preek 29/01/2012
DESCRIPTION
Dr Danie Dreyer toeskouer of Deelnemer? Matteus 9:35-38TRANSCRIPT
1
Sondag 29 Januarie
Matt. 9:35-38; Efes. 2:8-10
Miskien is jy een van daardie mense wat vra: Waar kom die gedagte
van geloofgewoontes vandaan? Dit is ‟n belangrike vraag.
Aan die een kant is die geloofsgewoontes nie so nuut nie: Ons
het almal grootgeword met geloofgewoontes: Stiltetyd en gebed
(binnekamer), huisgodsdiens, erediensbywoning, die gee van my
dankoffer, omgee vir siek mense en hulp aan mense in nood.
Aan die ander kant is dit tog nuut: Die klem wat vandag vanuit
ander kerklike tradisies op geestelike dissiplines geplaas word, is vir
ons tog bietjie vreemd. Die geestelike dissiplines soos vas en
meditasie ken ons nie regtig nie. Daar word gesê dat ons bepaalde
dinge moet doen – selfs met groot opofferings - om geestelik te groei.
Dit is amper soos die oefeninge in „n gimnasium. As gereformeerdes
is ons op ons hoede vir enige vorm van prestasie of verdienste. Ons
is bang vir „n wettiese godsdiens wat maklik tot geestelike hoogmoed
kan lei. Dit is dan wanneer mense begin onderskei tussen geestelikes
en leke; wedergebore Christene en ander; geesvevulde Christene en
ander.. Daarom is dit belangrik dat ons duidelik vir mekaar sal sê
waar die geloofgewoontes inpas.
Dit is: a. Deel van ‟n groter gesprek oor dissipelskap.
b. Deel van ons verstaan van die werk van die Heilige Gees.
Miskien kan die beeld van „n skiër wat deur ’n motorboot getrek
word ons help. Jy het ‟n sterk boot nodig met al die nodige ski
toerusting. Dan moet jy leer om te ski. Die regte tegnieke en
vaardighede help jou om in die sleurstroom (“slipstream”) van die
boot te bly. Die kuns is om die regte spanning op die tou te hou!
2
Dissipelskap is om in die “slipstream” van Jesus te bly.
Soos wat Jesus self elkeen van sy dissipels geroep het, sonder dat
hulle iets gedoen of gevra het, is ons uit genade gered (Efes 2:8-9).
Ons is op God se uitnodiging opgeneem in Jesus se “slipstream”. Dit
het reeds by ons doop begin. Niks wat ons kon doen of watter wette
ons onderhou of watter geestelike dissiplines ons beoefen, kan ons
meer aanvaarbaar vir God maak nie. In Christus word ons herskep
om ons lewe te wy aan die “goeie dade waarvoor Hy ons bestem
het”. Daarom is geloof sonder gehoorsaamheid, ‟n valse geloof;
genade sonder navolging van Christus, is goedkoop genade
(Bonhoeffer).
Die beoefening van die regte geloofsgewoontes help ons om in die
“slipstream” van Jesus te bly, soos die ingeoefende gewoontes die
skiër help weer sy balans te herwin as die tou slap tussen hom en die
boot slap geword het en hy wil val. Meer nog, dit help ons om meer te
word soos Jesus was!
As dissipels van Jesus kyk ons na mense soos Jesus na hulle
gekyk het: “Die oes is groot …..”. Die teks is gewoonlik as „n
sendingteks gebruik. Dan is gewys op die ryp koringgerwe op die
sendingakker (simbool van die Sendingjaar – 1988). Dit is nie
verkeerd nie. Maar baie mense voel dat hulle nie op hierdie
manier betrokke by die sending kan raak nie en gee daarom
hoogstens hulle geldelike bydraes sodat werkers uitgestuur kan
word. Wanneer Jesus praat van die oes, dan praat Hy van die
“menigtes” rondom Hom. Hy sien die verskeidenheid van hulle
behoeftes raak as ‟n geleentheid. In die “slipstream” van Jesus
sien ons geleenthede vir die oes raak daar waar die Here ons
geplaas het – by my werk as onderwyseres, sakeman, dokter; in
3
my gesin en vriendekring as man of vrou, as pa of ma, vriend of
vriendin; as kliënt by ‟n besigheid.
As dissipels van Jesus voel ons oor mense soos Jesus gevoel
het: “Hy het hulle innig jammer gekry”. Ons hand sal nie in
beweging kom as ons hart nie in beweging kom nie. Wanneer ek
nie ‟n passie vir iets het nie, doen ek dit nie uit liefde nie, maar uit
plig. Ek doen dit omdat ek dit behoort te doen, nie omdat ek wil
doen nie. Omdat ons so oorweldig word deur die slegte berigte en
nood van buite, beskerm ons onsself deur nie koerante te lees en
nuus te kyk nie. Ons raak afgestomp. Verskillende dinge bring
egter verskillende mense se harte in beweging. So hoor ons van
iemand in Alberton wat baie swaargekry het toe klein was, wat nou
vir die behoeftige kinders in sy omgewing ‟n Kerspartytjie reël. Vir
sommige gryp die nood van kinders en vir ander die nood van
oumense aan; sommige word aangegryp deur die besoedeling
van die omgewing en ander deur die ellende in die
plakkerskampe. Daar is sekere take wat die Here net vir jou voor
kan gebruik met gawes wat Hy vir jou gegee het! Elkeen het ‟n
unieke taak in die insameling van die oes vir die koninkryk van
God. Mag die Here hierdie jaar elkeen van ons se oë oopmaak om
die geleenthede rondom ons raak te sien. So word ons deel van
die verhoring van Jesus se versoek dat die Here arbeiders vir die
oes sal uitstuur.
As dissipels van Jesus begin ons doen soos wat Jesus gedoen
het. Hy het mense geleer, die Evangelie van die koninkryk
verkondig en siekes gesond gemaak. Mag die Here ons ook help
om tot aksie oor te gaan. Om as gemeente en as lidmate in sy
Naam en in sy krag ‟n verskil te maak.
4
Geloofsgewoontes help jou om in die stroom van die Gees te
bly.
Net soos wat „n skiër foute maak en val, so het Jesus se dissipels
ook foute gemaak – hulle het op die vlug geslaan en selfs vir Jesus
verloën. Dan kom soek Jesus hulle op en help hulle weer om in die
stroom te kom deur die beoefening van die regte geloofgewoontes:
skuldbelydenis, gebed, getuienis. Die ingeoefende geloofgewoontes
help ons op in die stroom van die Gees te bly. Gal5:25 “Ons lewe deur
die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Die geloofsgewoonte van die lees van die Bybel (lecto divina) wil
ons help om die stem van die Here te hoor en daarvolgens te
lewe.
So help ons vriendskap as geloofsvennote ons om as gelowiges
nie moeg en moedeloos te word nie.
Die geloofsgewoonte van ontvang om te gee, wil ons help om te
leef uit die rykdom van God se genade.
Samevattend:
Die doel van geloofsgewoontes is om:
Die geloofstou tussen ons en Jesus styf te hou en in Sy
“slipstream” te bly.
Wanneer ons foute maak help die geloofsgewoontes ons om weer
in die stroom van die Gees te kom.