lees dit ten minste ses keer deur. Let nou op
in verse 9-12 is die gedagte dat almal gesondig het; in verse 13-18 is die tema hoe
almal gesondig het; en in verse 19 en 20 gaan dit om die gevolge van sonde.
6.2.1. DIE OMVANG VAN DIE MENS SE SONDE. Rom. 3:9-12
6.2.2. DIE AARD VAN DIE MENS SE SONDE. Rom. 3:13-18
6.2.3. DIE GEVOLGE VAN DIE MENS SE SONDE. Rom. 3:19,20
Nou moet ons hierdie drie hoof indelings ontwikkel.
In verse 9-10 verneem ons dat “niemand regverdig is nie” in vers 11 dat daar
“niemand is wat verstandig is nie” en dat daar “niemand is wat God soek nie.”
Vers 12 stel dit dat daar “niemand is wat goed doen nie.”
6.2.4. DIE OMVANG VAN DIE MENS SE SONDE (9-12).
1. Die Sondige Mens is Ongeregtig (9-10)
2. Die Sondige Mens is Onverstandig (11)
3. Die Sondige Mens is Onverskillig (11)
4. Die Sondige Mens is Onvrugbaar (12)
Neem nou die tweede hoof indeling en doen dieselfde as in die eerste een.
‟n Noukeurige bestudering van verse 13-18 toon dat verse 13-14 van slegte
31
woorde praat – vers 13 stel dit dat die sondaar se spraak die gemeenheid van die
graf en die giftigheid van „n adder het. Vers 14 gee te kenne dat dit woorde van
vervloeking en bitterheid is. Verse 15-18 het te make met die sondaar se
goddelose weë. Kyk ons na die vier verse, merk ons dat die sondaar se weë
gekenmerk word deur moord (15); ellende (16,17) en muitery (18).
6.2.5. DIE AARD VAN DIE MENS SE SONDE (13-18).
1. Die Sondige Mens se Woorde (13-14)
i) Word Gekenmerk deur die Gemeenheid van die Graf (13)
ii) Word Gekenmerk deur die Giftigheid van „n Adder (13)
iii) Word Gekenmerk deur die Bitterheid en Vervloeking (14)
2. Die Sondige Mens se Weë (15-18)
i) Word Gekenmerk deur Moord (15)
ii) Word Gekenmerk deur Ellende (16,17)
iii) Word Gekenmerk deur Muitery (18)
Die laaste hoof indeling bevat verse 19 en 20 en het as onderwerp die gevolge
van die mens se sonde. „n Beskouing van die twee tekste bring ten eerste aan die
lig die sondaar se hulpeloosheid (19) asook sy hopeloosheid
(20)
6.2.6. DIE GEVOLGE VAN DIE MENS SE SONDE.
1. Die Sondige Mens se Hulpelose Toestand (19)
2. Die Sondige Mens se Hopelose Toestand (20)
Deur eers die passasie as „n geheel te neem en dan „n seksie op „n keer, kom ons
tot „n sinvolle en metodiese analise en raamwerk.
„n Belangrike vraag is, sal ons, nadat daar besluit is oor die tema, begin met die
32
konstruksie van die sketsplan of moet ons eers die materiaal versamel en dan die
raamwerk opstel? Somtyds, as ons genoegsame kennis van die onderwerp het
wat ons wil ontwikkel, kanons begin om die raamwerk op te stel. Daarna, soos
ons in ons voorbeeld hierbo gedoen het, kan ons die stof soek om die gedagtes
uit te bou. Die ander metode is om eers die materiaal te versamel alvorens „n
poging tot die konstruksie van die raamwerk aangewend word.
6.3. Die kenmerke van goeie Indelings.
Nadat oor die tema besluit is, die doel bepaal en die stof versamel is, is daar
sekere prinsiepe wat in ag geneem moet word met die rangskikking en
daarstelling van die indelings.
6.3.1. Dit moet skakel met die Tema.
Elke indeling moet „n direkte verwante aspek van die tema en doel bekendstel.
Met ander woorde elke hoof indeling van die preek moet een trap wees in die
bepaling en bekendmaking van die waarheid van die doel van die preek.
6.3.2. Dit moet „n logiese ontwikkeling van Gedagte hê.
Die eerste indeling moet die bespreking begin en voer tot waar die besondere
fase van die tema onder hierdie hoof indeling gedek is. Waar die eerste hoof
indeling eindig, daar moet die tweede hoof indeling weer begin en die gedagte
verder ontplooi sonder om iets onder die vorige indeling hier te herhaal. So moet
elke hoof indeling die gedagte nader aan die voorgenome doel bring.
6.3.3. Dit moet kort en bondig aangebied wees.
Eenvoud in styl is altyd „n retoriese deug, en in geen vorm van literatuur of
spraak is dit van groter waarde as juis in die konstruksie van „n raamwerk nie.
Ons doel is tog immers dat die gehoor die preek se ontplooiing moet volg en bo-
alles dat hulle die preek sal onthou. Kort retoriese indelings kan veel makliker
onthou word as die langer logiese stel daarvan.
33
Byvoorbeeld, „n tekstuele preek oor die tema van “Die Opstandings lewe” word
vir ons in Kol. 3:1, 2 soos volg voorgebou:
I. „n UITDAGING “As julle dan saam met Christus opgewek is”
II. „n BEVEL “Soek die dinge daarbo waar Christus is”
III. „n KONTRAS “Nie wat op die aarde is nie”
Die hoof indelings moet in Romeinse syfers I, II, III ens. aangedui word. Die
onderafdelings in Arabiese syfers 1, 2, 3 ens. Indelings van hierdie
onderafdelings moet in Arabiese syfers in hakies aangetoon word (1), (2),
(3) ens. Verdere onderafdeling hiervan word in klein letters in hakies aangedui (a),
(b), (c) ens.
6.3.4. Dit moet logies uiteengesit wees.
Die negatiewe aspek moet altyd die positiewe voorafgaan, die abstrakte moet
altyd voor die konkrete, die oortuiging voor die uitnodiging en die valse voor die
waarheid gestel word.
6.4. Die Aantal Indelings.
Hoe meer indelings daar is, hoe moeiliker is dit om hulle in „n logiese volgorde te
laat volg en hoe minder sal die gehoor dit kan onthou.
6.4.1. Die Tema bepaal die Aantal.
Gewoonlik is daar drie tot vier hoof indelings in „n preek, maar dit word altyd deur
die tema self bepaal. Met ander woorde die voltooiing van die tema bepaal die
aantal indelings.
6.4.2. Die aantal in preke word gebaseer op teenstellings.
Daar is „n soort preek wat net twee indelings verg en dit is die een wat gebaseer
is op tekste waar twee feite teenoor mekaar gestel word, bv. 2 Kor. 4:18 – “Die
Sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
34
6.4.3. Preke gebaseer op verhale.
Elke verhaal wat ons uit die Skrif neem, en dit is in sonder van toepassing op die
Evangelies en die boek Handelinge, het drie divisies: Die geleentheid, die
gebeurlikheid en die gevolg. Neem as voorbeeld die verhaal van die ryk jongman
in Mark. 10:17-31. Die verdeling kan soos volg geskied:
I. DIE ONTMOETING,
II. DIE GESPREK en
III. DIE UITSLAG.
Indien dit egter verlang word, kan die indelings so gestel word dat dit meer direk
die karakter van elke indeling weerspieël, bv.
I. DIE GELUKKIGE ONTMOETING,
II. DIE INTERESSANTE GESPREK en
III. DIE TREURIGE GEVOLG.
6.4.4. Preke gebaseer slegs op Teks.
Daar is die tekstuele metode waar die dele van die teks self die basis van die
indelings uitmaak. Bv. Kol. 2:6 – Die teks lees: “Soos julle dan Christus Jesus, die
Here, aangeneem het, wandel so in Hom.”
I. DIE FEIT GESTEL.
Julle wat “dan Christus Jesus, die Here aangeneem het.”
II. DIE RAAD GEGEE. “Wandel so in
Hom.”
III. DIE MODEL VOORGEHOU.
“Soos julle „n . . . die Here aangeneem het”
35
Opsommend kan ons sê dat in die volstrekte onderworpenheid aan die teks moet
die verdeling so gemaak word dat die preek as “rede” vlot en die ontwikkeling
van die teks gedagtes voortgaan van die laer na die hoëre. Die preek moet soos „n
stroom wees wat as gevolg van die feit dat daar altyd meer stroompies inloop,
vinniger vloei. Sonder om die teks te benadeel, moet daar styging, progressie en
klimaks in die rede wees, waardeur die belangstelling van die hoorders geprikkel
word.
7. Die Slot.
By „n preek, as bediening van Gods Wood in die vorm van „n rede, is ook „n Slot
nodig. Die Slot is die sluitstuk van die rede as kunswerk en gee daaraan die
nodige afronding. Alhoewel somtyds na die Slot verwys word as die toepassing,
is die Slot nie identies met die toepassing nie. Die toepassing is „n integrerende
deel van die liggaam van die preek.
7.1. Die Behoefte aan „n goed voorbereide Slot.
Daar behoort versigtigheid aan die dag gelê te word wanneer dit kom by die
voorbereiding van die Slot. Die belangrikheid en effek van die laaste vyf minute
van die preek is buite alle verhouding met die tyd wat aan die voorafgaande
twintig minute van die preek gewy is. Neem aan dat die kwaliteit van die inhoud
van die preek die eerste twintig minute of meer wat dit duur, swak is, maar die
laaste vyf minute van die Slot is interessant en aangrypend dan sal die gehoor die
diens verlaat en sê dat dit „n goeie preek was. „n Swak Slot daarenteen, sal altyd
„n goeie preek laat sleg lyk. Dit is daardie laaste paar oomblikke van die preek wat
die gehoor bybly en wat hulle tot oortuiging bring.
7.2. „n Effektiewe Slot.
Onder hierdie opskrif let ons op drie besondere metodes wat aangewend kan
word om die Slot effektief te maak.
36
7.2.1. Rekapitulasie.
Die hoof indelings en hulle ontwikkeling voltooi die tema onder bespreking. Die
Slot andersyds is die deel van die preek waar die teks inhoud gerekapituleer
word; waaronder verstaan word dat die hoofgedagte van die preek nog eenmaal
na vore gebring en betrag word in die lig van die hoofpunte van die preek. Die
metode bring in „n paar sinne alles wat gesê is tot die gehoor, en so kan die
hoorder die ontplooiing van die preek stap vir stap volg en „n kykie kry in die
kulminerende effek van die hele diskoers. Kort en saaklik word dan meegedeel
wat die Here in die teks spreek tot sy volk.
7.2.2. Illustrasie.
Hierdie metode het by uitstek drie voordele:
Deur die Slot in die vorm van „n verhaal of staaltjie aan te bied, hou die
spreker gewoonlik die gehoor se aandag, en wel op die plek in sy preek waar
dit die meeste verlang word.
In die tweede plek, is die Slot die plek waar „n emosionele hoogtepunt
benodig word. „n Illustrasie maak „n meer direkte en effektiewe beroep op die
emosies as enige ander metode van aanbieding van „n waarheid.
Ten laaste is die Slot ontwerp om te aktiveer, en die uitnodiging en beroep
wat deur die illustrasie op die gehoor gemaak word, is die mees kragtigste
metode van almal en wel vanweë die emosionele waarde wat dit skep.
7.2.3. Geskikte Aanhalings.
Sulke aanhalings behoort uit die hoof gekwoteer te word. Om aan die einde van
die preek uit die manuskrip voor te lees, is altyd swak. Geskikte aanhalings uit
gekose liedere en uit ander geskrifte bring die boodskap altyd tot „n aangename
en effektiewe einde.
37
7.3. Algemene opmerkings omtrent die Slot..
By die samestellings van die Slot moet die volgende in gedagte gehou word:
• Die Slot mag geen nuwe gedagtes invoer in die preek nie.
• Dit moet kort wees om te imponeer.
• Dit moet die hoofgedagte of tema met nadruk by die hoorders tuisbring.
• Dit moet nie kunsmatig wees nie. In die Slot word die begeerte en verlange
van die prediker aanskou en aangevoel. Hier spreek hy tot sy gehoor soos
hy werklik oor sy tema of onderwerp voel. Hier moet egter gewaak word dat
hy nie sy gehoor bloot emosioneel opsweep nie. „n Blote emosionele
resultaat is nie „n blywende een nie, want dit gaan nie om wat die prediker
doen nie, maar wat die Heilige Gees in die hart verwek wat eg en blywend
sal wees.
8. Die Voorbereiding van „n Preek.
Ons het tot dusvêr die nodigheid vir prediking en die preek struktuur bespreek.
Nou kom ons tot die baie belangrike saak van die voorbereiding van die preek
self. „n Persoon leer nie normaalweg eers die teorie van homiletiek om dan te
preek nie: teorie en praktyk gaan hand aan hand. Alleenlik as ek die teorie
begryp, sal ek verstaan waarom ek sekere dinge op „n sekere manier doen. Die
vraag van belang is egter, hoe berei ek „n preek voor?
8.1. Indirekte Voorbereiding.
Indirekte voorbereiding gaan om die normale Christen lewe, naamlik:
8.1.1 Die Prediker se daaglikse Gebedslewe.
Hy moet daagliks op die Here in gebed en bepeinsing wag. Na gelang hiervan sal
daar „n reaksie op sy gebede en meditasie wees. Die inwonende Gees van God,
wie se behae dit is om ons in die waarheid van God te lei (Joh. 16:13,14), sal
sekere tekste en onderwerpe tot ons gedagtes tuisbring. Hierdie is dan die teks of
tema waaroor gepreek moet word.
38
8.1.2. Die Prediker se daaglikse Lewe.
Die prediker se daaglikse lewenservaring is nie maar net „n blote opeenvolging
van gebeure nie. Hy word deur God meegedeel in die daaglikse gebeure van sy
lewe. Dié gebeure het dus betekenis. Die prediker sien en interpreteer dit, soek na
die verskuilde betekenis daarin en leer so God se wil met hom. Sangster som die
gedagte vir ons mooi op as hy skryf: “No preaching is great preaching which is
not highly informed by a life of Christian experience”(1)
8.1.3. Die Prediker se daaglikse Bybelstudie.
Die prediker moet ernstig waak dat geen kommentaar of enige ander boek oor die
Bybel, die Woord van God en die lees en bestudering daarvan vervang nie. Met
die bestudering van die Bybel bou en formuleer hy sy teologie. „n Gemiddelde tyd
vir navorsing en Bybelstudie per dag word op vier uur gestel.
8.2. Direkte Voorbereiding.
Nadat op „n teks of onderwerp besluit is, is die volgende stap die voorbereiding
van die skets wat die raamwerk van die preek vorm. Daar is geen vaste
neergelegde reëls van hoe om „n preek voor te berei nie, maar die volgende
metode kan aanbeveel word as „n beproefde manier.
8.2.1. Begin betyds met die Voorbereiding.
Uitstel is nie alleen „n rower van tyd nie, maar ook van die preek! Om te wag tot
Sondagoggend en dan te wil soek na „n preek, wat gewoonlik nie gevind word nie,
en dan te verwag dat die Heilige Gees die gedagtes in jou hart moet lê en jou
mond vul met woorde, is blote wensdenkery. Die Here kan nooit onverskilligheid
en luiheid kondoneer nie.
Maandag moet jy alreeds besluit het waaroor jy die komende Sondag gaan praat.
Dit sal jou gedagtes die geleentheid gee om te ontplooi of om dit self in verband
te bring met die feite in die onderbewussyn wat ons kan aanwend wanneer ons by
die werklike konstruksie van die preek kom.
Die bewustheid dat jy iets belangrik en interessant het om oor te dra, sal jou in
39
staat stel om die gehoor in die gesig te kyk met „n gevoel van selfvertroue. Die
vooruitsigte aan die aflewering daarvan sal aan jou „n geweldige genot en
selftevredenheid verskaf dat jy jou beste gedoen het.
8.2.2. Lees die Skrifgedeelte herhaaldelik deur.
Lees die Skrif passasie waaroor jy wil preek etlike male oor en verkieslik hardop.
Maak seker dat jy ook die parallelle en aanverwante Skrifte lees, bv. as jy uit die
boek Konings sou preek, moet die ooreenstemmende gedeelte in Kronieke
daarmee saamlees; preek jy uit een van die Evangelies, moet jy die aanverwante
gedeeltes in die ander drie ook bestudeer; die Sendbriewe moet in die lig van die
Handelinge gesien word wat die historiese agtergrond verskaf. Lees ook ander
vertalings; dit sal baie keer help om „n moeilik verstaanbare gedeelte meer
duidelik te stel.
8.2.3. Maak gebruik van „n konkordansie.
Om die juiste betekenis van enige woord wat in die teks voorkom te bepaal beveel
ons Vine se “An Expository Dictionary of New Testament Words: en Young se
konkordansie aan. Omdat ons in die woordelikse inspirasie van die Skrif glo, kan
woorde en hul betekenis veel bydra om die Skrif te begryp.
8.2.4. Raadpleeg ander skrywers se werk.
8.2.5. Maak notas.
Wanneer ons so ver gekom het, kan ons nou van ander skrywers en kommentare
gebruik maak om jou eie gedagtes te bevestig of aan te vul.
Nadat jy die teks passasie herhaaldelik gelees het en jouself met al die
woordbetekenisse in daardie passasie vergewis het en vasgestel het wat ander se
kommentaar daaroor is, kan jy begin met jou klad notas.
Terwyl jy in jou gedagtes die sentrale gedagte oorweeg en daarop konsentreer,
sal verskillende gedagtes tot jou begin kom. Skryf dit neer soos dit by jou opkom
40
(volgende is nog nie hier van belang nie). Eers wanneer die vloei van gedagtes
opgehou het, kan begin word met die sif en ordelike rangskikking van die
gedagtes.
Alvorens dit geskied, moet daar eers besluit word watter tipe rede voorberei gaan
word. D.w.s. of dit „n uitlegkundige, „n onderwerp-en of dit „n tekstuele preek gaan
wees. As dit besluit is, word die hoof indelings in logiese volgorde neergeskryf.
Nou word die gedagtes wat reeds neergeskryf en gesif is onder die hoof indelings
gesorteer waar dit van toepassing is. Dit sal beteken dat nie al die gedagtes wat
so neergeskryf is, gebruik sal word nie. Dié wat nie gebruik word nie, moet
geliasseer en gebêre word om later weer gebruik te word as oor dieselfde
teksvers, maar met „n ander tema, gespreek word. Die volgende stap is die
voorbereiding van die Inleiding en die Slot.
Hierna volg die keuse van toepaslike illustrasies. Die primêre doel van „n
illustrasie is om die waarheid wat voorgehou word, toe te lig. Die geestelike word
deur die natuurlike geïnterpreteer; die onbekende deur die bekende. Daar moet
egter gewaak word teen die neiging om te veel illustrasies in een preek te hê.
Illustrasies is soos vensters in „n huis, dit gee lig. „n Huis bestaan tog nie net uit
vensters nie. Daarom word kwaliteit bo kwantiteit verkies. „n Illustrasie kan in die
vorm van „n gelykenis, „n allegorie, „n staaltjie, „n voorbeeld, „n historiese
gebeurtenis of „n analogie wees. Sulke illustrasies kan bekom word uit die Skrif,
literatuur, geskiedenis, die natuur (1 Kor. 11:14), Christelike tydskrifte, koerante,
lewensverhale en persoonlike ervarings.
8.2.6. Skryf die Preek volledig neer.
Na die voltooiing van die skets gaan jy daartoe oor om die preek volledig uit te
skryf. Deur preke uit te skrywe, ontwikkel jy „n pittige, skoon en direkte styl wat
jou “uit die vuis” – prediking grootliks sal laat baat. In hierdie verband skryf dr.
Sangster: “It is the man who has never written his sermons out, and never
intends to, who is almost certainly doomed to unconscious repetition and
41
mediocrity. Without being aware of it, he constantly repeats himself in ideas, in
illustrations, and in phrasing. He seems incapable of letting his nouns appear in
company alone. He tries to disguise the paucity of thought by piled-up adjectives.
At his best he is rather repetitive, and at his worst he is a windbag” (2) Die
volgende voorbeelde verbonde aan die uitskrywe van die preek kan hier opgesom
word:
• By die skrywe van die preek kristalliseer die gedagtes beter;
• Die onderlinge verhouding van die dele kom beter tot hulle reg;
• Die taal en styl kan beter versorg word;
• Dit vergroot die woordeskat en
• Die aanbieding van die beheerste stof sal lewendiger en meer benadruk
wees.
8.2.7. Vergewis jouself met die inhoud van die Preek.
Nadat die preek volledig uitgeskryf is, moet dit „n paar keer aandagtig deurgelees
word sodat jy jou kan vergewis met die inhoud daarvan. Hierna moet jy dit vir
jouself hardop preek, want nie alleen sal dit jou gewoond maak aan die klank en
toon van jou stem nie, maar dit sal jou ook help om te dink terwyl jy praat. Dit sal
jou afhanklikheid van jou manuskrip verminder en jou meer ruimte verskaf tot
vryheid en inspirasie deur die Heilige Gees.
8.2.8. Kry Heilige Gees inspraak in die Preek.
Voordat die preek afgelewer word, moet jy jouself en die preek in gebed aan God
wy. Sonder die seën en meewerking van die Heilige Gees sal die beste
voorbereide preek niks meer wees as blote mens geformuleerde gedagtes nie. Dit
is die Gees wat die Woord lewendig en kragtig tot redding maak.
8.3. Die Kriteria van die toepaslike inligting.
Die stof of materiaal wat vir die bou van die preek benodig word, moet ten minste
aan die volgende twee eienskappe voldoen.
42
8.3.1. Dit moet lewenskragtig wees.
D.w.s. dit moet verwysing tot die lewe van die mense hê. Deur wyd te lees sal veel
waarhede ontdek word wat verwant is aan die onmiddellike lewe en leefwyse van
die gehoor wat toegespreek word. Die prediker se funksie is om mense te help,
sodat sy gehoor in staat sal wees om die Bybelwaarhede toe te pas op elke
moontlike lewensaktiwiteit. Om dit te kan doen, moet sy boodskap kontak met die
lewe hê. Alleen as die preek van dié aard is kan hy hoop om „n Christelike uitleg
van die mens se bestaan op te wek en te hou en sy beste in die preekstoel te
lewer.
8.3.2. Dit moet oorspronklik wees .
Met oorspronklikheid bedoel ons nie om iets te sê wat niemand anders nog ooit
gesê het nie. Dr. Shedd stel dit só vir ons: “Originality, then, within the sphere of
a creature, and in reference to a finite intelligence, consists in the power of
interpretation. In its last analysis it is exegesis – the pure, genial, and accurate
exposition of an idea or a truth already existing, already communicated, already
possessed „n .. There has been no creation, but only development; no absolute
authorship, but only an explication.”(3)
M.a.w. oorspronklikheid beteken net om „n reeks bekende waarheid op so „n
manier te verduidelik, a.g.v. die versameling van feite en gegewens wat gebaseer
is op „n wetenskaplike studie, dat dit vars en nuut klink. Of anders gestel,
wanneer „n bekende onderwerp of waarheid só voorgestel word aan die gehoor
dat mense sou sê, ek het dit nog nie voorheen so gehoor of verstaan nie, dan het
jy dit oorspronklik gesê.
8.4. Verwysings.
1. Sangster, W. E., The Craft of Sermon Construction (London: The Epworth
Press, 1951) p.146.
2. Ibid, p.169
3. Shedd, G.T., Homiletics and Pastoral Theology (London: The Banner of
43
Truth Trust, 1965) p.8, 9.
9. Die Aanbieding.
Die prediker is nou gereed om sy boodskap af te lewer. Die Aanbieding is „n
belangrike deel van die bediening van die Woord, maar die betekenis mag nie
oorskat word nie. Die stof van die preek bly egter die belangrikste, maar vir „n
groot deel sal dit van die aanbieding daarvan afhang of die stof ook inderdaad
ingedra word in die lewe van die hoorders. Die prediker is dus geroep om by die
vervulling van sy belangrike opdrag die talente wat hy in die rigting ontvang het
so doeltreffend as moontlik aan te wend.
Die vereiste van „n goeie Aanbieding kan ons soos volg opsom: Die preek moet
uitgespreek word en nie voorgelees word nie; die Woord moet verkondig word en
nie voorgelees word nie. Die beste metode sal wees om die preek, nadat dit
uitgeskrywe is, in die geheue op te neem. Daar moet egter gewaarsku word teen
die letterlike van-buite-leer van die preek, want dan word dit opgesê en nie
gepreek nie. Die preek mag ook nie voorgedra word soos „n stuk prosa deur „n
voordragkunstenaar nie. Die prediker moet „n boodskap bring wat hom uit die
hart vloei, daarom mag dit nie „n aangeleerde stuk wees wat voorgedra word
volgens die reëls van die retorika nie. Nadat die hoofinhoud van die preek
gememoriseer is, moet dit vry voorgedra of afgelewer word, sodat die inhoud van
die gelewerde preek saaklik ooreenstem met die van die geskrewe preek. Gaande
weg sal die jong prediker wel vertroud raak met die vrye voordrag van „n skets af.
Daar is „n aantal feite waarop gelet moet word:
9.1. Die gedrag van die prediker.
Wat moet die prediker se gedrag in die kansel wees as hy sy boodskap aflewer?
44
9.1.1. Nederig, maar nie slaafs.
Die prediker moet altyd onthou dat hy „n dienskneg van Christus is en word dan
ook vermaan om hom te beklee met nederigheid (Kol. 3:12). Terwyl hoogmoed
afgekeur word, moet die prediker nie tot die ander uiterste oorgaan om weer
verskoning vir sy teenwoordigheid in die preekstoel te maak nie. Die Goddelike
opdrag is: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God” (1 Pet. 4:11).
9.1.2. Ernstig dog selfbeheers.
Die gehoor sal byna enige gebrek in die prediker se mondering verdra, behalwe
temerigheid. Geen prediker is meer oortuigend as hy wat uit die diepste van sy
hart praat nie. Hy moet glo wat hy te sê het. Paulus haal die Psalmis aan as hy
skryf: “Ek het geglo, daarom het ek gespreek” (2 Kor. 4:13). Andersyds weer moet
die prediker waak dat hy nie emosioneel onbeheersd optree en verspot voorkom
nie.
9.1.3. Hoflik en tog getrou in sy aanbieding.
Dit is onredelik van die prediker om sy gehoor, as daar min mense is, uit te trap
as gevolg van dié wat nie daar is nie. Dit sou veel beter wees as hy hulle liewer
prys omdat hulle wel gekom het en dan sy beste lewer in die aanbieding van sy
preek.
9.1.4. Netjies voorkoms, maar nie pronkerig.
Die ideale drag is die soort klere wat nie onnodiglik die aandag van die gehoor
trek en in beslag neem nie. M.a.w. uitspattige kleure moet liefs vermy word. Dit is
goed om te sorg dat die kleredrag een kerf bo die is van die gemiddelde styl van
die gehoor.
45
9.2. Die prediker se Taalgebruik.
Ook hier is „n paar dinge waarop die prediker moet ag gee:
Sy Taal moet Eenvoudig wees
Lang ingewikkelde sinne wat die indruk van hoogdrawendheid skep, moet
vermy word. Diepsinnigheid van gedagte moet altyd gebalanseer word deur
eenvoud van uitdrukking.
Sy Taal moet Grammatikaal Uitgedruk word
Grammatikale foute fokus die gehoor se aandag op die prediker in stede
van op die boodskap wat hy oordra. Dit verydel die krag van die boodskap.
Sy Taal moet Kragtig wees
Vir sy taal om kragtig te wees, moet hy spesifieke woorde gebruik wat die
juiste gedagte korrek uitdruk. Om dit te kan vermag, moet die prediker
gedurig poog om sy woordeskat te vergroot. Derhalwe is „n goeie
woordeboek van uiterste belang vir die prediker.
Dit sal die prediker geweldig ten baat wees as hy „n studie sou maak van die hoof
stylfigure, soos „n gelykenis, „n tipe, „n allegorie, „n antitese, „n hiperbool, „n
metafoor, „n paradoks, personifikasie ens. Dit sal sy spraak-horison baie
vergroot.
Dan is daar baie holruggeryde uitdrukkings wat hy uit sy woordeskat moet
verwyder, omdat dit vanweë die vele herhaling kragteloos geword het. Die
prediker moet ook wegdoen met alle moontlike stereotipiese ekspressies soos:
“Luister na my”; “My sondaar vriend”; “Liewe vriende”; “Geliefde toehoorder.”
46
9.3. Die Prediker se Stem.
By die voordrag is die stem „n faktor van groot belang en dit is ook „n heerlike
gawe van God. Geen musiekinstrument is so fyn besnaard en so ryk aan
nuansering soos die menslike stem nie. „n Mens kan daarmee fluister, maar ook
donder; die stem kan snydend skerp en snerpend koud wees.
Gemoedsaandoeninge van die mees verskillende soorte soos vreugde, droefheid,
onsetting, skrik, angs, verwondering en so meer vind weerklank in die stem.
Die Prediker moet Natuurlik Spreek
D.w.s. in ooreenstemming met sy aanleg en volgens sy indiwidualiteit. Dit
is moeilik vir „n publieke spreker om sigself te bly, maar dit bly „n
belangrike eis om natuurlik te spreek. Die prediker moet nooit probeer om
„n ander na te doen nie, want daardeur word hy „n imitator, „n karikatuur, en
verloën sy eie natuurlike gawes wat God hom gegee het.
Die Prediker moet Beskaafd Spreek
In sy woordkeuse en in alles moet die prediker die dekorum van „n
Christelike beskawing handhaaf. Die uitspraak van woorde moet op die
kansel geskied volgens beskaafde uitspraak van die landstaal, maar dit
moet natuurlik wees en nie „n aanstellery nie.
Die Prediker moet „n goeie Toonhoogte handhaaf.
Gewoonlik word onderskei tussen die hoë, die lae en die middelsoort toon.
Die grootste gedeelte van die preek sal op die middelsoort toon gespreek
word; by ernstige gedeeltes sal die stem daal; by verhewe gedeeltes wat
met vuur uitgespreek word, sal die stem verhef word.
Hier moet gewaarsku word teen die gedurige hoë toon of gedurige lae toon
(monotoon) en veral teen die aaklige preektoon enersyds en geskree
andersyds, omdat dit so by uitstek onnatuurlik is.
47
Die Prediker moet met die regte Tempo Spreek
Hiermee bedoel ons hy moet nie te vinnig praat, sodat die gehoor hom nie
kan volg nie. Hy moet ook nie te stadig praat nie, anders dwaal die
gedagtes van die hoorders maklik weg.
Die prediker moet oogkontak met die gehoor handhaaf.
Die prediker wat sy gehoor in die oë kan kyk wanneer hy preek, is een wat
gesag afdwing en die respek van sy gehoor geniet. Deur die gehoor in die
oë te kyk, maak die prediker beslis kontak met die gehoor voor hom en
vergemaklik sy taak om met hulle te kommunikeer. Om oor die gehoor in
die dak of in die hoek van die gebou vas te kyk breek die prediker sy
kontak met sy gehoor en verloor hy so hulle aandag. As die prediker
gedurig sy gehoor voor oë het, sal hy gou sien watter reaksie sy prediking
op die mense het. „n Bevestigende knik van die hoof, die uitdrukking op die
gesigte, die blaai in die Bybel, die gedurige kyk na die horlosie, is almal
tekens wat aantoon watter inslag sy boodskap op die gehoor het.
9.4. Die prediker moet „n verwagting koester.
„n Prediker het by geleentheid vir Charles Spurgeon gevra: “Hoe verantwoord u
die feit dat ek dieselfde Evangelie as u preek, maar by verre nie dieselfde
resultate as u geniet nie?” Spurgeon antwoord toe: “Jy verwag sekerlik nie
resultate elke keer as jy preek nie, of hoe?” “O nee”, antwoord die man. Toe sê
Spurgeon: “Dit is die rede waarom jy nie resultate kry nie.” M.a.w. die prediker
moet altyd resultate verwag, want die Here beloof dit (Ps. 126:6; Jes. 55:11).
Daar moet gewaak word dat resultate nie geforseer word deur professionele
evangelistiese metodes a.g.v. „n onversadigbare honger na statistieke nie. Die
prediker moet altyd onthou dat “Die heil behoort aan die Here” (Jona 2:9; Sag.
4:6). Dit is nie die metode en wyse van uitnodiging van die prediker wat ware en
blywende resultate lewer nie. As die Heilige Gees nie verlig, oortuig en nader
bring nie, is al die mens se pogings kunsmatige plaasvervangers.
48
Al hierdie dinge is weliswaar van ondergeskikte betekenis, maar tog van groot
waarde en help die prediker om die Woord van God meer doeltreffend te bring.
10. Die verskillende soorte Preke.
Preke word geklassifiseer volgens die doel wat die prediker voor oë het, of dit vir
gelowiges en of dit vir ongelowiges bedoel is. Soos die doel die heersende faktor
vir die klassifisering van preke is, so is die Skrifgedeelte of die teksvers die mees
algemene en aanvaarde basis vir die konstruksie van die preek.
Na aanleiding van die voorgestelde basis kon preke in drie soorte ingedeel word.
10.1. Die Tekstuele Preek.
„n Tekstuele preek is een waarin beide die onderwerp en die verdelings van
ontwikkeling in die teks verkry word, en dit neem die volgorde van die teks aan.
Anders as die onderwerp-preek wat oorheers word deur die onderwerp, word die
tekstuele preek oorheers deur beide die onderwerp sowel as die verdelings van
ontwikkeling. Byvoorbeeld, Rom. 1:16 lees: “Want ek skaam my nie oor die
evangelie van Christus nie, want dit is „n krag van God tot redding vir elkeen wat
glo „n . . .”. As dit as „n onderwerp behandel word, kan dit die algemene
onderwerp van “Die Krag van die Evangelie” hê, wat van die teks afgelei word,
maar waarvan die verdelings van die prediker afhang.
„n Tekstuele vorm, andersyds, sal die gedagte van die teks volg:
(i) Die Evangelie is „n Krag van God;
(ii) Die Evangelie is „n Krag van God tot Redding;
(iii) Die Evangelie is „n Krag van God tot Redding vir elkeen wat glo.
Die vraag wat baie keer gevra word, is hoe lank moet die teks wees vir „n
tekstuele preek? Die konsensus van opinie is dat dit nie meer as vier verse moet
wees nie, anders word dit „n uitlegkundige preek.
49
Die soort preek is waardevol omdat dit „n positiewe bydrae maak om die Skrifte te
interpreteer en die mense te stimuleer om die Bybel te lees. Mense wil nog graag
die verklaring van die Skrifte hoor en die man wat kragtig in die Skrifte is, sal
nooit „n gebrek aan „n gehoor hê nie.
Hieronder is „n voorbeeld van „n tekstuele preek:
ONS VERMOËNS IS IN CHRISTUS
Lesing:
Fil. 4:10-20
Teks:
Fil. 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”
Inleiding:
Alles wat ons as Christene is en alles wat ons het, het ons aan Christus te
danke.
Ten opsigte van ons vermoëns in Christus, let ons ten eerste op –
I. ONS VERHOUDING
“Ek is „n .. deur Christus” Let op die twee s.nw. “Ek” en “Christus” dui op „n
spesifieke verhouding. Ons verhouding met Christus bewerk in die tweede plek
vir –
II. ONS VERMOËNS
“Ek is tot alles in staat” Ons het reeds gelet op ons verhouding en gevolglike
vermoëns. Kom ons kyk nou na –
50
III. ONS VOORSIENING
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”
Slot:
Dink na oor jou verhouding met Christus en watter vermoëns dit in jou werk en
watter geweldige krag jy in Christus het om daardie vermoëns ooreenkomstig Sy
wil tot uitvoering te bring. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat hy krag gee.”
10.2. Die Onderwerp Preek.
Die onderwerp-preek word so genoem omdat die onderwerp van bespreking die
oorheersende faktor in die ontwikkeling van die preek is. Die algehele
behandeling van die preek berus op die onderwerp. Al wat die preek van die teks
ontvang, is sy onderwerp. Bv. Heb. 11:1 mag gebruik word as basis vir die
onderwerp van “Geloof”, maar verder as dit veronderstel die teks niks meer nie.
Die soort preek bestaan uit die onderwerp en dan word van die ganse Skrif
gebruik gemaak om lig op die onderwerp te werp. M.a.w. dit is soos „n rivier, elke
Skrifverwysing is „n stroompie wat in die hoofstroom vloei en dit breër maak. Dit
is juis hier waar hierdie soort preek mank gaan. Ons wil diepte eerder as breedte
hê. Derhalwe moet ons poog om weg te kom van die gebruik van algemene
onderwerpe soos “Geloof”, “Liefde”, “Gebed” ens. en dit beperk tot „n meer
intensiewe ontwikkeling. Bv. “Geloof” as „n onderwerp moet beperk word tot
“Geloof as „n essensiële middel tot geestelike Groei.”
Die onderwerp-preek laat ruimte toe vir bespreking en stel beide die gehoor sowel
as die prediker in staat om die besondere Bybelse onderwerp as „n geheel te sien
en te verstaan.
Dit werk eenheid van gedagte in die hand en beïndruk die gehoor met die eenheid
van die Skrif. Soos een teks met „n ander in verband gebring word, besef die
gehoor dat die Bybel „n harmonieuse eenheid is.
51
Hieronder is „n voorbeeld van „n Onderwerp-preek:
DIE WONDERBARE JESUS.
Skriflesing:
Jes. 9:1-6Teks: Jes. 9:5 -“Hy word genoem: Wonderbaar „n . . .”
Inleiding:
“Wonderbaar” is „n toepaslike benaming vir Jesus. Elke stadium van Sy lewe was
buitengewoon.
Ten eerste was Hy wonderbaar in –
I. SY GEBOORTE
Hy was ook wonderbaar in –
II. SY BEDIENING
1. In Sy Lering
2. In Sy Wonderwerke
3. In SY Wandel Naas die wonder van geboorte en bediening was Jesus ook
wonderbaar in
III. SY DOOD In die laaste plek was Jesus wonderbaar in –
IV. SY OPSTANDING
Slot:
Saam met Renan kan ons ook sê: “Jesus is the incomparable man to who the
universal conscience has decreed the title „Son of God‟, and that with justice.
Whatever may be the surprises of the future, Jesus will never be surpassed.”
52
10.3. Die Uitlegkundige Preek.
Die soort preek, alhoewel miskien die moeilikste om voor te berei, is by verreweg
die beste soort, en elke student moet hom hierin beoefen. Uitlegkundige preke
anders as „n tekstuele preke, gaan om die behandeling van „n Skrifgedeelte van
meer as vier verse. Die tekstuele preek kry sy tema en verdelings direk van die
teks, terwyl die uitlegkundige preek sy tema, verdelings en al die ondersteunende
materiaal ook van die Skrifgedeelte onder bespreking kry. M.a.w. die
uitlegkundige preek kan met „n wiel vergelyk word. Die tema van die passasie is
die naaf, terwyl die bydraende gedagtes tot die tema die speke is. Saam maak dit
die eenheid van die Skrifgedeelte uit.
Hierdie tipe preek laat die klem swaar op die Woord van die Here val en bring die
gehoor in direkte kontak met die Skrif. Dit voorsien „n geleentheid om oor „n
sekere onderwerpe te preek wat andersins verwaarloos sou wees. Dit voorsien
ook aan die prediker genoeg materiaal om vir „n leeftyd te kan preek.
Hieronder is „n voorbeeld van „n uitlegkundige rede:
DIE AARD VAN GOD SE WOORD.
Lesing:
Teks: Ps. 19:8-12, Ps. 119:9-16– “Die wet van die Here „n . . .”
Inleiding:
Dawid se oordenking van God se Woord, het „n wonderlike openbaring
meegebring.
Dawid het ontdek dat God se Woord:
I. VOLMAAK IS.
“Die wet van die Here is volmaak; dit verkwik die siel”
53
Dit is perfek vir die doel waarvoor dit gegee is – om God te openbaar en die mens
die weg tot die lewe aan te wys.
Dawid het ontdek dat God se Woord:
II. GEWIS IS.
“Die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudiges”
Die Here is geen mens “dat Hy sou lieg nie” (Num. 23:19), Sy Woord is
onveranderlik (Matt. 5:18).
Dawid het ook ontdek dat God se Woord:
III. REG IS.
“Die bevele van die Here is reg: hulle verbly die hart.”
Die bevele van die Here is reg omdat dit in ooreenstemming met God se karakter
en wese is.
Dawid het verder ontdek dat God se Woord:
IV. SUIWER IS.
“Die gebod van die Here is suiwer: dit verlig die oë.” Dit is suiwer in die sin
dat dit insig en ware begrip gee.
Dawid hiernaas ook ontdek dat God se Woord:
V. REIN IS.
“Die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid.” Daar is geen element
van selfvernietiging in die Woord nie.
Dawid het vervolgens ook ontdek dat God se Woord:
54
VI. WAARHEID IS.
“Die verordeninge van die Here is waarheid: tesame is hulle regverdig”
Die Woord van die Here is betroubaar omdat dit “deur en deur gelouter” is
(Ps.119:140) en “deur God ingegee is „n .. tot lering” (2 Tim. 3:16).
Dan het Dawid ook nog ontdek dat God se Woord:
VII. BEGEERLIK IS.
“Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud” Omdat ons daardeur tot die
kennis van onse God kom.
Ook het Dawid ontdek dat die Woord van God:
VIII. SOET IS.
“Hulle is „n . . . soeter as heuning en heuning stroop”. Die Woord is ware brood
van die siel -dit voed en bou ons geestelik op.
Ten laaste het Dawid ontdek dat die Woord van God „n:
IX. HULP IS.
“Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot
loon” Deur na die Woord te wandel, word ek bewaar van die sonde (Ps. 119:9,11).
Slot:
Die meditasie is afgerond waar alle gedagtes aangaande die Here behoort te
eindig, nl. In „n gebed dat die lewe beter, mooier en sinvoller mag wees.
55
11. Die Versameling van preekmateriaal.
Reg hier aan die begin moet ons sê, dat alle kennis vir die prediker bruikbaar kan
wees wanneer dit kom by konstruksie van „n preek. Naas die Bybel is
geskiedenis, wetenskap, statistieke, sielkunde, literatuur en die sosiologie almal
bronne van informasie wat vir die voorbereiding van „n preek aangewend kan
word.
Nie alleen word sulke kennis deur boeke en tydskrifte bekom nie, maar ook deur
persoonlike ervaring. Daar is maar min persoonlike ondervindings en ervarings
wat nie tot nut vir die prediker kan wees nie. Geen prediking is vars en
oorspronklik as dit nie gekleur is met persoonlike belewenisse nie.
Dar is twee van die vele metodes om stof vir „n preek te vergader, wat ons hier
kortliks wil aanbeveel:
11.1. Die Groot Koevert Metode.
Die koeverte moet volgens onderwerp, of dit kan ook alfabeties, ge-indeks word.
Soos die prediker in koerante en tydskrifte dinge raak lees wat van moontlike
belang en toeligting kan wees, knip hy dit uit en plaas dit in die betrokke koevert.
Ook wanneer hy iets in „n boek lees wat hy nie kan uitknip nie, moet hy dit
neerskryf en in die betrokke koevert bewaar. Die prediker moenie vergeet,
wanneer hy iets uitknip of afskryf, om die nodige erkenning te maak nie. Bv. die
naam en datum van die koerant of tydskrif of die naam van die boek en die naam
van die skrywer daarvan moet altyd vermeld word.
Wanneer die prediker dan stof vir „n preek nodig het, gaan hy na die koevert wat
die materiaal bevat in verband met die onderwerp waaroor hy van voornemens is
om oor te preek, haal dit uit en gaan dit na. Hy neem nou dit wat toepaslik is en
plaas die ander terug in die koevert. Nadat hy die informasie gebruik het, moet hy
nie die inligting vernietig nie, maar dit weer terug plaas in die koevert, want dit
kan later weer gebruik word. Deur die toepassing van hierdie proses verminder
die prediker die tyd wat die voorbereiding van „n preek vereis tot „n minimum.
56
In stede van koeverte kan die prediker, as hy dit kan bekostig, „n staal kabinet met
lêers gebruik, wat natuurlik minder lomp en makliker hanteerbaar is.
11.2. Die Groot Boek Metode.
Elke ernstige prediker behoort „n boek van foliogrootte te hê, waarin hy elke teks
wat sy aandag aangryp op „n enkel bladsy neerskryf. Hierdie tekste word
gewoonlik verkry wanneer die prediker sy Bybel lees, of ten tye van sy
huisbesoek en gesprekke, of in sy algemene Bybelstudie. Vir hierdie doel moet hy
„n sakboekie by hom dra waarin hy enige illustrasie, gesegde, gebeurtenis,
waarneming, preek skets of enige ander saak van belang aanteken. Sodra hy by
die huis kom, skryf hy dit oor in die groot boek, of op „n nuwe bladsy of onder die
teks waar dit toepaslik is.
Omdat volledige preke nie gewoonlik in „n oomblik tot die prediker kom nie, maar
eerder „n proses van groei en rypwording deurgaan, moet hy die tekste elke week
noukeurig oorlees en na elke tema om die beurt kyk om die proses te verseker.
Elke keer as hy dit lees, mag nuwe gedagtes hom te binne skiet en dit moet hy
dadelik op die bladsy waar dit van toepassing is, neerskryf. Wanneer die teks of
tema met al die notas en gedagtes hom aangryp, is dit gereed om gesif en
verwerk en in „n preek omskep te word. Die vernaamste meriete van hierdie
metode is dat dit die een is wat „n geleentheid skep vir die Heilige Gees en vir die
prediker om oor die onderwerp en teks te kan broei.
„n Prediker mag wyd lees en tog nie „n manier hê om sy stof te versamel en te
bewaar nie, behalwe dit wat hy kan onthou, en wanneer die tyd aanbreek dat hy
dit benodig, het hy weinig of niks voorraad om van te put nie. Terwyl „n ander
prediker minder mag lees en onthou, maar vind dat sy versamelde voorraad van
stof „n hulp in tyd van nood is.
57
12. Bibliografie.
1. Broadus, J. A., On the Preparation and Delivery of Sermons (London: Harper
& Brothers, g.d.)
2. Gibbs, A. P., The Preacher and His Preaching (Kansas City: Watterick Pub.,
1964)
3. Gibbs, A. P., Preach the Word (Emmaus Correspondence School).
4. Knott, H. E., How to Prepare a Sermon (Cincinnati: Standard Pub., g.d.)
5. Lenski, R. C. H., The Sermon Its Homiletical Construction (Grand Rapids:
Baker Book House, 1968)
6. Morgan, G. C., Preaching (London: Oliphants, 1967)
7. Pattison, T. H., The Making of the Sermon (Chicago: The American Baptist
Publication Society, 1941).
8. Sangster, W. E., The Craft of Sermon Construction (London: The Eqworth
Press, 1951)
9. Shedd, G.T., Homiletics and Pastoral Theology (London: The Banner of Truth
Trust, 1965).
10. Turnbull, R. G., Baker‟s Dictionary of Practical Theology (London: Marshall,
Morgan & Scott, 1968).
58
13. Werksopdrag.
1. Hoekom praat ons van Homiletiek as „n Kuns? [5]
2. Onderskei duidelik tussen “Kerussó” en “Euaggelizó”. [5]
3. Wat kan u sê insake die psigiese en religieus-etiese kwaliteite van die
prediker? [15]
4. Waarom moet daar volgens „n vooropgestelde Skets gepreek word? [15]
5. Noem en bespreek die eienskappe van „n goeie Tema. [10]
6. Verduidelik breedvoerig wat bedoel word met die “Logiese” en “Retoriese”
metodes om „n tema aan die gemeente te stel. [10]
7. Watter faktore sal jy in ag neem met die keuse van „n Teks? Bespreek
volledig. [15]
8. Noem en beskryf vier maniere hoe „n teksvers verklaar behoort te word?
[10]
9. Verduidelik die aard van „n goeie Inleiding. [5]
10. Waarom sou u sê is die Verdeling van „n preek waardevol? [5]
11. Bespreek die kwaliteite van goeie verdelings van „n preek. [10]
12. Waarom sou u sê is die Slot so belangrike aspek van die preek? Motiveer.
[15]
13. Hoe sal u te werk gaan om „n preek voor te berei? Gee „n volledige
beskrywing. [20]
14. Watter voordele is daar verbonde aan die uitskryf van die preek? [15]
15. Wat verstaan u met die begrip “oorspronklikheid”? Verduidelik. [10]
16. Bespreek breedvoerig die prediker en sy gedrag in die kansel. [5]
17. Bespreek breedvoerig die prediker en sy stem gebruik in die kansel. [5]
18. Wat is die verskil tussen „n “Tekstuele” en “Uitlegkundige” preek.
Bespreek breedvoerig. [20]
19. Watter metode van materiaalversameling verkies u? Gee redes vir u keuse.
[15]
20. Berei die volgende preke voor. (Let wel, elke preek moet volledig uitgeskryf
59
word, maar moet nie meer as 5 bladsye beslaan nie.) [95]
a. „n Tekstuele preek van u eie keuse.
b. „n Onderwerp preek van u eie keuse.
c. „n Huweliksbevestiging preek.
d. „n Begrafnis preek.
e. „n Geleentheidspreek van u eie keuse – Bv. Kersfees, Moedersdag.
TOTAAL [300]