john d. caputo se “teologie van swakheid”: marcell … · john d. caputo poog om d.m.v. sy...
TRANSCRIPT
JOHN D. CAPUTO SE “TEOLOGIE VAN SWAKHEID”:
ʼn PERSPEKTIEF
MARCELL FERDI MEY
Skripsie ingehandig ter gedeeltelike vervulling
van die vereistes vir die graad
Magister Divinitatis
in die
Departement Dogmatologie
aan die
Universiteit van die Vrystaat
September 2009
Studieleier: Prof. R. Venter
INHOUD
INLEIDING
1. Inleiding 1
2. Titel 2
3. Navorsingsprobleem 2
4. Navorsingsdoelstellings 3
5. Navorsingsmetode 4
6. Navorsingskema 5
7. Beperkings 7
HOOFSTUK 1 :
DIE KOMS VAN DIE ANDER: ‘N KORT OORSIG VAN JOHN D. CAPUTO SE
DENKAGTERGROND
1.1 Inleiding 8
1.2 Caputo: ʼn Vlugtige blik 8
1.3 Dekonstruktiewe kruisbestuiwing en Derrida 10
1.3.1 Dekonstruksie 11
1.4 Vele stemme: Teoretici op dié gebied 13
1.5 Samevatting 16
HOOFSTUK 2:
DIE GESKENK: ENKELE TEKSTE
2.1 Inleiding 17
2.2 Dekonstruksie in ʼn neutedop! (Caputo 1997a) 17
2.3 Oor G/godsdiens (Caputo 2001a) 22
2.4 God en swakheid: ʼn Gebeurtenis (Caputo 2006) 27
2.4.1 Deel 1: God 30
2.4.2 Hermeneutiese tussenbedryf 34
2.4.3 Deel 2: Die koninkryk van God 36
2.4.3.1 Herskepping 40
2.4.4 Slotgebed 43
2.5 Wat sal Jesus dekonstrueer? (Caputo 2007c) 44
2.6 Samevatting 48
HOOFSTUK 3:
GASVRYHEID, VERSKILLE WELKOM... “SAMEVATTING” VAN JOHN D.
CAPUTO SE DENKE
3.1 Inleiding 49
3.2 Caputo se “godsdiens” 49
3.3 Radikale hermeneutiek 50
3.3.1 Die Goddelike naam 51
3.3.2. Die on/moontlike koninkryk 52
3.3.3 ʼn Teologie van die kruis 54
3.4 In gesprek: Ander teoloë 55
3.5 Samevatting 57
HOOFSTUK 4:
DIE WET EN GEREGTIGHEID: ‘N KRITIESE EVALUERING
4.1 Inleiding 58
4.2 Kritiek 59
4.2.1 Geskiedenis 59
4.2.2 Skrifgebruik 59
4.2.3 Liefde en universalisme 60
4.2.4 Jesus Christus 61
4.3 Waardeskatting 62
4.3.1 Die filosofiese nie-dood-van-God 62
4.3.2 Pragmatiek 62
4.3.3 Christelike temas 63
4.3.3.1 Vergifnis 64
4.3.3.2 Geloof 65
4.3.3.3 Poëtiek vs. dogmatiek 65
4.4 Samevatting 66
WOORDELYS 68
BIBLIOGRAFIE 72
i
Opsomming
Amerikaanse filosoof John D. Caputo is besig met ʼn voortdurende projek wat dekonstruksie-
teorie en tradisionele dogmatiek kombineer tot ’n soort hibriede, sekulêre teologie. Syns
insiens is dit noodsaaklik dat teologie, as verteenwoordiger van die religieuse, en filosofie, as
verteenwoordiger van die sekulêre, in gesprek tree aangesien albei gebiede poog om sin te
maak van die werklikheid. Sy “Teologie van Swakheid” is dus ʼn postmoderne poging om
nuut te dink oor die transendente, d.w.s om as’t ware nuut te dink oor God. Hy stel voor dat
daar dalk nie aan God gedink moet word as ʼn metafisiese wese nie, maar as iets totaal anders,
soos die moontlikheid van die onmoontlike. Die probleem wat in die studie aangespreek
word, is om ten eerste te bepaal wat presies die “Teologie van Swakheid” behels en ten
tweede watter, indien enige, bydrae dit tot die gereformeerde teologie, soos dit tans daar
uitsien, kan lewer.
ii
Abstract
American philosopher John D. Caputo’s Weak Theology-project aims to formulate a new
hybrid, secular theology by combining deconstruction-theory and traditional dogmatics. He is
of opinion that this dialogue is deemed necessary by the fact that theology, as representative
of the religious sphere, and philosophy, as representative of the secular sphere, are
independent attempts to make sense of reality. It could be asserted that this is a postmodern
attempt to rethink the transcendental dimension or in other words to think of God anew. He
suggests that God should not be considered as being, in the metaphysical sense of the word,
but rather as something completely different, such as the possibility of the impossible. The
problem being addressed in this study is twofold: firstly the researcher will attempt to
establish what the Weak Theology-project entails and secondly whether it can make a positive
contribution to the current study of reformed dogmatics.
iii
Simboliek van die buiteblad
Die blokkies op die voorblad simboliseer verskeie perspektiewe waarvan elkeen onvolledig
is. Dit word duidelik indien die agterblad bestudeer word. Die navorser poog om hierdeur te
illustreer dat elk van die perspektiewe in hul soektog na die antwoord ʼn bydrae te lewer het
tot die gesprek, maar dat ʼn meer outentieke antwoord alleenlik deur samewerking bereik kan
word.
iv
Bedankings
My opregte dank aan elkeen wat by dié projek betrokke was:
• Professor Rian Venter vir sy hulp en leiding
• Attie van Wyk en Carien Kruger sonder wie dié skrywe onmoontlik sou wees
• Jurie Taljaard vir die taalversorging
• Mike Turner vir sy kreatiewe bydrae en binding van die dokument
• Ferdi, Rachel en Rachelle Mey vir hul jarelange ondersteuning in my lewe
• Ilze van Rensburg vir haar liefde en geduld
Aan God al die eer!
1
INLEIDING
1. Inleiding
Is dit nog sinvol om onto-teologies oor God na te dink? Indien nie, wat kom na onto-
teologie? Hoe kan daar verby die transendente dimensie van klassieke metafisika beweeg
word? Moet daar oor die transendente gedink word op meer radikale wyse om ruimte en tyd
te transendeer of moet die intrinsieke transendensie van tyd en ruimte waardeer word (Caputo
& Scanlon 2007:14)? Talle geleerdes en talle opinies, maar volgens John D. Caputo is die
volgende stap van nadenke fenomenologies van aard – dit is dan sy fokuspunt (Caputo
2003a:123). Hy wil ten alle koste die metafisiese projek verbysteek.
In die sekulêre era word twee keuses in die gesig gestaar: Dit is, om te glo in God en die
immanente sin van waarde wat daarmee gepaard gaan of om ʼn wêreldse estetika, wat dalk net
so (of dalk baie minder) bevredigend kan wees, aan te hang (Robbins 2008b:32). Indien
teologie relevant wil bly in die postmoderne samelewing, sal dit van dié situasie moet kennis
neem (Michener 2007:7). Daar kan nie meer agter dogmas en altydgeldende waarhede wat vir
ʼn vorige era geformuleer is, geskuil word nie, want dan sal die teologie beslis ʼn stille dood
sterf.
Die werk van kontinentale filosoof (en deesdae ook teoloog) John D. Caputo kan dalk weer
iets nuuts tot die teologie byvoeg en vandaar die keuse om juis op sy werk te fokus. Hy meen
dat filosofie, sowel as teologie, sin van die lewe probeer maak en dat dit noodsaaklik geword
het vir die twee dissiplines om in dialoog te verkeer (Baird 2008:521). Indien teologie as
multidissiplinêre studierigting ʼn sinvolle bydrae tot die postmoderne samelewing wil maak, is
ʼn verstaan van dié wêreld ononderhandelbaar. In aansluiting by Hooten (2008:116) handel
teologie net soveel, indien nie meer nie, oor die menslike kondisie in die samelewing as oor
sake soos individuele geloof, (kerklike) tradisies en rituele.
Aangesien Caputo al baie wyd geskryf het oor vele onderwerpe, sal dit wys wees om die
analise te beperk tot ʼn enkele faset van sy filosofiese teologie. Daar is op grond van praktiese
oorwegings besluit op een gekose faset, bekend as Weak Theology. Dit is die mees volledige
aspek van Caputo se werke en myns insiens het dit ʼn waardevolle bydrae te lewer tot die
gereformeerde dogmatiek.
2
2. Titel
Na aanleiding van my inleiding tot hierdie studie, het ek dit goed gevind om die titel John
D.Caputo se “Teologie van Swakheid”: ʼn Perspektief te formuleer. Alhoewel die werke van
talle geleerdes in die studie geïnkorporeer word, word daar hoofsaaklik gefokus op John
Caputo se teologiese konstruk bekend as Weak Theology of in Afrikaans ʼn “Teologie van
Swakheid”. Die onbepaalde lidwoord ʼn in die titel, dui daarop dat hierdie studie nie
noodwendig alle aspekte van John Caputo se “Teologie van Swakheid” in hierdie een
studiestuk saamvat nie, maar dat daar ook ander moontlikhede kan wees. Alhoewel dit
onmoontlik sal wees om die perspektief ten volle te omskryf, kan daar wel genoem word dat
die navorser as teologiese student aan die Universiteit van die Vrystaat die navorsing as
Afrikaanssprekende vanuit ʼn Evangelies Gereformeerde dogmatiese perspektief benader en
dit vanselfsprekend ook daarvolgens sal beoordeel.
3. Navorsingsprobleem
John D. Caputo poog om d.m.v. sy godsdiensfilosofiese uitgangspunte nuut te dink oor die
transendente, d.w.s om as’t ware nuut te dink oor God. Om dalk nie aan God te dink as ʼn
metafisiese wese nie, maar as iets totaal anders, soos die moontlikheid van die onmoontlike
(Caputo 2003:127). Die afneem van denke oor God as metafisiese wese het al eintlik begin
met Pascal (1623-1662) se uitspraak dat die God van die Westerse filosowe nie die God van
Abraham, Isak of Jakob is nie (Wrathall 2003:1).
Caputo is besig met ʼn voortdurende projek wat poog om dekonstruksie en tradisionele
dogmatiek te kombineer in ’n soort hibriede, sekulêre teologie. Baie mag dalk wonder of dit
sinvol is om ʼn sekulêre filosofiese denkstroom (dekonstruksie-teorie) en teologie in gesprek
te laat tree. Die antitese van die argument is of ʼn mens anders kan as om die werk van ʼn
sekulêre filosoof soos Jacques Derrida wat skryf oor dekonstruksie-konsepte soos die
geskenk, vergifnis, gasvryheid, vriendskap, geregtigheid en die messiaanse (wat so duidelik
na vore kom in die Bybel) in dialoog te plaas (Caputo, Dooley & Scanlon 2001:2)?
Buitendien moet daar onthou word dat die sekulêre wêreld ʼn religieuse konsep is en dat die
sekulêre deurdrenk is met religieuse motiewe (Caputo 2001b:296). Die grense tussen die
religieuse en die sekulêre het al so vervaag dat die onderskeid tussen die twee amper
oorbodig geword het. Taylor in Robbins (2008b:32) herinner lesers aan die feit dat die
3
sekulêre era se wortels in die Protestantse Reformasie gevind kan word en dat dit as
historiese proses en kulturele transformasie eenvoudig nie geïgnoreer kan word nie. Duidelik
is dit dus noodsaaklik dat teologie, as verteenwoordiger van die religieuse, en filosofie, as
verteenwoordiger van die sekulêre, in gesprek tree.
Die probleem wat in die studie aangespreek word, is om ten eerste te bepaal wat presies die
“Teologie van Swakheid” behels. Dit sal aan die lig kom deur die boekbesprekings in
hoofstuk 2, asook die kernagtig-saamgevatte denke van Caputo in die derde hoofstuk.
Tweedens, sal ondersoek ingestel word om te bepaal watter, indien enige, bydrae dié
“Teologie van Swakheid” tot die gereformeerde teologie, soos dit tans daar uitsien, kan
lewer. Die kritiese evaluering soos dit in die vierde, en laaste, hoofstuk voorkom, het dié doel
voor oë.
4. Navorsingsdoelstellings
Navorsing is ʼn publieke aangeleentheid. Daarom sal daar gepoog word om nie slegs met John
D. Caputo in gesprek te tree nie, maar ook met talle ander denkers in die godsdiensfilosofiese
vakgebied. Die einddoel van die projek is die generering van nuwe kennis sodat ʼn “Teologie
van Swakheid”, vanuit ʼn bepaalde perspektief op kritiese wyse geëvalueer kan word.
Die relevansie van die navorsing is gesetel in die feit dat die kerk haarself in ʼn
spreekwoordelike “volmaakte storm” bevind (Niemandt 2007:10). Dié storm is die realiteit
van die postmoderne tydsgees wat tans oor die wêreld heers. Haar herout is globalisasie (met
elektroniese media as dienskneg) en haar boodskap is sekularisasie. Die effek van hierdie
storm, wat voortwoed sonder einde in sig, is dat al minder mense die Christelike geloof as
godsdiens en wêreldbeskouing aanneem. Volgens Niemandt (2007:12) woon minder as 5%
van die Europese bevolking gereeld eredienste by. Die ondersteuning wat die sg. Ateïste Bus
Veldtog (Atheist bus campaign) in Londen geniet, is ʼn enkele illustrasie van sekularisme se
effek in Europa. Die projek, wat op 21 Oktober 2008 geloods is, het gepoog om £5500 in te
samel sodat advertensies wat die bestaan van God bevraagteken, vir ʼn periode van 4 weke
vroeg in 2009 op 30 busse sou pronk. Drie dae later (24 Oktober) was daar reeds £100000
ingesamel! (Aanlynbron:1).
4
Dit is nie nodig om ʼn futuroloog te wees om in te sien dat soortgelyke tendense na die
sekulêre Republiek van Suid-Afrika sal oorspoel nie. Ou dogmatiese “waarhede” en droë
kognitiewe beredenerings rondom die wese van God is nie meer voldoende binne die
postmoderne konteks nie. Sentrale idees vanuit die klassieke (Christelike) tradisie moet in
dialoog tree met die idees van postmodernisme (Caputo & Scanlon 2007:1). Postmodernisme
se reaksie teen die “koningskap-status” van rasionalisme, tydens die modernistiese tydvak,
bied immers ʼn unieke geleentheid vir teologiese oplewing (Hyman 2004:203).
Gereformeerde Christene kry weer die geleentheid om hul Reformasie-tradisie, met
spesifieke verwysing na sola fide en sola scriptura, terug te neem. Dié “nuwe” teologie gaan
nie noodwendig dieselfde wees nie en mag dalk totaal anders lyk. Daar sal opnuut gedink en
ervaar moet word. In die studiestuk sal nagevors word of Caputo se projek net dalk die
verligtende pionierswerk doen, sodat nuwe weë bewandel kan word.
5. Navorsingsmetode
Analitiese literatuurstudie vorm die kern van die navorsing en drie momente kan in die studie
onderskei word:
Eerstens, word die formele, strukturele aspekte van die navorsing in die INLEIDING
behandel. Daarna word in die eerste hoofstuk oorsigtelik gekyk na die ontstaan van ʼn
“Teologie van Swakheid” – wie en wat sit agter die relatief nuwe teologiese denkskool?
Die tweede hoofstuk word gewy aan ʼn versameling boekbesprekings. Op die wyse word
primêre bronne in groter detail gelees en intens bestudeer. Die samevattings van onderskeie
boeke, soos gevind in die tweede hoofstuk van die studie, dien as noodsaaklike rigtingwysers
ter bevordering van die interpretasie en beoordeling van ʼn “Teologie van Swakheid”.
Ten laaste, vertolk hoofstukke drie en vier ʼn samevattende rol. Hierin word die teologie van
John D. Caputo tot enkele kerngedagtes gedistilleer en daarna vanuit die navorser se
perspektief beoordeel. ʼn Waardeskatting van ʼn “Teologie van Swakheid” vir die
gereformeerde dogmatiek (gesetel in ʼn postmoderne, post-Christelike samelewing) is deel
van die beoordeling. Die laaste gedeelte kan as ʼn dialogiese wisselwerking tussen analise en
kritiek beskou word en nie as beoordeling per sé nie. Dit is nie offensief van aard nie, maar
5
wel apologeties opbouend met die doel om die Christelike geloof proaktief te bevorder
(Michener 2007:160).
6. Navorsingskema
In dekonstruksie word geykte, kategoriale aporias aangetref. Enkele aporias word op
metaforiese wyse in hoofstukindelings aangewend om bepaalde aksente van die onderskeie
afdelings uit te lig.
HOOFSTUK 1: Die koms van die ander: ʼn Kort oorsig van John D. Caputo se
denkagtergrond
Indien ʼn analise soos hierdie aangepak word, is dit vanselfsprekend dat daar na die wortels
van oorsprong teruggekeer moet word. In die geval, die denkagtergrond van John D. Caputo.
In hoofstuk 1 sal oorsigtelik gekyk word na Caputo se ontwikkeling as godsdiensfilosoof.
Daar sal veral gefokus word op sy professionele loopbaan en die invloed wat ander geleerdes
(veral Jacques Derrida) op sy lewe gehad het. Aangesien die “Teologie van Swakheid” nie
die enigste poging is om nuut te dink oor God deur die kombinasie van dekonstruksie-teorie
en teologie nie, sal die projekte van ander geleerdes wat aktief op die gebied werksaam is,
ook genoem word.
HOOFSTUK 2: Die geskenk: Enkele tekste.
In hierdie hoofstuk word op enkele tekste, gepubliseer deur John D. Caputo tydens die
dekade 1997 – 2007, gefokus. Die verskeie tekste is nie om dowe neute gekies nie en elk het
ʼn sinvolle bydrae te lewer tot die gesprek. Die formaat waarin die analise gaan geskied, is die
van onderskeie boekbesprekings. Die selecta capita is as volg:
• Deconstruction in a nutshell
• On Religion
• The Weakness of God: A Theology of the Event
• What Would Jesus Deconstruct ?
6
Die beoogde bydrae van elk is as volg:
• Deconstruction in a nutshell: As inleiding tot die verstaan van dekonstruksie en die
verskillende kategorieë wat binne dié veld ressorteer, is die boek noodsaaklik. Caputo
se godsdiensfilosofiese uitgangspunte is sterk gefundeer in dekonstruksie-teorie, en
die verstaan daarvan is ʼn voorvereiste vir die interpretasie van Caputo se werk (Lowe
2004:774).
• On Religion: Dis die eerste vollengte, eksplisiet teologiese boek vanuit Caputo se pen.
Geen studie van “ʼn Teologie van Swakheid” sal volledig wees sonder die
inkorporering van die baanbrekerswerk nie.
• The Weakness of God: Dis die magnum opus van Caputo se teologiese werke. Hierin
gee hy ʼn sistematiese uiteensetting en verklaring van die fenomeen bekend as ʼn
“Teologie van Swakheid”. Die boek se belang word bevestig deur die skrywer se
ontvangs van die American Academy of Religion toekenning vir uitnemendheid in die
bestudering van religie, "Constructive-Reflective Studies" in 2007.
• What would Jesus deconstruct?: Alhoewel dié boek op die leke-mark gemik is, is dit
uiters belangrik vir die doeleindes van hierdie studie. In die werk vervaag die grense
tussen teorie en praktyk, aangesien Caputo eindelik iets te sê het vir Christene. Die
boek is bekroon met die ForeWord Magazine toekenning as Beste Filosofie Boek van
2007.
HOOFSTUK 3: Gasvryheid, verskille welkom... “Samevatting” van John D. Caputo se
denke
Die taak om Caputo se denke te distilleer in ʼn enkele hoofstuk is geen moontlike taak nie.
Alhoewel dit sinteties is om die minste te sê, is dit nie oorbodig nie, want soms moet dinge
gedoen word, nie omdat nie, maar ten spyte van. In Caputo (2007:69) se eie woorde: “We
cannot do everything ‘for the money’ for the pay off. There has to be things that we do for the
sheer love of them, things that are given to us to which we in turn give ourselves, where we
break the chain of means-and-ends.” Die skrywer erken in beskeidenheid dat sy interpretasie
slegs ʼn enkele tussen ʼn magdom andere is. Die teks moet gelees word met die idee van
gasvryheid in gedagte – daar is ʼn openheid vir ander interpretasies.
7
HOOFSTUK 4: Die wet en geregtigheid: ʼn Kritiese evaluering
Die wet is rigied, maar tog veranderlik en dus kan dit gedekonstrueer word. Die wet is ʼn
moontlikheid. In teenstelling hiermee staan geregtigheid, wat nooit werklik moontlik is nie.
Dit is die andere, iets wat ten spyte van die feit dat dit nooit bereik kan word nie, altyd
nagestreef moet word. Geregtigheid is vloeibaar, want wat as geregtig beskou word in een
situasie, is nie noodwendig regverdig in ʼn ander situasie nie. Die kritiese evaluering wat as
slothoofstuk vir die studie dien, poog om geregtigheid na te streef deur ʼn regverdige
evaluasie van ʼn “Teologie van Swakheid” daar te stel. Daarom is dit nie ʼn rigiede wet wat in
wese veroordelend is en die finale sê oor die belangrike saak wil hê nie, maar liewer die
beskeie bydrae van ʼn teologiese student, geografies, sowel as akademies, ver verwyder van
die rolspelers wat aan die gesprek deelneem.
7. Beperkings
Aangesien die navorser nie ʼn professionele filosoof is nie, maar eerder ʼn lidmaat en
teologiese student binne die N.G Kerk, spreek dit vanself dat dit die hantering van die tema
gaan beïnvloed. Hyman (2004:199) som dit goed op: “Indeed, when a phenomenon, whether
religious or otherwise, is observed, studied, and conveyed, it is also inevitably interpreted,
shaped, and molded by the observer, no matter how "fair" she or he may attempt to be.” ʼn
Beperking met inagneming van die navorser se filosofiese agtergrond, sou kon lei tot ʼn
subjektiewe oordeel in sommige aspekte van hierdie studie. Die navorser sal homself sover
moontlik weerhou van ʼn vooropgestelde opinie ter bevordering van hierdie studie-inhoud.
8
HOOFSTUK 1 :
DIE KOMS VAN DIE ANDER: ‘N KORT OORSIG VAN JOHN D. CAPUTO SE
DENKAGTERGROND
1.1 Inleiding
Is dit werklik moontlik om ʼn persoon se werk te verstaan indien ʼn mens glad nie die persoon
se verhaal ken nie? Volgens postmoderne filosowe soos Jacques Derrida is daar niks buite die
teks nie. Myns insiens, hang dit natuurlik af van ʼn persoon se definisie van tekstualiteit, want
ʼn teks is altyd meer as ʼn blote dokument wat voor die leser geplaas word. Vandaar dan,
indien gekose tekste geëvalueer word, moet die outeur hiervan en sy denkwêreld beter
verstaan word. Buitendien is hierdie agtergrondverstaan noodsaaklik vir die evaluering, want
ʼn kritiese beoordeling van Caputo se “Teologie van Swakheid” gaan anders daar uitsien
afhangend van bv. sy godsdienstige standpunte. Daar word ook gekyk na die werke van ander
filosowe op die gebied van godsdiensfilosofie. Op dié wyse word die klimaat van die
teoretisering beter ingeklee.
1.2 Caputo: ʼn Vlugtige blik
John D. Caputo, is gebore in 1940 te Philadelphia, Pennsylvania. Op 22-jarige ouderdom
verwerf hy sy B.A-graad aan die La Salle Universiteit, sy M.A in 1964 aan Villanova
Universiteit en sy Ph D. in filosofie in 1968 by die Bryn Mawr Kollege. Hy het ʼn Rooms-
Katolieke agtergrond.
Kontemporêre kontinentale filosofie is sy spesialisasiegebied, met ʼn fokus op veral
fenomenologie, hermeneutiek en dekonstruksie. Sy dekonstruktiewe hermeneutiese metode
staan bekend as Radikale Hermeneutiek (Aanlynbron:2). Die inleidende beskrywing van
Caputo op sy tuisblad spreek boekdele oor sy denke en teologiese aanpak: “John D. Caputo is
a hybrid philosopher/theologian intent on producing impure thoughts, thoughts which
circulate between philosophy and theology, short-circuits which deny fixed and rigorous
boundaries between philosophy and theology. Caputo treats ‘sacred’ texts as a poetics of the
human condition, or as a ‘theo-poetics’, a poetics of the event harbored in the name of God.”
(Aanlynbron:3). John Caputo is dalk ʼn teoloog, maar is hy ʼn gelowige? Die antwoord op die
vraag is terselfdertyd “Ja” en “Nee”. In die tagtigerjare was Caputo (1987:281) self onseker
9
hieroor, en bely hy in sy boek Radical Hermeneutics dat hy nie seker is of hy in God glo of
nie. Kort voor die aanbreek van die nuwe millennium kom hy tot nuwe insigte en erken hy
duidelik in sy boek The prayers and tears of Jacques Derrida dat hy met sekerheid glo in
“God” (Caputo 1997b:332). Duidelik glo hy beslis in God, maar soos in die skrywe uitgevind
sal word, glo hy nie noodwendig in die goddelike wese van die ortodokse Christelike geloof
nie en daarom sal talle mense, ten spyte van sy geloof, hom as ʼn ateïs kan bestempel.
Vanaf 1968 tot 2004 was hy die David R. Cook Professor in Filosofie by Villanova
Universiteit. Huidiglik beklee hy die pos as Thomas J. Watson Professor van
Geesteswetenskappe by Syracruse Universiteit, waar hy teologie sowel as filosofie doseer.
Alhoewel Caputo deesdae professioneel teologie beoefen, was dit nooit sy intensie om
homself in teologiese studies te verdiep nie. Die verandering is teweeggebring deur die besef
dat dekonstruksie ʼn waardevolle bydra tot teologiese studies kan maak (Caputo 1997b:xxix).
Buiten sy verpligtinge by die universiteit is hy aktief betrokke as lid van die Amerikaanse
Filosofiese Assosiasie, die Amerikaanse Akademie van Godsdiens en beklee hy die pos van
voorsitter vir die Joernaal van Kultuur en Godsdiens Teorie (Aanlynbron:2).
Caputo is sterk deur Derrida beïnvloed (meer hieroor in die volgende gedeelte) en het heelwat
oor hom gepubliseer. Veral belangrik is sy boeke Deconstruction in a Nutshell: A
Conversation with Jacques Derrida en The Prayer en Tears of Jacques Derrida: Religion
without Religion. Naas die invloed van Derrida is dit ook duidelik dat hy dikwels met
Heidegger in gesprek tree en dat hy ’n groot bewondering vir Augustinus en Kierkegaard het.
Die boek Deconstuction in a Nutshell: A Conversation with Jacques Derrida is ’n weergawe
van ’n gesprek met Derrida by Villanova Universiteit. ’n Groot deel van dié boek is egter
kommentaar van Caputo op Derrida se werk. Caputo was ook nou betrokke by die
organisering van ’n verdere aantal konferensies waarin die werk van Derrida sentraal gestaan
het. Hieruit het boeke soos: God, the Gift and Postmodernism en Questioning God,
voortgevloei.
Interessant is Caputo se standpunt rondom die etiek en etiese besinning. Reeds vroeg in sy
werk Against Ethics sê Caputo onomwonde: “I am against ethics. Here I stand. I cannot do
otherwise” (Caputo 1993:1). Caputo gee toe dat dit ’n vreemde standpunt is. Wie kan dan nou
10
teen etiek wees? Daar is immers genoeg immoraliteit, op private en publieke vlak, in die
wêreld. Dit is duidelik dat Caputo ’n buitengewone, besonderse verstaan van die term “etiek”
het; sy Against Ethics is ’n weerstand teen ’n sekere verstaan van etiek. Caputo is gekant teen
die tipe etiek wat groot beloftes maak; ’n etiek wat beloof om die wêreld veilig te maak. Etiek
as ʼn soort veiligheidsnet wat mense wil voorskryf wat, hoe, waar en wanneer dinge gedoen
moet word. Indien handelinge daarvolgens geskied, is dit “Goed”. Die dekonstruksie van
“etiek” sny egter die veiligheidsnet. (Vosloo 2004:944-5)
’n Ander manier waarop Caputo hierdie radikale, pluralistiese dekonstruksie van etiek
verwoord, is om te pleit vir ’n de-Hellenisering van etiek. Hellenistiese etiek is ’n etiek van
die beste, van arete, van voortreflikheid. Dit hang saam met die strewe om jouself, jou werke
en jou gemeenskap met voortreflikheid en skoonheid te klee. Hierdie visie is oop vir
aristokratiese en elitistiese versoekings. Volgens Caputo is dit juis hierdie visie wat so ’n
noodlottige aantrekkingskrag op Nietzsche en Heidegger uitgeoefen het. Teenoor so ’n
Hellenistiese etiese visie lewer Caputo ’n pleidooi vir ’n poëtiek van die slegtes, die
oneerbares, die onteerdes. Die klem val nie soseer op die goeie nie, maar op die slagoffers
van die goeie. Die diepste patos van Caputo is waarskynlik die onderbreking van die
Hellenistiese skema met die figuur van die bekende triade uit die Hebreeuse Bybel, “die
weduwee, die wese en die vreemdeling.” Daarom hang die etiek van dekonstruksie, of die
dekonstruksie van etiek, ten nouste met geregtigheid saam (Vosloo 2004:946-8).
1.3 Dekonstruktiewe kruisbestuiwing en Derrida
Die Franse filosoof Jacques Derrida, het veral met sy dekonstruksie-teorie bekendheid
verwerf. Alhoewel hy ʼn ateïs was, het hy baie geskryf oor sy eie godsdiens of liewer sy
“godsdiens sonder godsdiens” (religion without religion) – ʼn tema wat telkens in Caputo se
werk voorkom. In 1989, met die publikasie van sy Circumfessions, het Derrida die eerste
maal erken dat hy ʼn man van gebed is en dat hy, op sy manier, godsdienstig is. So ook het
Derrida se keuses vir toesprake en seminare in die negentigerjare – gasvryheid, vriendskap,
die geskenk, vergifnis, geregtigheid en demokrasie – al meer ʼn eties-religieuse toon begin kry
(Aanlynbron:4). Derrida, telkens geëtiketteer as ʼn postmodernis, het nooit van die
beskrywing gehou nie. Hy het homself liewer as ʼn man van die Nuwe Verligting beskou wat
verlig is oor die Verligting (Aufklärung) en nie toelaat dat die gees van die Verligting dogma
word nie (Caputo & Scanlon 1999:2). Putt (2008:487-8) som die essensie van dit wat as
11
“postmodernisme” (aldus Derrida se nuwe Verligting) bekend staan op, nie as ʼn terugkeer na
relativisme of veral nihilisme nie, maar as erkenning van die epistemologiese beskeidenheid
wat altyd die mens se beperkte, konkrete ervaring moet kenmerk. Dié beskeidenheid is
belangrik aangesien daar altyd in die konteks van konseptuele netwerke (bv. van klas, taal,
kultuur) geleef word en daarom is objektiwiteit, soos vereis deur Verligtings gedefinieerde
Rede, nooit moontlik nie.
Derrida se werk was veral krities verbind tot fenomenologie en strukturalisme - die groot
opponerende filosofiese diskoerse van die 1960’s in Frankryk. Hy het van die groot kwessies
in Westerse filosofie aangespreek, vrae rondom o.m. die wese van taal en menslike kennis,
die moontlikheid van waarheid, die bepaling van Wese (Being) en die legitimasie van
filosofie as ʼn epistémè. Sy lees van tekste vanuit die filosofiese sowel as literêre tradisie het
verreikende invloed uitgeoefen op verskeie gebiede waaronder filosofie, literêre kritiek,
kulturele studies, sosiologie, antropologie, geskiedenis en feminisme. Derrida se mees
omvattende bydrae is sy kritiek van die Westerse Aufklärung-tradisie, met die gevolg dat die
tradisie in dialoog met haarself tree (Margaroni 2001:92).
1.3.1 Dekonstruksie
Caputo se projek veronderstel ʼn basis-kennis van dekonstruksie-teorie en vandaar die
afdeling wat net enkele opmerkings maak oor die ontstaan en funksionering van dié teorie.
Dekonstruksie van enige dissipline of kulturele produk is moontlik. Alhoewel ooreenkomste
aangetref word, is dit anders as post-strukturalisme wat slegs op die linguistieke gebied
fokus. Dekonstruksie teorie word oorwegend gebaseer op die geskrifte van veral Paul de Man
(1919-83) en natuurlik Jacques Derrida (1930-2004).
Die voorloper van dekonstruksie word gevind in die werk van die Duitse filosoof Martin
Heidegger (1889-1976). Heidegger, wat graag die einde van die Westerse metafisiese tradisie
wou sien, het die konsep Abbau (afbreking) bevorder en gemeen dat bestaande metafisiese
konsepte vernietig (destruct) moet word om dit te herposisioneer. Hy wou die hele raamwerk
van Westerse metafisika onttakel en het die “fenomenologiese destruksie” van die
geskiedenis van filosofie nagestreef. Derrida leen van Heidegger se beginsels met die groot
aanpassing om dit minder ʼn ontologiese taak te maak en meer te fokus op die lees van tekste.
So is die “proses” dekonstruksie gebore. Die proses is die eerste maal gebruik in sy analise
12
van Plato se Phaedrus in Dissèmination. In Plato se skrywe word onderskeid getref tussen
spraak en skrif, waar eersgenoemde as spontane produk van die mensdom in ʼn bevoorregte
posisie geplaas word teenoor laasgenoemde as latere ontwikkeling, ʼn spreekwoordelike
giftige by-produk. Derrida keer op dekonstruktiewe wyse die hiërargiese verhouding om en
sien spraak as die by-produk van skrif, omdat spraak onmoontlik op sy eie kan voortbestaan
en sin maak. Die hoofdoel hiervan is om gegewe ordes, wette en reëls te destabiliseer om die
konsep différance te bevorder. Différance is ʼn eiesoortige, konseptuele “verskil” wat verseker
dat betekenis nooit heeltemal “daar” is nie. Hierdie omkeer van hiërargieë, veral duidelik in
relasie tot die binêre opposisie van skrif en spraak, kan enige opposisie in ʼn binêre paar (bv.
lig en donker, intern teenoor ekstern, warm en koud) skrap; dit ontbloot dat die paar nie
naastenby so geopponeer lyk, soos oorspronklik voorgekom het nie (Birns 2001:85).
Dekonstruksie is ook meer as ʼn blote metode, dit is ʼn droom; ʼn soektog na die totaal andere
(tout autre). Soortgelyk aan godsdiens word dit gevoed deur ʼn belofte, ʼn toekoms-
verwagting. In hierdie droom kom die onverwagse, die ander, en verpletter die verwagte
horisonne heeltemal. In dié soektog na die onmoontlike lê die openbaring opgesluit dat
dekonstruksie inherent ʼn religieuse struktuur het (Caputo & Scanlon 1999:3-4). Die
onmoontlike is vir Derrida ʼn saak van die advent (ad-veniens) van die onmoontlike, die koms
van iets totaal anders (tout autre), die koms (venue) of inkoms (in-veniens) wat nie
vroegtydig gesien of ingesien kan word nie (Caputo & Scanlon 1999:8).
So, hoe sal die dekonstruksie van ʼn konsep daaruit sien? Ter illustrasie van ʼn dekonstruksie-
handeling, sal die bekende voorbeeld van ʼn geskenk benut word. Aldus Derrida bestaan daar
nie iets soos ʼn geskenk nie, want die gee en ontvangs van ʼn geskenk is onmoontlik. Dit is dus
ʼn aporia. Waarom? Die verduideliking hiervan (baie) kortliks: Indien A ʼn geskenk aan B
gee, laat dit A goed lyk en plaas dit ʼn verwagting op B om haar dankbaarheid te betoon. Die
teenverwagting wat bewustelik of selfs onbewustelik deur A geskep word, maak die werklike
geskenk ʼn onmoontlikheid; ʼn ekonomie word outomaties geskep. Sodra die geskenk gegee
word, begin die kettingreaksie wat die geskenk nietig verklaar. In plek daarvan word ʼn
ketting van skuld en dank geweef gepaard met gelukwensing rondom skenker en ontvanger.
Dié kettingreaksie is nie die einde van die geskenk nie, maar liewer die begin, want Derrida
begin by die onmoontlike (Caputo & Scanlon 1999:8).
13
1.4 Vele stemme: Teoretici op dié gebied
Caputo (2002:89) praat van ʼn fundamentele teologiese projek van kontemporêre kontinentale
filosowe wat die God van metafisika wil verbygaan en die vraag stel: “Wat kom na die God
van metafisika?” Op dié gebied word filosofies op kreatiewe en konstruktiewe wyse nagedink
oor tradisionele teologiese motiewe. In die Christelike tradisie is daar verskeie inkarnasies
van hierdie postmoderne “a/teologie” of “sekulêre teologie”. In die verband kan die werk van
denkers soos Mark C. Taylor, John D. Caputo, Carl A. Raschke, en Charles E. Winquist
genoem word. Hierdie godsdienstige nadenke vind nie heeltemal “binne” of “buite” die
teologie plaas nie, maar in ʼn midde-sone. Dit leen by die teologie, filosofie en godsdienstige
studies (Hyman 2004:211-212). Op hierdie relatief nuwe godsdiensfilosofiese gebied is daar
talle geleerdes wat aktief deelneem aan die gesprek en verskeie bydraes lewer. Enkeles sal
slegs genoem word, terwyl daar op ander meer uitgebrei sal word.
Die filosoof Mark C Taylor was een van die eerste Amerikaners wat dekonstruksie teorie en
religieuse studies gekombineer het tot ʼn godsdiensfilosofiese sisteem. As deel van die eerste
vlaag van kontinentale filosowe op die gebied, distansieer hy homself van godsdiens –
simptomaties van die gees van sekularisme wat vormend was tot die denke en die kultuur van
latere modernisme (Robbins 2008a:1). Die gevolgtrekking waartoe hy kom, staan direk
teenoor die van Caputo: hy beskou dekonstruksie as die “hermeneutiek van die dood van
God” teenoor Caputo wat dekonstruksie veel eerder sien as die “hermeneutiek van God se
koninkryk” (sien hoofstuk 4). Taylor gebruik dekonstruksie om ʼn kulturele teologie te
formuleer in ʼn kultuur waarin God dood is (Carlson 2001b:388). In sy boek van 1984,
Erring, tree Taylor se argument dat dekonstruksie die hermeneutiek van God se dood is, ten
sterkste na vore. Die eerste weergawe van God se dood het gevange gebly binne sy onto-
teologiese kern. God is basies deur die mens vervang, teologie met antropologie, sonder om
die kern-aanname (m.a.w. die metafisiese) uit te daag. Taylor benut dekonstruksie, wat die
ganse idees van subjektiwiteit, metafisika, ontologie bevraagteken sodat God oplos sonder
oorblyfsel in die wêreld. God is beslis vir eens en vir altyd dood en alles is nou toelaatbaar is
(Aanlynbron:4). Die nabye identifisering van die radikale God-is-dood teologieë van die
sestigerjare en dekonstruksie lei dus tot die skepping van ʼn kenmerkende postmoderne
teologie gekenmerk deur postmoderne a/teologiese denke, vir alle praktiese doeleindes
agnosties teenoor godsdiens (Robbins 2008a:1).
14
In dieselfde God-is-dood-trant kan Richard Rorty se werk genoem word. Op ʼn keer het hy
homself as “religiously unmusical” beskryf (Rorty 2003:40). As ateïs toon hy geen
belangstelling in die vraag na God se bestaan nie. Syns insiens dien godsdiens as fondasie vir
kerklike instansies om politiese mag te bekom. Hy het niks teen gelowiges of hul geloof nie,
solank sulke persone se geloof geprivatiseer bly (Rorty 2003:40).
Die uitgangspunt van die Ierse filosoof en teoloog Richard Kearney in sy werk The God who
may be is dat gelowiges nie oor God moet praat as die handeling, daad of bedryf van alle
handelinge nie, maar dat God die moontlikheid van alle moontlikhede is, die moontlikheid
van die onmoontlike, die hoogste moontlike “dalk” (Caputo 2001b:311/ 2002:88). Hier is
sprake van ʼn passie vir die God wat kan wees, wat meer is as wat die verbeelding kan opdis,
meer as wat die verbeelding kan hanteer, die God wat selfs meer as God kan wees, wat eintlik
nog nie veel van Homself gewys het nie. Die moontlikheid van God word in terme van
eskatologie en nie onto-teologie nie gemeet (Caputo 2002:87). Kearney meen dat dit wyser
sal wees om God nie te interpreteer as suiwer Wese nie (onto-teologie) of as suiwer nie-Wese
nie (negatiewe teologie) maar as ʼn eskatologiese “dalk”. Sy hermeneutiek van godsdiens is
veral beïnvloed deur die werke van die Franse kontinentale filosoof Paul Riceour.
Die eerste fenomenoloog was die Duitse filosoof Edmund Husserl (1859-1938). Hy het
gedurende die tydperk 1901-1931 gepoog om die fenomenologiese metodologie te ontwikkel
wat ʼn logiese en ten volle wetenskaplike analise van epistomologie daar stel. Alhoewel die
term fenomenologie nie deur Husserl geformuleer is nie, kan die denke in sy werk gefundeer
word. Die denkstroom het eintlik eers deur die werk van Husserl se assistent, ʼn jong Martin
Heidegger, bekendheid verwerf (Cox 2006:9).
Jean-Luc Marion, ʼn sentrale figuur in fenomenologiese kringe in Frankryk, het ʼn ander
benadering tot die probleem van God en die transendente. God transendeer Wese (Being),
omdat Hy meer as dit is. Die onmoontlike bestaan ook nie vir God nie, omdat alles vir God
moontlik is. Metafisiese teologie het dus ʼn groot fout begaan om God in te perk tot die
kategorie “Wese”; op dié wyse word Wese verafgod. Vandaar die noodsaaklikheid om nuut
te dink oor God (Caputo & Scanlon 2007:5-6). Die onvoorwaardelike en onbegryplike
goedheid van God oortref onto-teologie se rasionele voorstelling van God as die hoogste
wese. Marion dink weer oor die onbegryplikheid van God in lig van moderne metafisika se
verkondiging van God se dood. Marion oorskry die perke van moderne onto-teologie met sy
15
Christelike begrip van ʼn “God sonder wese”, ʼn God wie se liefde alleen in die eerste
instansie wese na vore bring (Carlson 2001a:238).
Die fenomenologiese skrywes van Marion lei tot die ontstaan van ʼn nuwe
godsdiensfilosofiese stroming wat bekend staan as Radikale Ortodoksie (Radical Orthodoxy).
Hierin word moderne sekularisme, sowel as Kantiaanse metafisika gekritiseer en verruil vir ʼn
terugkeer na meer tradisionele leerstellings. Die standaardwerk wat die stroming se
leerstellings in detail bespreek, is die 1999 publikasie, Radical Orthodox: The New Theology.
Prominente teoloë op die gebied is John Milbank en J.K.A Smith.
Natuurlik is John Caputo ook nie alleen in sy nie-dogmatiese “Teologie van Swakheid”-
projek nie. Ander geleerdes wat hierby aanklank vind, is Gianni Vattimo en Jeffrey W.
Robbins. Die vermoede is eintlik al in 2006 bevestig met die publikasie van die drie se
gesamentlike poging After the Death of God. Vattimo se publikasies After Christianity (2002)
en The Future of Religion (2005) gee meer insae oor sy unieke benadering tot ʼn “Teologie
van Swakheid”. Die jong Robbins het nog nie te veel publikasies op sy kerfstok nie.
Noemenswaardig is die publikasies Between Faith and Thought: An Essay on the
Ontotheological Tradition (2003) en In Search of a Non-Dogmatic Theology (2004).
Op plaaslike bodem is die stem van Shutte (2005:299) op dié gebied hoorbaar. Volgens hom
kan daar slegs versoening tussen die godsdienstige en sekulêre, wetenskaplike
wêreldbeskouings kom indien daar nuut gedink word oor God. Hy meen dat daar in lg.
wêreldbeskouing nie ruimte vir ʼn bonatuurlike god, wat menslike vryheid inperk, is nie. Dit
is die gevolg van twee faktore: ʼn algemene, oorvereenvoudigde Godsbeeld (God as
bonatuurlike persoonlike mag) sowel as ʼn ingeperkte siening van menslike vryheid.
Kenmerkend van hierdie “nuwe soektog na God” is dat die oorgrote meerderheid
postmoderne godsdiensfilosowe (Caputo ingesluit), na aanleiding van Levinas, die
fenomenologiese argument aangryp. Hiervolgens kan God nie deur die mens se nietige
verstand begryp word nie, en daarom kan daar ook nie oor Hom gepraat word in voorlopige
taal nie. “God”, in aanhalingstekens, kan slegs beskryf word as die moontlikheid van
andersheid (die onmoontlike) wat in die subjek se ervaringsveld kan plaasvind (Kavka
2003:225). Fenomenologies van aard in Levinas se argument, is dat elke ander persoon ook
die totaal andere is wat nooit bereik kan word nie; dus word beweeg van die vertikale na die
16
horisontale vlak. Die mens kan in die gesig van die Ander, God raaksien, die totaal andere.
Op die wyse kan godsdiens dan ook as’t ware sonder godsdiens beoefen word (Robbins
2008b:34).
1.4 Samevatting
John Caputo se kontinentale filosofiese agtergrondkennis kom duidelik na vore in sy
teologiese teoretisering en daarsonder sou sy “Teologie van Swakheid” nie ʼn realiteit wees
nie. Veral die naam van Derrida moet genoem word, aangesien hy oorspronklik
dekonstruksie-teorie gebring het tot waar dit nou is. Caputo bedank gereeld Derrida vir sy
invloed en daarom kan sy invloed nie onderskat word nie. Interessant is om agter te kom hoe
ander geleerdes met ʼn soortgelyke agtergrond en dieselfde filosofiese bronne tot
uiteenlopende gevolgtrekkings kom. Caputo is aktief besig met ʼn dekonstruksie van die
dekonstruktiewe a/teologie van postmoderne denkers soos Taylor (Robbins 2008a:3). Dit
illustreer aan die leser dat Caputo se standpunt nie noodwendig die alfa en die omega is nie,
maar dat daar ook na ander se werke gekyk kan word. Vir dié studie se doeleindes sal daar
slegs gefokus word op die werk van Caputo en die bydrae wat dit kan lewer tot die
gereformeerde teologie.
17
HOOFSTUK 2:
DIE GESKENK: ENKELE TEKSTE1
2.1 Inleiding
Indien daar gepoog word om John Caputo se “Teologie van Swakheid” korrek te verstaan, is
dit noodsaaklik om dieper te delf in enkele primêre bronne. Hierdie hoofstuk word dus gewy
aan ʼn in-diepte-lees en opsomming van vier werke gepubliseer in die dekade 1997 – 2007.
Bronne vir die taak is nie lukraak geselekteer nie; elk het ʼn waardevolle bydrae te lewer tot
die studie van Caputo se “Teologie van Swakheid” .
2.2 Dekonstruksie in ʼn neutedop!2 (Caputo 1997a)
Wat is dekonstruksie? Daar was beslis ʼn tydvak in die verlede dat talle geleerdes gedink het
dat hierdie ʼn vraag is wat nie beantwoord kan word nie; ʼn soort enigma, ʼn eenvoudige vraag,
sonder eenvoudige antwoorde. Die situasie het met die inhuldiging van ʼn nuwe doktorale
program aan die filosofie departement te Villanova universiteit op 2 Oktober 1994 ingrypend
verander. Daar is ʼn gespreksgeleentheid tussen filosowe aan die departement en Jacques
Derrida oor hierdie vraag gereël. Die blywende vrug wat deur die geleentheid afgewerp is, is
die publikasie van dié gesprek in boekvorm deur die moderator van die geleentheid, John D.
Caputo. Verder is die werk verryk deur die gebruik van kruisverwysings na Derrida se ander
werke en ʼn kommentaar om moeiliker sake te vereenvoudig. Die voortspruitende publikasie,
Deconstruction in a nutshell (voortaan DCNT), het baie gedoen om eersgenoemde vraag te
beantwoord en word wyd gereken as ʼn standaardwerk in dekonstruksie studies. Caputo (3)
slaag dus in sy intensie: “What follows is, I think, as eloquent and reliable an ‘introduction’
to deconstruction as one is likely to find.” Myns insiens, is die werk noodsaaklik tot die
verstaan van dekonstruksie.
1 Teksverwysings in die onderskeie afdelings kom vanuit die bespreekte boek, behalwe as daar anders aangedui word.
2 Hoofstuk 7 van die boek wat handel oor Derrida se lees van James Joyce is irrelevant vir die studie en word nie behandel nie.
18
Struktureel is DCNT logies en sistematies georden. Dit is in twee dele verdeel.
Deel een is ʼn transkribering van die tafelgesprek tussen Derrida en die Villanova filosowe
met Caputo se kommentaar op die gesprek as deel twee. Die eerste hoofstuk van deel twee
dien as inleiding tot die kommentaar, met ses sg. Neutedop-beskrywings van verskillende
konsepte wat volg. Aangesien die oorgeskryfde gedeelte nie op ʼn uitgewerkte manuskrip
gebaseer is nie, kan dit soms effe verwarrend voorkom. Tong in die kies, kan wel gesê word
dat vanweë die inhoud van Derrida se skrywes (en sy skryfstyl) dit steeds minder verwarrend
is as enige van sy werke.
Dekonstruksie is nie bloot een ding nie en daarom is dit onmoontlik om ʼn enkele definisie
daarvoor te gee. In Derrida se eie woorde, is dekonstruksie nie ʼn metode of stuk gereedskap
wat op ʼn teks toegepas kan word nie, maar liewer ʼn gebeure binne die teks (9).
“Deconstruction is the relentless pursuit of the impossible...” (32). Dit is waar die sg.
onmoontlike aporias inkom. Die Griekse term aporia, as word deur Newman (1993:22)
vertaal as “despair, perplexity”, terwyl die werkwoordvorm van die stam aporew vertaal
word as “be at a loss, be uncertain, be disturbed”. Die gemene deler in al die aporias is hul
kondisie van onmoontlikheid, soos geïllustreer in Derrida se opmerking: “... the gift is
precisely, and this is what it has in common with justice, something which cannot be
reappropriated.” (18). Dit is die onmoontlike aard van die aporias wat die dekonstruksie
gebeurtenis voed (32). Die koms van die andere, wat nooit werklik moontlik is nie (42, 53).
Dekonstruksie word deurgaans gevoed deur ʼn droom. Die inkoms van die ander, van iets
totaal nuuts, iets totaal unieks en idiomaties, ʼn absolute verrassing.
Caputo weerlê vroeg in sy skrywe die gedagte dat dekonstruksie die beliggaming van
relativisme is. In die verband verwys hy na die 1992 doktorsgraad-debakel by Cambridge
universiteit waartydens akademici teen die toekenning van ʼn doktorsgraad aan Derrida was,
omdat hulle van mening is dat dekonstruksie relativistiese onsin is. Die opebrief wat op 9 Mei
1992 in die London Times verskyn het, kan aanlyn verkry word by:
http://courses.nus.edu.sg/course/elljwp/againstdsdegree.htm (26 Februarie 2009).
Die ses “neutedoppe” wat uitbrei oor die aard van dekonstruksie, is as volg: “die reg tot
filosofie”, “die liefde vir die Grieke” (oftewel Griekse/ hellenistiese filosofie), “ʼn
gemeenskap sonder gemeenskap”, “geregtigheid”, “die messiaanse” en “ʼn bevestigende ja”
(48).
19
Die uitgangspunt van die eerste neutedop is dat elke mens die reg tot filosofie (om te
filosofeer) het. Dekonstruksie is die uitoefening van hierdie reg. Die voorreg wat outomaties
hierby ingesluit word, is dat alles bevraagteken kan (en moet) word. Daar is geen heilige
koeie nie, dit geld vir elke lewensterrein – die politiek, regte, godsdiens, wetenskap en ja,
selfs filosofie (51). In dekonstruksie mag enige vraag gevra en enige gedagte bedink word.
Hierdie “beleid” van totale vryheid het tot gevolg dat mense angstig raak en dekonstruksie
summier afskryf as relativisme. Sonder dié vryheid sou die Nuwe Verligting nie moontlik
wees nie. Waar die ou Verligting menslike rede verabsoluteer het, wil die nuwe Verligting
liewer vra na die rede van die rede. Om nie meer in die ou idioom geloof teenoor rede te
plaas nie, maar in te sien dat geloof rede deurweek (55). Die filosoof funksioneer nie meer in
die tydsgees as regter nie, maar liewer as nomade, saam op reis en op soek na die antwoorde.
Die volgende hoofstuk (71) begin met ʼn ware verhaal oor ʼn wetenskaplike (Alan D. Sokal)
wat op absurde wyse gepoog het om d.m.v. “dekonstruksie” te “bewys” dat gravitasie-kragte
nie bestaan nie. Sy ware agenda was om die gevaar van dekonstruksie vir objektiewe
werklikhede aan te toon. Waarmee hy besig was, was liewer destruksie. Dekonstruksie sal
objektiewe wetenskaplike “waarhede” op hul tone hou en nie alles bloot op eerste oogopslag
aanvaar nie. Die feit van die saak is dat wetenskaplike “waarhede” telkens ideologies gekleur
is en dat beperkte tegnologieë tot gevolg kan hê dat iets bestaan of nie bestaan nie; navorsing
rondom die menslike DNA is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. ʼn Dekonstruktiewe benadering
tot die natuurwetenskappe sal die voorwaarde stel dat wetenskaplike “wette” altyd
dekonstrueerbaar is in lig van ʼn komende wetenskap, dalk onvoorsienbaar in die
teenwoordige tyd. Dekonstruksie van enige vakgebied, is niks anders as ʼn poging om dit oop
te maak en horisonne te verbreed nie (74). ʼn Dekonstruktiewe lees van ʼn teks sien as volg
daaruit: die eerste lesing het ten doel om die oppervlakte te skil en eers vanaf die tweede
lesing kan dekonstruksie plaasvind. Eers dan kan vrae rondom die outeur, die skryfstyl, die
bewoording, wat geskryf word en meer spesifiek wat nie geskryf word nie, geopper en
gedekonstrueer word. Dit kan die soektog na die gaping tussen outeur en teks genoem word
(78). Dekonstruksie verban nie objektiwiteit nie, maar herformuleer dit, want on/gelukkig is
daar grys areas in die lewe.
Die titel van hoofstuk 4, Gemeenskap sonder gemeenskap, gaan verder met die aporetiese
gedagtes van Derrida. Is ware gemeenskap moontlik? ʼn Groep dra meestal die titel
“gemeenskap” vanweë ooreenkomste in identiteit (bv. taal, kultuur, ideologieë), terwyl ware
20
gemeenskap implisiet dui op inkorporasie van die ander. Problematies is die wanindruk van
gemeenskap as iets positiefs, terwyl dit in realiteit iets negatiefs is wat die ander ten alle koste
uitsluit en mense wat dieselfde is (identies in ʼn sin) veilig begrens (113). Werklike
gemeenskap is onmoontlik, want “gemeenskap” verwys na iets buite die begrip. Die begrippe
identiteit en gemeenskap word meer konkreet sodra ʼn derde, verwante saak gedekonstrueer
word – die aporia van gasvryheid. Gasvryheid is in die ware sin van die woord ʼn
verwelkoming van die ander. Etimologies toon Caputo aan dat die Latynse stamwoorde op
die bemagtiging van ʼn vreemdeling dui (111). Die een wat gasvry optree, bly in die
gesagsposisie alhoewel hy die ander (persoon) bemagtig. Die gasheer kan slegs dit wees
indien hy die eienaar van die plek is en op die wyse die geskenk (aan die ander) beperk.
Wanneer iemand welkom geheet word en daar word gesê dat die persoon homself tuis moet
maak, is dit nie heeltemal waar nie, want dit is steeds die eienaar se eiendom waar hy verwag
dat die ander binne sy reëls sal bly. Dit is die teenstrydigheid van gasvryheid wat daarvan ʼn
aporia maak. Ware gasvryheid vind slegs plaas indien daar buite die grense van gasvryheid
beweeg word. Daarom kan dit slegs ervaar word en is dit nie kognitief verstaanbaar nie; dit
behoort tot ʼn ander orde wat objektiewe kennis en kognitiewe redenasies transendeer (112).
Gasvryheid is, soos dekonstruksie, nie teorie nie, maar praksis.
Geregtigheid, indien so iets bestaan, beslaan die volgende hoofstuk. Geregtigheid is ʼn saak
wat Derrida na aan die hart lê. Sy passie vir geregtigheid kan voor die deur van sy kinderjare
gelê word. Jong Jacques, ʼn Jood wat in koloniale Algerië grootgeword het, het die pyn van
Nazisme en die Tweede Wêreldoorlog aan sy lyf gevoel en vandaar sy voortdurende
worsteling met die vraag na geregtigheid (126). Geregtigheid is ʼn saak wat ook
dekonstruksie, Caputo en die Christelike geloof na aan die hart lê. Dit is, indien daar iets soos
geregtigheid bestaan.
Dekonstruksie is in essensie verwant aan dit wat nie dekonstrueerbaar is nie en is
onsamehangend daarsonder. Dit wat nie gedekonstrueer kan word nie – geregtigheid, die
geskenk, gasvryheid, die ander – is nie werklikheid of ideaal, toekomstig of teenwoordig nie
en dit is juis dié aspek wat veroorsaak dat dekonstruksie ʼn werk van passie en vooruitgang is
(129). Volgens Derrida is dekonstruksie geregtigheid. In regwetenskaplike kringe is
dekonstruksie van die wet geregtigheid. Die twee verwantes staan teenoor mekaar, aangesien
die een ʼn realiteit is en die ander ʼn onmoontlikheid, die een ʼn menslike sisteem, altyd geldig
en die ander situasie gebonde. Die wet is ʼn mensgemaakte sisteem geïnstitusionaliseer met
21
bepaalde doelwitte in gedagte. Wette word maklik gedekonstrueer. Die Apartheidswette kan
as voorbeeld gebruik word. Dit het nie vreeslik lank geduur voordat dit duidelik geword het
dat die wette nie handel oor geregtigheid nie, maar oor die beskerming van ʼn
minderheidsgroep. Hierteenoor staan geregtigheid wat nie dekonstrueerbaar is nie. Dit kan
nie geformuleer word en sistematies uiteengesit word nie. Die beginsels van geregtigheid is
altyd geldend. Geregtigheid is ʼn gebeurtenis wat plaasvind, iets wat (soos gasvryheid) ervaar
moet word. Dekonstruksie van die wet is noodsaaklik vir die geskied van geregtigheid (131).
Geregtigheid kan nie sonder dekonstruksie geskied nie; dekonstruksie van die wet, die
misdaad en die misdadiger.
Die strewe na geregtigheid, die onmoontlike, veroorsaak dat dekonstruksie toekomsgerig is.
In dié sin is dekonstruksie eskatologies van aard. Die onmoontlike is nie die eenvoudige,
logiese teenpool van die moontlike, soos x teenoor nie–x nie; dit is die spanning, die
verlamming, die aporia om die horison van moontlikheid oor te steek (133). Dit is interessant
om te let op die feit dat Caputo (135) die eerste maal die verbintenis maak tussen die
koninkryk van God en geregtigheid. Volgens sy analogie pyn die hart van geregtigheid oor
die enkele gevalle waarvoor die wet nie voldoende voorsiening maak nie, soos God die Vader
wat meer bekommerd is oor die een verlore skaap as die nege en negentig wat veilig in die
kraal is (Matt. 18:10-14).
Laastens, word die “messiaanse verwagting” van dekonstruksie behandel. Dekonstruksie se
toekomsgerigtheid verleen ʼn messiaanse dimensie daaraan. Dié toekomsgerigtheid fokus nie
op dit wat moontlik is nie, maar liewer op dit wat onmoontlik is en alle verwagtinge oortref;
ʼn verlange na geregtigheid, die geskenk, demokrasie en gasvryheid. In ʼn Christelike idioom,
die verlange na die wederkoms van Christus. Dit is die onmoontlike wat alle verwagtinge
oortref, die koms van God se koninkryk wat totaal anders as menslike koninkryke is (Joh.
18:36).
Die sogenaamde “turn to religion” in dekonstruksie word in die messiaanse ondertone
aangetref (158). Dekonstruksie is ʼn seëning vir godsdiens. Dekonstruksie laat ruimte vir die
transendente in die hoop op die toekoms en dit skep ruimte vir godsdiens om kritiek oor
homself te lewer, na binne te kyk en iets nuuts te vind. Dit beskerm godsdiens van allerlei -
ismes, want voortdurende dekonstruksie ontbloot dwaalleer. Dekonstruksie is nie die
destruksie van godsdiens nie, maar die herskepping daarvan (159).
22
Deconstruction in a nutshell is noodsaaklike leesstof vir individue wat hulself in
dekonstruksie-teorie wil verdiep. Dit is, tot op hede, die eenvoudigste en mees volledige
inleiding tot dekonstruksie-teorie wat die skrywer al onder oë gehad het. Terselfdertyd is dit
fundamentele studiemateriaal, ʼn nuttige verklarende handleiding tot die bestudering van
Caputo se godsdiensfilosofiese uitgangspunte.
2.3 Oor G/godsdiens (Caputo 2001a)
John D Caputo se eerste boek wat eksplisiet oor godsdiens handel, On Religion, is in 2001
gepubliseer en vorm deel van die Thinking in Action-reeks. Die reeks beoog om boekgeleerde
filosofie na die publiek te neem deur die skrywes van toonaangewende filosowe oor ʼn breë
verskeidenheid sake. Die sentrale vraag wat in die skrywe gevra word: “Indien God dood is
(Nietzsche), waarom is godsdiens (turn to religion) terug?” Caputo se tesis: “Religion may be
found with or without Religion” (3, 11). Dié gedagte is (vanselfsprekend) Derridiaans van
oorsprong. Alhoewel die boek op leke gerig is, is ʼn agtergrondkennis van enkele filosowe
noodsaaklik tot die verstaan van Caputo se argumente.
Getrou aan die aard van dekonstruksie-teorie skop Caputo af met ʼn dekonstruksie van die
boek se titel On Religion. Sy uitgangspunt is dat religie, oftewel godsdiens, nie werklik
bestaan nie. Religie/godsdiens is te breed om op eenvoudige wyse in ʼn enkele uitdrukking
saamgevat te word (1). Onsekerheid oor ʼn moontlike vertrekpunt vir die belangrike skrywe,
noodsaak die analitiese begin. As godsdiens dan wel een ding moet wees, wat sal dit wees?
Aldus Caputo is dit die liefde van God. Godsdiens is die liefde van “God” (3). Die gedagte is
gebaseer op ʼn vraag in een van Augustinus se belydenisse: “Wat het ek lief as ek my God
liefhet?” Die vraag word deurgaans in On Religion gevra en Caputo erken dat Augustinus,
wie se belydenisse as ruggraat dien vir die boek, sy held is (27).
“Wat het ek lief as ek my God liefhet?” Dít is die vraag (2, 6). Dieselfde vraag is al voorheen
in Caputo se werk aangetref (Caputo 1997b:xxii) en bly steeds onbeantwoordbaar! In
godsdiens staan die liefde sentraal. Godsdiens is die terrein van minnaars en minnaresse (2).
Die teenoorgestelde van ʼn godsdienstige persoon is ʼn liefdelose persoon (3). Liefde is die
maatstaf waarteen alles opgeweeg behoort te word. Die onortodokse stelling noodsaak juis ʼn
Christelike beoordeling: word godsdiens dalk gerelativeer tot blote liefde van iets of iemand?
In die verband moet onthou word dat die boek nie eksklusief op die Christelike mark gerig is
23
nie, maar op die sekulêre. Volgens Caputo is liefde die onmeetbare maatstaf. Die
onvoorwaardelike. “Love is not a bargain, but unconditional giving; it is not an investment,
but a commitment come what may. Lovers are people who exceed their duty...” (4). “The
mark of really loving someone or something is unconditionality and excess, engagement and
commitment, fire and passion.” (5). Met die definisie van liefde kan nie veel fout gevind
word nie, maar waar laat dit God? Liefde en God loop hand aan hand want God is liefde,
maar liefde is nie God nie.
Soos verwag, staan die onmoontlike as sentrale motief tot sy studie van godsdiens (10) en
voorbeelde van die onmoontlike (bv. die maagdelike geboorte) kom vanuit die evangelies
volgens Markus en Lukas. Die onmoontlike staan teenoor dit wat moontlik is. Die moontlike
is dit wat beplan in die toekoms lê, terwyl die onmoontlike soos ʼn dief in die nag (1 Tes. 5:2)
verwagtinge oortref en ʼn nuwe werklikheid skep. Eersgenoemde word as die relatiewe
toekoms omskryf en laasgenoemde as die absolute toekoms (8). Sonder ʼn godsdienstige
bewussyn is die absolute toekoms onmoontlik, want dit is ʼn toekomsverwagting wat die
moontlike oorskry; in kort, die Koninkryk van God (14). Sodra die terrein (van die
onmoontlike) betree word, is onsekerheid en vertroue op God aan die orde van die dag, want
hier is geen menslike waarborge nie. Dit gaan oor geloof, ʼn geloof wat die menslike verstand
te bowe gaan en mense transformeer (14). Daarom is die verhaal van die maagdelike
geboorte noodsaaklik tot die verstaan van die Christelike geloof; in God is die onmoontlike ʼn
moontlikheid! Gee die onmoontlike prys, en die moontlikheid van God word prys gegee!
Godsdiens is ʼn verbondsluiting met die onmoontlike. Werklike geloof is om te glo in dit wat
onmoontlik is (12). Om te hoop wanneer alles hopeloos lyk (Rom. 4:18). Om lief te hê
wanneer dit onmoontlik is om lief te hê. Anders gestel, om iemand lief te hê wat nie geliefd
kan wees nie. Christus se opdrag: “Julle moet julle vyande liefhê...” (Matt. 5:44) is die
onmoontlike! Slegs hoop en geloof kan iemand dra in die onkenbare terrein van die
onmoontlike. Hierdie is ʼn onveilige gebied, want beheer word oorgegee.
Caputo poog om ʼn meer radikale interpretasie van godsdiens aan sy lesers te verskaf wat
teenoor die meer tradisionele idee van godsdiens as verwysend na bepaalde
godsdiensgroeperinge of denominasies staan. Hiermee word die rol van die onderskeie
institusionele godsdienste gerelativeer tot basiese rigtingwysers. Caputo se onortodokse
denke is nie noodwendig ʼn aanval op konfessionele godsdiens nie (32). Daar hoef nie ʼn
keuse gemaak te word tussen ortodokse godsdiens en die “godsdiens sonder godsdiens” nie.
24
Die twee uiteenlopende weë moet voortdurend mekaar uitdaag, aangesien geen individu of
organisasie al die antwoorde het nie. Dié breër verstaan van godsdienstigheid het tot gevolg
dat gesekulariseerde individue ook godsdienstig kan wees. ʼn Liefdelose persoon en ʼn
sekulêre persoon is nie noodwendig dieselfde nie. In dekonstruksie sowel as in godsdiens, is
daar ʼn messiaanse verwagting vir die koms van die onmoontlike. Selfs die berugte ateïs Karl
Marx, vader van Marxisme, het in ʼn reële sin uitgesien na die aanbreek van ʼn (Messiaanse)
tydperk waarin almal gelyk is. Die onmoontlike situasie waar die arm-meerderheid nie meer
gemarginaliseerd is terwyl die ryk minderheid hul uitbuit en floreer nie (17). Dalk het Marx,
onbewus van die feit, ook gesmag na die koms van God se koninkryk.
Die geheim opgesluit in menslike bestaan is dat die mens nie regtig weet wie hy/sy is nie.
Almal is op soek na sin en betekenis in die lewe. Die soeke sluit aan by die rustelose hart van
Augustinus. Caputo se uitgangspunt: “We do not know who we are – that is who we are.”
(18). Die vraag - wie is ek? - brand soos vuur in die hart van die godsdienstige persoon en
fasiliteer ʼn voortdurende ontmoeting met die onmoontlike wat hom/haar na hoër hoogtes lei.
Die gegewe feit dat almal onseker is, word ʼn pleidooi tot meer beskeidenheid by veral
gelowiges om vrae lewendig te hou en op God te vertrou. Dan kan hulle, soos Abraham en
Maria, hulself beskikbaar stel met die onvoorwaardelike woorde: “Hier is ek!” (28). Dit is
elke gelowige se verantwoordelikheid om die onmoontlike te doen. Dit verg ʼn hand-
spiritualiteit, om nie net na te dink oor die betekenis van God se naam nie, maar om aan te
meld vir diens. Die gelowige word ʼn lewendige, lopende belydenisskrif: “Alhoewel God
hopeloos te groot is vir my begrip, sal ek steeds glo, hoop, liefhê en doen.” Geloof is nie
belaai met antwoorde nie, dit is veel eerder ʼn reistog (36).
Wie is ek? Wie is God? Wat het ek lief as ek God liefhet? Hierdie vrae loop soos goue drade
deur die hele skrywe. Vrae wat eintlik eers na ʼn ontmoeting met God gevra kan word. Dit is
nie om dowe neute dat Augustinus se bekende vraag eers na sy bekering ontstaan nie, die
moontlikheid van Goddelike herskepping in ʼn persoon se lewe is eers moontlik nadat die eie-
ek opgegee word. Sonder ʼn liefde vir God is die vraag onbeantwoordbaar (lees: onmoontlik).
Selfs vir geleerde teoloë is die soeke na kennis van God onmoontlik sonder ʼn liefde vir God
(30). Die gedagte van Jesus as dekonstrueerder word dan sigbaar (35). Die tesis dat Christus
nie die antwoord is nie, maar liewer ʼn bruisende fontein van meer vrae rondom die
werklikheid verteenwoordig, word ses jaar later verder deur Caputo ontwikkel in sy boek
What would Jesus deconstruct?
25
In ʼn kort historiese oorsig word die geskiedenis van die mensheid in drie tydperke geplaas
nl.: die sakrale, sekulêre, post-sekulêre (37). Dié oorvereenvoudigde uiteensetting van die
geskiedenis is voldoende vir die doel van die skrywe. Die verkorte gevolgtrekking lui as
volg: Modernisme (by name, die oorheersing van menslike rede) is dood; daarom is dit weer
moontlik om oor die onmoontlike (wat menslike rede transendeer) te praat. Die rasionele het
nie noodwendig die laaste sê nie. Die Nuwe Verligting het gearriveer en sy regmatige plek in
die geskiedenis kom inneem.
Daar word van enkele profetiese figure gebruik gemaak om die kontoere van elke epog daar
te stel. Eerstens, word Anselmus as verteenwoordiger van die sakrale tydperk aangetref (39).
Hy het in die 11de eeu n.C. sy bekende argument vir die bestaan van God beredeneer. Syns
insiens moes God bestaan aangesien die mens ʼn woord het wat na Hom verwys en gedagtes
het rondom sy wese. Die verwysende taal kon nie bloot uit die lug geval het nie en moet na
iets wat werklik bestaan, m.a.w. God, verwys.
Tydens die sekulêre era, wat in die 17de en 18de eeu sterk te voorskyn gekom het, is die
argument omgekeer. Immanuel Kant, die figuur wat die tweede tydperk verteenwoordig, het
met sy ontologiese argument (44) aangevoer dat menslike rede die nuwe regter is. Die regter
moet ʼn oordeel oor alles, God inkluis, fel. Kant het as’t ware soos ʼn polisieman opgetree. Hy
het die grense van die moontlike gepatrolleer en geen behoefte gehad om die grense te
verbreed en ruimte te maak vir die onmoontlike nie (49).
Laastens, is die profete van die post-sekulêre fase Kierkegaard en Nietzsche (49). Caputo
meen dat die twee, albei vanuit die 19de eeu, ook die post- in die postmoderne gesit het.
Beide het ʼn geweldige probleem met die Christendom van hul tyd gehad, maar het
verskillende oplossings daartoe geopper. Kierkegaard was van mening dat “Christene” (die
woord word tussen aanhalingstekens geplaas aangesien daar ʼn groot verskil tussen Christene
en gelowiges kan wees) moet terugkeer na ʼn Bybelse (teenoor ʼn modernistiese) siening van
die godsdiens. In sy eie woorde: “...the God of Abraham and Isaac had not come into the
world in order to get an account of himself from German metaphysicians.” (50). Nietzsche
was meer ingenome met Dionysus as Christus en het sy paadjie van die ekstase wat in
estetiese plesier gevind kan word verkies bo Christus se lydensweg en geloof in God. Hierdie
filosofie sou later as Nihilisme bekend staan; die lewe het nie sin nie en al wat gedoen kan
word, is om die beste daarvan te maak, elkeen vir homself, oorlewing van die sterkstes.
26
In die hoofstuk getiteld May the force be with you wys Caputo aan die leser dat godsdiens
ook evolusie ondergaan. Vir lesers wat hulself al in die vakgebiede van antieke godsdiens en
kerkgeskiedenis verdiep het, sal die stelling nie ʼn groot verrassing wees nie. Wat wel
interessant is, is hoedat hy, in aansluiting met die stelling, die samelewing van die
tegnologiesgesinde post-sekulêre wêreld en die religieuse wêreld aantoon. Nietzsche was
verkeerd in sy kreet dat God (as simbool van die metafisiese) dood is, want in die
elektroniese era, die era van die kuberruim, het realiteit (in die sin van die fisiese) irrelevant
geword. Die wêreld is weer plat, deurdrenk met die metafisiese. Die titel van die hoofstuk
verklap die feit dat dit hier gaan oor die godsdiens van Star Wars (78). Talle jong mense kry
juis vandag hul “godsdienstige” onderrig deur films, soos die Star Wars reeks, terwyl hulle
totaal oningelig is oor tradisionele religieuse waarhede en dogmas. Wat volg is ʼn uitstekende
godsdienstige ontleding van Star Wars (78-90) as metafoor vir die teenstrydigheid wat talle
gelowiges vandag ervaar in hul aanhang van ʼn premoderne godsdiens teenoor die realiteit
van hul tegnologiesgeïnformeerde wêreld. In die veraf heelal van Star Wars is daar nie ʼn
onderskeid tussen die godsdienstige en publieke terreine van die lewe nie, want albei het iets
te sê vir die ander.
Daar word in die laaste twee hoofstukke teruggekeer na die begin en die argument dat
godsdienstiges minnaars en minnaresse is, loop ʼn volsirkelgang. Godsdienstige mense is
onmoontlike mense. Hulle is individue wat altyd op soek is, wat altyd op reis is. Hulle is
nooit tevrede met die werklikheid nie, want in hul geestesoog het hulle reeds die onmoontlike
gesien. Deur ʼn ontmoeting met God het hulle dalk al selfs iets daarvan ervaar. Vir die
liefdelose mens, oftewel a-godsdienstige mens, is die strewe na die onmoontlike nie
verstaanbaar nie; krasser gestel: dit is vir hulle onsinnig. Op die terrein gaan dit nie oor
verstaanbaarheid nie, maar oor ervaring. Menslike ervaring is dalk dan in ʼn sin godsdiens.
Daarom die ruimte vir die godsdiens sonder godsdiens, en liefde as sentrale begrip vir die
soort godsdiens van Caputo.
Die uiting “God is liefde” is sy godsdienstige middelpunt (125). Hy meen dat individue nie
regtig weet wie hulle is nie; so hoe wil hulle al die antwoorde gee? Dalk is die antwoorde in
elk geval oorbodig; daar is ʼn onderskeid tussen passie, kennis en geloof. Die onderskeid
verleen geldigheid aan sy kritiek teen die geïnstitusionaliseerde geloofsbelydenisse (128).
Lesers word herinner aan Maria se onvoorwaardelike antwoord op die openbaring van die
engel Gabriël. Die implikasie hiervan is om deurgaans te bevraagteken en voortdurend in die
27
geloof te wandel. Die lewe neem nie ʼn enkele tree vorentoe sonder geloof nie. “God is a how,
not a what!” (136).
2.4 God en swakheid: ʼn Gebeurtenis (Caputo 2006)
In die voorwoord van die boek, wat kort na die tsunami van Desember 2004 geskryf is, word
talle geestelike leiers se interpretasie van God se betrokkenheid by hierdie natuurramp deur
die skrywer gekritiseer. In dié interpretasies word God as ʼn sterk mag beskou wat gekies het
om nie die tsunami te keer nie. Caputo bevraagteken dié sienings en meen dat dit
godslasterlik is; daarom is die boek: “...an attempt to think of God otherwise.”
The Weakness of God is in drie dele geskryf: twee hoofdele met ʼn “hermeneutiese
tussenbedryf.” Deel een handel oor God en is gestruktureer volgens die ses skeppingsdae.
Caputo wil ʼn sterk argument daar stel dat God ʼn “swak” mag is. Die doel van die
hermeneutiese tussenbedryf is om onderskeid tussen onderlinge kategorieë van sterk en swak
magte, meer duidelik te tref. In die tweede deel word gefokus op die koninkryk van God, met
die Onse Vader-gebed wat as struktuur hiervan dien. Daar word nie slegs gebid vir die koms
van God se koninkryk nie (vanselfsprekend relevant vir die gedeelte), maar daar word ook
aangetoon dat gebed nie eksklusief die terrein van gelowiges is nie. Alle mense hunker na iets
en bid (soms onbewustelik) daarvoor.
Inleidend, erken Caputo dat hy ʼn swakplek vir teologie het. Teologiese besinning is een van
sy begeertes. Teologie nie as onto-teologiese projek nie, maar as voortdurende besinning oor
die naam van God (301). Die onderwerp van sy skrywe is dan ook die naam van God - God,
die naam van God en wat gedoen word in die naam van God (2). Sy verlange om teologie te
beoefen is ʼn verlange na God, ʼn verlange na ʼn gebeurtenis wat hy nie kan omskryf of
voorsien nie, alhoewel hy daagliks daarvoor bid.
Die naam van God dui op ʼn gebeurtenis. Daarvolgens is teologie ʼn dekonstruksie van die
naam van God en dus terselfdertyd ʼn hermeneutiek van die gebeurtenis (7). Agt kategorieë,
noodsaaklik tot die verstaan van hoe die naam en die gebeurtenis aan mekaar verwant is,
word gebruik om die kontoere van dié unieke verhouding uit te stippel (2-7):
Uncontainability: Die naam dien slegs as tydelike skuiling vir die gebeurtenis, omdat
die gebeurtenis altyd die naam oortref. Name kan gedekonstrueer word; gebeurtenisse
28
nie. ʼn Gebeurtenis hou altyd belofte in; ʼn belofte op die toekoms waarvoor in
afwagting gewag word. Die belofte is die onmoontlike.
Translatibility: Name, wat in die semantiese domein gehuisves word, kan herhaaldelik
vertaal word. Gebeurtenisse, wat in ʼn totaal ander domein gevind word, is
onvertaalbaar.
Deliteralization: Die naam dui op ʼn gebeurtenis wat te groot is vir menslike begrip.
Dit veroorsaak dat die gebeurtenis tot iets meer verstaanbaar inkrimp. Die
voortdurende verenging kan veroorsaak dat die naam al minder op die werklike
gebeurtenis dui. Die risiko verbonde hieraan is dat die gebeurtenis saam met die naam
verklein word, met die gevolg dat die werklike gebeurtenis en dít waarop die naam
dui, glad nie dieselfde is nie. Die verduideliking verklaar Caputo se weersin in
belydenisskrifte, wat ten doel het om die naam (en gebeurtenis) te verskraal tot iets
verteerbaar, wat die gebeurtenis nooit kan wees nie.
Excess: Die gebeurtenis “gebeur” met persone, nie anders om nie. Die gebeurtenis
speel in op hul lewens en is groter as hulle en hul vermoëns; dus is dit ook ʼn Advent
(4).
Evil: Sukses word nie gewaarborg vir die gebeurtenis nie. Die gebeurtenis is ʼn belofte
wat in stand gehou moet word. Hierin lê die moontlikheid van mislukking vir die
gebeurtenis opgesluit.
Beyond Being: Die gebeurtenis verwys nie na ʼn “iets” (wese, entiteit) nie, maar na ʼn
gebeure. Die gebeurtenis oortref naam, wese en entiteit.
Truth: Die gebeurtenis konstitueer die waarheid van die naam. Omdat gebeurtenisse
onvoorsienbaar is, is dit net so riskant as wat dit belowend is.
Time: Die beweging van die gebeurtenis kan nie gemeet word in gewone liniêre tyd
nie.
Die leser word reeds vroeg gewaarsku dat die hermeneutiek van die gebeurtenis (bekend as
die “Teologie van Swakheid”) ʼn “ondervoede” teologie is wat nie by die sterker, meer
tradisionele teologieë kan kers vashou nie. Dit is ʼn teologie sonder teologie, verwant aan
Derrida se godsdiens sonder godsdiens. Tog is hierdie ʼn Skrifgefundeerde aanpak, met
spesifieke verwysing na Paulus se skrywe oor die swakheid van God in 1 Korintiërs 1:25.
Die saak van belang is dat die naam en die gebeurtenis waarop die naam dui, in die geval
“God”, nie verwar moet word nie. Die naam behoort tot die orde van die wêreld en kan op dié
29
wyse wêreldse mag en prestige verkry; hierteenoor hoort die gebeurtenis aan ʼn totaal ander,
wêreldvreemde orde (8). Onderskeid tussen naam en gebeurtenis verwyder die naam vanuit
die ontologiese orde: God nie as wese nie, maar as gebeurtenis. Die antwoord op God se
naam is gelowiges se werk, nie God s’n nie. Die naam van God roep hulle, nie andersom nie.
Reeds kan gesien word dat veral twee teologiese standpunte rondom “God” heterodoks is: die
naam van God is in eerste instansie nie die naam van ʼn entiteit nie, maar van ʼn gebeurtenis
en tweedens, word gereken dat dit meer Bybels is om aan God as ʼn swak mag (teenoor ʼn
sterk mag) te dink. Die “godsbeskouing” word by twee uiteenlopende figure vanuit die
geskiedenis geleen – Paulus en Jacques Derrida. Paulus onderskei die mag van die wêreld en
die mag van God se swakheid (wat dwaas is in die oë van die wêreld) (1 Kor. 1:29). Die
ander invloed is Derrida se formulering van die onvoorwaardelikheid van ʼn
onvoorwaardelike eis. Dit is soos die swak mag van ʼn roepstem na die koms van geregtigheid
(of die geskenk of gasvryheid). ʼn Swak mag wat onderskei kan word van ʼn soewereine mag;
die sterk mag om af te dwing waarna verlang word, of dit geregtig is of nie (13). Die
roepstem van ʼn swak mag kan geïgnoreer word; geen wonder God se wil seëvier nie in die
wêreld nie!
Caputo stel voor dat daar nie meer oor God gedink word as ʼn massiewe, ontologiese kraglyn
wat krag aan die wêreld voorsien nie, maar liewer as ʼn kortsluiting in dié soort krag wat die
wêreld uitdaag tot ʼn alternatiewe soort krag (13). Alternatiewe krag wat ʼn alternatiewe
wêreld voortbring; die koninkryk van God. Die koninkryk, soos telkens geskets in die Nuwe
Testament, lyk totaal anders as wêreldse koninkryke en het ʼn sg. sakrale anargie tot gevolg.
In dié koninkryk heers swakheid. Selfs die benaming “koninkryk” word ironies gebruik om
die magte- en koninkryke van die wêreld te bespot. In die koninkryk van God is daar ruimte
vir die swak magte van geduld en vergifnis, terwyl die wêreld die sterk magte van vergelding
en betaling vereis. Dié koninkryk is ʼn manier van lewe, nie in ewigheid nie, maar hier
vandag, soos die lelies in die veld – figure van swak magte – in opposisie met die wêreld se
obsessie om tyd te bemeester, die toekoms te bereken en risiko te bestuur (15). Jesus Christus
het nie slegs gelykenisse vertel ter illustrasie van God se koninkryk nie, maar in ʼn sin was Hy
ʼn gelykenis. Deur sy lewe en uiteindelike sterwe het die koninkryk van God vlees geword en
het dit moontlik geword vir sy volgelinge, om die hiper-realistiese werklikheid van sy lewe
2000 jaar later na te volg (16).
30
2.4.1 Deel 1: God
Die vertrekpunt in die eerste hoofstuk, geskoei op 1 Kor. 1:25, 27-28, is dat God nie
noodwendig soewerein is nie en dat daar nie in terme van metafisika en metafisiese teologie
oor Hom nagedink moet word nie (23). Die standpunt moet verstaan word in die lig van God
se koninkryk wat heeltemal anders as die koninkryke van mense is; dus is die God van die
koninkryk ook totaal anders as die heersers van die wêreld. Met die belydenis sal min teoloë
verskil, maar die implikasie hiervan sal volgens Caputo talle wenkbroue laat lig. (ʼn Verstaan
van die Derridiaanse beginsel différance is noodsaaklik vir die volg van die argument.)
Om te praat van die koninkryk van God is ʼn teenstelling. Indien gekyk word na Christus se
analogieë aangaande die koninkryk, is dit ʼn koninkryk sonder soewereiniteit waar die enigste
heersers die magteloses en armes is. Mense sonder mag en aansien word juis daarmee beklee,
dit is onmoontlik. Dekonstruksie van die koninkryk is die onderhandeling tussen wet en
wetteloosheid om geregtigheid na te streef. Dekonstruksie is vrystelling van die gebeurtenis
wat deur die naam beskryf word, want die gebeurtenis is altyd meer as wat die naam ooit kon
beskryf. Die koninkryk van God is nie ʼn plek nie, maar ʼn “hoe”. Dit is iets wat moet gebeur,
iets wat gedurig moet plaasvind sodat dit ʼn realiteit kan word. Dit is ʼn “onderstebo
koninkryk” (29), want dit is geregtigheid en nie die wet, magteloosheid en nie mag, liefde en
nie die nastreef van wins wat hier regeer nie.
Profete is noodsaaklik vir die koms van hierdie unieke koninkryk. Profete, nie in die sin van
individue wat die toekoms kan voorspel nie, maar persone wat die werklikheid van hiper-
werklikhede raaksien; die moontlikheid dat die koninkryk van die wêreld deur ʼn meer
Goddelike koninkryk vervang kan word. ʼn Koninkryk van die armes en die uitgeworpenes,
persone wat in die koninkryk van mense nie veel beteken nie. Daarom word profete
gewoonlik vermoor, want vir elke profeet is daar ʼn koning wat ten alle koste die status quo
wil handhaaf. Die profeet is ʼn amptenaar van die gebeurtenis wat ander waarsku teen die
gevolge van huidige sosiale ongeregtighede. Die profeet dekonstrueer dus die hede.
Dekonstruksie is die koms van geregtigheid, wat nie vrede bring nie, maar in die woorde van
Christus: “die swaard” (32).
God, die heerser van die koninkryk, lyk heel anders as die magsbehepte heersers in die
wêreld. Dus word die voorstel geopper dat daar aan God in terme van magteloosheid gedink
31
moet word. God as ʼn bedelaar, God as anargis wat in die strate loop en die orde versteur, God
wat nie Sondae in die kerk sit en “ja en amen” op alles wat die prediker kwytraak nie, God as
weduwee en weeskind. Op die wyse, word God losgemaak van die goddelike beeld soos
gevind in godsdiens en teologie, want God het nie godsdiens nodig nie. Dit word op
geslaagde wyse geïllustreer deur talle profete onder meer Jesaja (1:11-17), Amos (5:21-24)
en Hosea (6:6). Opsommend kan gesê word dat daar nie net onto-teologies oor God gedink
moet word as die almagtige heerser van die heelal nie, nie as ʼn soort metafisiese kragsentrale
wat die fondament word vir ʼn “nasie onder God” of “spesiale kerk van God” wat alles in die
“naam van God” regverdig (soos bv. die oorlog in Irak of Apartheid) nie. Dit sal dalk meer
vrugte afwerp om te dink oor God as die een wat kritiek lewer op die magtige establishments
van mense. ʼn Kortsluiting tussen die naam van God en différance kan die gebeurtenis van
God bevry. Die gebeurtenis kan gered word van die naam wat deur talle godsdienste en sterk
teologieë in beslag geneem is. Die naam wat al meer na ʼn afgod lyk.
Hoe is dit moontlik dat God swak is, maar steeds God is? Die vraag word nie geïgnoreer nie
en dit word as volg beantwoord: God is nie die uitnemende, almagtige, onto-krag wat oral sy
almag kan uitvoer nie, maar liewer die swak mag van ʼn roepstem. Dit is ʼn swak mag omdat
dit geïgnoreer kan word, maar indien daadwerklik daarop geantwoord word, verander die
wêreld en word dit selfs ʼn onbeperkte mag! Die swakheid van God, die swakheid van ʼn
roepstem is juis wat lei tot Sy transendensie bo sterk magte. Wat God hoorders roep om te
doen, is belangriker as die benaming vir of beskrywing van Hom (39). Coram deo, om voor
God se aangesig te leef, is om toe te laat dat die lewe gelei word deur sy roepstem, sodat sy
koninkryk gevestig word deur die hoorder se doen en late. Sy roepstem wil sy koninkryk
bewerkstellig in ʼn sondige, chaotiese wêreld. God is nie ʼn wese in tyd vasgevang nie, nie
eens op metafisiese vlak nie. God is nie die Een wat sporadies by die wêreld ingryp en ʼn paar
dinge verander en weer verdwyn nie. Nee, God is nie daar nie, want daar behoort tot die orde
van tyd en plek waar mag die oorhand het. God is die roepstem wat die daar-wees versteur, ʼn
gebeurtenis wat die status quo omverwerp, wat die hier en nou, die mag van die wêreld, in
die spieël laat kyk en wonder (39). Dié godsbeskouing is ʼn regstelling op die fout wat onto-
teoloë maak: “... concieving God on the horizon of being, power and causality, as if God was
a cosmic power supply.” (40). Die onto-teologiese godsbeskouing mond uit in die teodisee
vraagstuk. Denke oor God in terme van die mag van magteloosheid en die swakheid van God
verydel die vraagstuk.
32
Die “Teologie van Swakheid” is ʼn teologie van die kruis aan die hand van Paulus se logos
tou staurou analogie in 1 Kor. 1:18. Die kruisiging van Christus beliggaam God as ʼn swak
mag. Teenoor die mag van die wêreld kom Hy, sonder menslike mag, in opstand teen
ongeregtighede en is Hy selfs bereid om daarvoor te sterf. Die idee dat Christus die kruis kon
verlaat, is dié van wêreldse mag, ʼn alte wêreldse idee van regverdigheid (ʼn oog vir ʼn oog)
teenoor die geregtigheid van die koninkryk (jy moet jou vyande liefhê)! Dié liefde van God
maak Hom kwesbaar, want liefde veroorsaak lyding saam met ʼn geliefde wat ly (306). Dit
staan in kontras met die meta-god van Griekse filosowe wat telkens in Christelike teologie na
vore kom! Christus se onregverdige lyding en sy lyding met die magteloses van die wêreld, is
die sentrale simbool van die Christelike geloof. Die koninkryk van die wêreld bevat regte
Romeine met regte spykers wat mense op regte kruise ophang. Dit is die werklikheid van
wêreldse koninkryke. God se koninkryk hoort nie tot hierdie orde nie. Indien dit die geval
was, sou Jesus die kruis verlaat, al sy teenstanders vermorsel en die troon bestyg. Dit was nie
die verloop van sake nie. Christus is teen sy sin en dié van sy Vader gekruisig en Hy het
gesterf. Aldus Caputo, is Hy nie eers bewus van die teologiese konstruk dat Hy vir die sonde
van die mensdom gesterf het nie (44). Christus se roepstem op die kruis, teen alle
ongeregtighede, is die swak mag van God wat lewens verander. Die mag van God is die
magteloosheid van Christus wat aan die kruis hang.
Die koninkryk van God is in teenstryd met die wêreld en die wêreldse orde van mag, voorreg
en self-belang wat die koms van die gebeurtenis verongeluk (48). Die koms van die
koninkryk is die koms van geregtigheid. Dit is nie die koms van die Christendom wat een
magsbestel met ʼn ander vervang nie. Dit is nie ʼn alternatiewe wêreld wat in die buitenste
ruim bestaan nie. Die koninkryk is soos sout en suurdeeg in die wêreld. In ooreenstemming
hiermee, is God nie die rede dat dinge daar is nie, maar liewer die rede dat dit goed is (53).
God het die wêreld geskep vanuit niks. Die indrukwekkende stelling noodsaak dat die teorie
van God as ʼn swak mag bevraagteken word. Hoe kan ʼn swak mag hiertoe in staat wees?
Dekonstruksie van die skeppingsverhale is die strategie wat aangewend word om die
swakheid van God te versoen met sy skeppingsdade. In die begin was die aarde
onbewoonbaar (tohu wa-bohu). Dit was soortgelyk aan ʼn woestyn, ʼn onbruikbare leemte.
Aan die begin was daar reeds iets, dinge het reeds begin en daarom open die Tenag nie met ʼn
alef nie, maar met ʼn bet (bereshit), “in die begin” (57). Die skepping word deur God in die
lewe geroep en dan sê Hy “dat dit goed is...”. Die materiale was dus reeds daar, Hy gee net
die goeie, m.a.w. lewe, daaraan. “He calls them into life; he does not bring them into
33
being...”(58). Hierdie letterlike lees van die poëtiese teks staan teenoor die meer tradisionele
creatio ex nihilo metafisiese interpretasie. Dit bied ook ʼn meer bevredigende verklaring vir
die oorsprong van kwaad in die wêreld. God se roepstem het slegs aan sekere dinge, wat Hy
as “goed” verklaar het, lewe gegee. Die ander elemente is chaoties (nie goed nie) gelaat. Die
terugkeer na die chaos, wat teen die wil van God ingaan, word dan die kwaad (teenoor dit wat
“goed” is). Caputo verwys na Einstein se stelling dat God nie met dobbelstene speel nie en
verskil radikaal met sy standpunt. Met die skepping is dit juis wat God gedoen het, Hy het
iets daar gestel waaroor Hy nie noodwendig beheer het nie. Die konsep van God as die super-
wese het in elk geval eers in die tweede eeu n.C. ontstaan. Teksgedeeltes soos Psalm 74,
Klaagliedere en Job, wat tradisioneel as teodisee-gedeeltes geïnterpreteer is, kan dalk liewers
gesien word as ʼn waarskuwing, gerig aan gelowiges wat té maklik en té goedkoop met hul
godsdiens omgaan (78).
Sterk teologie se fantasie met God se almag, uiteindelike ingrepe en omverwerping van die
huidige orde word deur Caputo gekritiseer omdat die fantasie gevoed word deur ʼn wêreldse
idee van mag, teenoor die mag van magteloosheid soos geïllustreer deur Christus. Die
fantasie rondom die eindtye is ieder geval van geen nut vir die wat onreg moes verduur,
vervolg is en eindelik vermoor is nie; geen troos kan daarvoor gebied word nie (79).
Goddelike almag geld slegs in die fantastiese wêreld van ideale ruimte, terwyl die regte
wêreld op ʼn ander vlak verbybeweeg. Dit is glad nie verbasend dat konsepte rondom God se
almag en die skepping vanuit niks eers later in die kerkgeskiedenis ontstaan het.
Eersgenoemde, as gevolg van ʼn debat tussen ekklesiastiese teoloë in die proses om die mag
van die kerk te legitimeer en laasgenoemde, vanweë ʼn spekulatiewe kontroversie met die
Gnostici in die tweede helfte van die tweede eeu (80).
Die skeppingsverhale handel nie noodwendig oor die almag van die skepper God wat kan
maak en breek soos Hy goed dink nie, maar dalk oor die God wat soos ʼn ligte briesie oor die
aarde gaan en sy stempel van lewe en goedheid daarop afdruk. Religieuse digkuns wat
uitdrukking gee tot opregte hoop en geloof, ʼn religieuse hermeneutiek dat die naam van God
en sy goedheid in die skepping voorkom (89). God sê ja!, ja! die skepping is goed en
gelowiges kan hierop antwoord met ʼn bevestigende ja, qui, qui veins qui. Die naam van God
dui op die belofte, die Ja! Hierin is die mag van God gesetel, dit maak nie saak hoe sleg dinge
gaan nie, God se Ja! funksioneer altyd op dié dieper vlak. Indien dit die geval is, is dit nie
meer nodig om op lasterlike wyse God se wil in al die slegte dinge wat in die wêreld gebeur
34
in te lees nie. Indien vasgeklou word aan die creatio ex nihilo dogma is dit nie moontlik om
goeie dinge in die lewe as gawes (lees: geskenk) vanuit God se hand te sien nie. God skenk
lewe vanuit sy liefde en die liefde impliseer vryheid. Vryheid skep die moontlikheid van
teleurstelling. Wanneer God lewe gee, laat Hy dit gaan en is Hy nie meer in beheer daarvan
nie. Dit is ook die punt van die tweede skeppingsverhaal: alles in die skepping draai nie
noodwendig uit soos wat God voorsien of beplan het nie (87).
God se naam het die krag van ʼn belofte, die belofte van die koms van die gebeurtenis. Die
voorstelling van God se naam as die roepende roepstem is verwant aan die Hebreeuse
verstaan van sy naam. In teenstelling hiermee is die Hellenistiese verstaan van sy naam as die
veroorsakende oorsaak (94). Die swak mag van ʼn roepende roepstem is soos die stem vanuit
geskiedenisboeke, wat nie die verlede kan verander nie, maar lesers kan roep om te verseker
dat die onregte van die verlede nie weer gebeur nie, dat daardie wat gesterf het nie tevergeefs
gesterf het nie.
2.4.2 Hermeneutiese tussenbedryf
Die teologiese projek wat hier aangepak word, is ʼn hermeneutiek van die naam van God, die
eksplikasie van die ontvouing van die Goddelike naam. Die volgende stap wat geneem moet
word, is die analisering van God se koninkryk, aangesien God hier ʼn werklikheid word. God
se mag/magteloosheid word in die koninkryk werklik. Met God is alle dinge moontlik, selfs
die onmoontlike. In die hermeneutiese tussenbedryf gee Caputo twee sleutels aan die leser
om die hermeneutiese status van die naam van God en die Woord van God beter te verstaan.
Eerstens, word die diskoers rondom die koninkryk van God nie bepaal deur die logika van
God se almag wat handel oor entiteite nie, maar oor die poëtiek van die onmoontlike, wat
handel oor gebeurtenisse. Die tweede sleutel skets die hermeneutiese situasie van teologie as
ʼn hermeneutiek van die roepstem. Swak teologie handel oor die hiper-werklikheid van die
gebeurtenis en op dié wyse word die debat oor teologiese realisme en anti-realisme
vrygespring.
Die maagdelike geboorte, soos opgeteken in die evangelies van Matteus en Lukas, is
onmoontlik. Aangesien die onmoontlike die terrein van God is, word dit dus moontlik. Die
verhale is die poëtiek van die onmoontlike. Die kortsluiting wat hier plaasvind, is tussen die
inhoud van die engel Gabriel se aankondiging en dekonstruksie; die onmoontlike in die
35
verhaal en die onmoontlike soos omskryf deur Derrida. Volgens 1 Kor. 1:18, is logika die lig
van die wêreld, en die mag van God - malligheid vir die wêreld. God se koninkryk is die
terrein van malligheid en onsin. Die onmoontlike is nie in direkte teenstelling met dit wat
moontlik is nie. Die onmoontlike kan horisonne van verwagting, dit wat moontlik is, oortref
(103). Daarom die verwysing na die poëtiek van die onmoontlike i.p.v. die logika van die
onmoontlike. ʼn Poëtiek is ʼn evokatiewe diskoers wat die gebeurtenis artikuleer, terwyl ʼn
logika ʼn normatiewe diskoers oor entiteite bestuur. ʼn Poëtiek adresseer die reël van die
belofte en die roepstem. Dit is die grammatika van die roepstem as swak mag, terwyl logika
die sterk mag van die wêreld reguleer. Die poëtiek meng in met die werking van die
werklikheid deur die skets van ʼn alternatiewe werklikheid, die moontlikheid van die
gebeurtenis, in dié geval die koms van God se koninkryk, waar swakheid, en nie sterkheid
nie, heers (104).
Logika is slegs geldig op die terrein van die moontlike, die terrein waar ekonomie en wette
geldig is. Die poëtiek van die onmoontlike (die koninkryk) is duidelik daaroor: die
moontlikheid van die onmoontlike lê nie op die horison van mag en wese nie, of dit nou fisies
of metafisies gesproke is. Daarom word die moontlikheid van die onmoontlike nie as
geskiedskrywing weergegee nie, maar as gelykenisse en narratiewe. Wonderwerke kom in
die genres voor wat harte laat brand vir iets anders, iets onmoontliks, sodat gesoek word na
transformasie, hergeboorte, vernuwing. Dit is die koninkryk van God.
Die logika van die wêreld en ʼn ekonomie van vergelding is totaal anders as die koninkryk,
wat handel oor vergifnis, liefde, opoffering en swakheid om die ander tegemoet te kom. Die
gelykenis van die groot maaltyd (Luk. 14:15-24/ Matt. 22:1-10) dien as bloudruk vir die
koninkryk. Die binnekring word uitgesluit en die buitestanders geïnkorporeer. Daar mag geen
misverstand wees oor waar die koninkryk is nie. Die koninkryk is nie in die lug nie en word
nie eers na die dood teëgekom nie. Die koninkryk is ʼn manier van lewe in die wêreld vandag,
gister en more. Die koms van die koninkryk is volledig die koms van die ander. Nog ʼn
kortsluiting dan: teenstand van die wêreld teenoor die koninkryk (teologies gesproke) en die
geskenk teenoor die ekonomie (filosofies gesproke). In albei vind ʼn gebeurtenis plaas, die
inkoms van die ander, die moontlikheid van die onmoontlike. Dekonstruksie is die poëtiek
van God se koninkryk! Dekonstruksie het immers die struktuur van ʼn godsdiens (111). In die
koninkryk heers die swak mag van God en in dekonstruksie geld die reël van die geskenk, die
36
goeie, geregtigheid, gasvryheid en vergifnis. Só gesien, is die twee kategorieë baie
soortgelyk.
Die naam van God is die roepstem wat hoorders op hiper-realistiese wyse roep na die
gebeurtenis. Dit roep hulle om buite hulself en hul gemaksones te gaan, om iets groters na te
streef. Die naam kan telkens vertaal word met nuwe moontlikhede tot gevolg. Die vraag is
dus dan nie of daar ʼn God is en of ek God moet liefhê nie, maar liewer: “Wat het ek lief as ek
my God liefhet?” (115). Die Bybelse teks word dan nie net ʼn geskrewe bron nie, maar ʼn
roepstem wat dinge van luisteraars verwag. Die teks soek by hulle ʼn reaksie wat lei tot
verandering in die wêreld. Dit is die hermeneutiek van die roepstem. Die teks is ʼn swak mag,
want die stem kan bitter maklik geïgnoreer word. Die poëtiek omskryf die waarheid van die
gebeurtenis (118). Die poëtiek is gefokus op die roepstem ingebou in die verhale, die
roepstem om Christus na te volg en die koms van sy koninkryk te bewerkstellig. Die hiper-
realiteit van die gebeurtenis, die gebeurtenis opgesluit in die naam van God, wil die hoorder
dryf tot die uitvoering van God se wil.
2.4.3 Deel 2: Die koninkryk van God
Die rol van die sewende dag in die skema van die skeppingsdae is dalk soveel meer as die
van ʼn blote rusdag. Dalk is dit die dag vir herskepping. Die skepping wat God in bestaan
geroep het, is onstabiel en het soms herrangskikking nodig. Die verhaal van Jesus se genesing
van die man met die gebreklike hand (Mrk. 3:1-6) staaf die perspektief van die Sabbat as die
dag van herskepping. ʼn Geleentheid word aan sy volgelinge gegun om sy skeppingsuitsprake
van goedheid te herhaal en sy wil uit te leef in die wêreld. Jesus oortree die wet deur te
genees op die Sabbat. Dit is ironies dat Hy juis God se wil, om dinge te herstel, uitvoer; om
dít te herstel wat deur die loop van die geskiedenis met die skepping verkeerd gegaan het
(128). Die skepping is ʼn onvoltooide taak. Herskepping is noodsaaklik; dit was immers die
doel van Christus se koms, herskepping van mense deur bekering. Mense word vernuwe deur
die Gees van Christus om meer soos Hy te word en in sy voetspore te volg. Bekering
(metanoia) is ook ʼn soort poëtiek wat deurgaans in die Skrif voorkom. Christus verkondig die
Woord en genees mense, sodat hulle totaal herskep word en nuwe mense word. Christus
dekonstrueer die Sabbatswet in sy nastrewing van geregtigheid (140)! Sulke mense is
gevaarlik en sal uitgewis moet word, want hulle versteur die vasgestelde orde.
37
Die koninkryk is ʼn plek vir die gemarginaliseerdes: weduwees, tollenaars, die armes, gays,
hoere en vigs-pasiënte (133). Die perverse realiteit is die poëtiek van die koninkryk, wat nie
regtig as ʼn etiek bestempel kan word nie, aangesien etiek ʼn Grieks-filosofiese konsep is, wat
nie aandag geniet in die Nuwe Testament nie. Dit is die “eksentrieke etiek” van die
koninkryk, waar God gesien kan word in die gesig van die ander, die vreemdeling en die
buitestaander (136). Menslik gesproke, is die outonome self altyd die middelpunt van die
etiek. In ʼn poëtiek van die koninkryk is die ander persoon altyd die middelpunt. In die
koninkryk is elkeen se verantwoordelikheid teenoor die ander en die vervulling van hulle
behoeftes. Dit verskil radikaal van wêreldse vryheid waar elkeen aangemoedig word om hul
eie, selfsugtige behoeftes te bevredig (138). Die eerste beginsel in die anargiese koninkryk is
dat die persoon nooit haarself eerste plaas nie. Die reël is om lig te loop vir reëls, want dit
gaan in die koninkryk oor geregtigheid en die enkeling, teenoor die wet en die nege-en-
negentig.
Werklike bekering is bekering van die hart wat uitvloei in die wêreld. Christus het kwaad
geword vir die Fariseërs vanweë hul verharde harte. Bekering is ʼn saak van die hart, nie die
intellek nie. Die teenoorgestelde van ʼn bekeerde hart is nie ʼn oningeligte, onintelligente mens
nie, maar iemand met ʼn hart van klip. Die swak mag van bekering verander iemand so
radikaal dat hy/sy ʼn nuwe mens word; ʼn nuwe mens wat vergifnis pleks van vergelding
nastreef. Bekering en vergifnis loop hand aan hand. Vergifnis staan sentraal in Jesus se
leerstellings. Daarom moet ʼn mens sewe maal sewehonderd maal kan vergewe – dit is nie
menslik moontlik nie en maak boonop geen sin nie, maar dit is nie veronderstel om sin te
maak nie – dit is koninkrykterrein. Heling en vergifnis behoort tot die werking van die Gees
(149), die Gees wat voortdurend (en vandag nog) skep en herskep. Bekering is op die terrein
van die koninkryk wat nie in plek bestaan nie, maar in wyse. Bekering behoort aan die
poëtiek van die onmoontlike en handel oor die gebeurtenis, nie ʼn bepaalde entiteit nie (154).
Die koninkryk omskryf nie fisiese transformasies van entiteite nie, maar die eksistensiële
transformerende karakter van lewens. Dit gaan oor die roepstem van die koninkryk om nuut
te word, nuut te dink en ʼn nuwe hart te kry. Bekering en transformasie wat in ʼn sin eintlik
onmoontlik is (206).
Tyd is heilig en volgelinge van Christus behoort dit te respekteer en volgens die beginsel te
leef. Tyd is in God se hande en dit behoort gerespekteer te word. Tyd moet oorgegee word
aan die gebeurtenis (God) en Hy moet daaroor regeer. Wat verwag Hy van sy volgelinge in
38
die verband? Elke dag is ʼn geskenk vanuit God se hand en elke dag moet so benader word.
Leef net vir vandag: dit is die boodskap. Soos alles in die koninkryk, is dit onmoontlik.
Daarom die bewoording van die Onse Vader gebed: “Gee ons vandag ons daagse brood”, nie
gee ons die volgende twee weke se brood en as U dit goed dink, dalk ʼn stukkie vleis oók nie!
God is in beheer van tyd en sy volgelinge moet dit respekteer. Christus se uitspraak oor die
veldlelies (Matt. 6:22-30) bied genoeg rede om saam te stem. Daar is min dinge so swak en
weerbaar soos veldlelies en tog kies Hy dit om sy navolgers se wees in liniêre wêreldse tyd te
omskryf (162). Vandag is heilig en in God se hande en Hy sal voorsien. Moet nooit
bekommerd wees nie, vertrou, die geskenk van die dag is genoeg. In Jesus se instruksies aan
sy dissipels word dieselfde tendens teëgekom (Mrk. 6:8-9). “Vergewe ons, ons daaglikse
sondes.” Die koninkryk van God is vir ewig, maar terselfdetyd net vir vandag. Laat U
koninkryk vandag en elke dag opnuut kom. Die voorreg om só te lewe is slegs moontlik met
geloof en vertroue in God en het ʼn implisiete opdrag, soek allereers die koninkryk van God,
elke dag (173). Die koninkryk van God is nie ʼn plek êrens nie, maar ʼn “hoe” in tyd (163).
Daarom sê Christus telkens vir sy dissipels dat die koninkryk reeds gekom het (Luk. 10:9/
17:20-21/ 11:20) (167).
Van al die onmoontlikhede in die koninkryk is vergifnis uitstaande. Dit is ʼn massiewe gawe
wat die ekonomie van die alledaagse lewe omverwerp. Op onbeskryflike wyse moet die
verlede “vergeet” word en opnuut geïnterpreteer word, sodat vergifnis kan plaasvind. Die
moeilik verstaanbare aspek van vergifnis is die realiteit van die geskiedenis wat nie verander
nie, maar tog verander die persoon wat vergifnis bied (sonder om fisies te verander). Die
onmoontlike is om te vergeet en te vergewe, maar terselfdetyd te onthou sodat vergifnis
outentiek kan wees. Na vergifnis word die verlede opnuut geïnterpreteer. Die ervaring van
ware vergifnis is die ervaring van die onmoontlike. Die aporia van vergifnis is dieselfde as
die van die geskenk. Vergifnis kan nie verdien word nie, dit moet gegee of ontvang word
sonder enige berekenings (210). Die probleem met die som is dat vergifnis telkens as
ekonomie in godsdienste (Caputo verwys spesifiek na die Joodse en Christelike godsdienste)
funksioneer. Indien dit die geval is en vergifnis deur die volg van sekere stappe (bv. berou,
verskoning en belofte) plaasvind, is dit nie meer vergifnis nie, maar versoening. Versoening
is aanvaarbaar in ʼn ekonomie, maar in die gebeurtenis van die koninkryk skiet dit ver kort.
Indien die Nuwe Testament en dekonstruksie-teorie gekortsluit word, word dit duidelik dat
die sondaar vergewe moet word sonder dat hy berou toon, terwyl hy nog sondig. Die onsin
39
van die koninkryk is te sien in ware vergifnis. Vergifnis van sondes staan sentraal in die
koninkryk van God en is iets wat in die wêreld plaasvind wanneer die koninkryk “gebeur”.
Die bekende verhaal van die Fariseër en die tollenaar (Luk. 18:9-14) is Christelike vergifnis
in aksie. Caputo stel onder invloed van A.N Wilson voor dat ʼn redakteur v 18:9 en 18:14
bygevoeg het en dat die kern van die gelykenis meer radikaal is as dít wat lesers in die Skrif
vind (214). Die gebeurtenis, in die verkorte gelykenis, is die feit dat daar geen onderskeid
tussen die twee mans is nie, inteendeel is die slegte een (die tollenaar) beter af! Dit is tog
ondenkbaar en onmoontlik. Die fokus word verskuif na God as die gewer van
onvoorwaardelike en radikale vergifnis. Indien so gesien, is daar veral ooreenkomste met die
gelykenis van die verlore seun waar die fokus eintlik op die vader moet wees, omdat hy albei
seuns onvoorwaardelik liefhet (215). God is die God van vergifnis en ware vergifnis is die
grootste geskenk. Hy laat die son opkom oor die goeies en die slegtes (Matt. 5:45).
Die koninkryk fokus op die verlorenes - die verlore seun, -skaap en -muntstuk (Luk. 15: 4, 6,
9). So ook het Christus gefokus op die wat verlore is en hulle innig jammer gekry. Caputo
(218), meen dat Christus vergifnis gebied het aan sondaars wat nie vergifnis verdien nie en
dat dit juis die aspek van sy bediening was wat die moeilikheid veroorsaak het. Tradisionele
Joodse godsdiens het voorwaardelike vergifnis gebied; Christus s’n was onvoorwaardelik.
Die Fariseërs het gesê God vergewe iemand indien daardie persoon berou toon vir sy sondes,
Christus het hul sondes vergewe en dan gesê dat hulle nie meer moet sondig nie. Christus se
vergifnis was ʼn onverdiende geskenk. Christus het mense aangemoedig om hom te volg en
op die wyse het hulle die koninkryk verkry, dit was in stryd met die leer van die tradisionele
Joodse godsdiens. Dié radikale optrede van Christus, het eindelik gelei tot sy kruisdood. Wat
nooit uit die oog verloor mag word nie, is dat Christus nie deur slegte mense veroordeel is
nie, maar deur goeie, godsdienstige mense. In alle eerlikheid was hul onsteltenis met sy
optrede heeltemal verstaanbaar. Vanuit Christus se perspektief, kan mens dalk sê dat
vergifnis, soos geregtigheid, onder geen omstandighede uitgestel kan word nie, want: “Like
justice, forgiveness deferred is forgiveness denied” (222).
Vergifnis, vanuit God se perspektief, beteken dat die verlede uitgewis is; dit is asof die
misdaad nooit gepleeg is nie. Daarom is die tollenaar en die Fariseër gelyk voor God. Dit is
God se onvoorwaardelike geskenk aan die sondaar. Vanuit die perspektief van die sondaar,
mag die misdryf nooit vergeet word nie. Caputo verduidelik dit aan die hand van ʼn huwelik
40
waar die hoogste beginsel die liefde is. Indien die liefde die belangrikste beginsel in ʼn
verhouding is, sal die ander persoon liewers verkeerd wees en die liefde bewaar, as om reg te
wees en die verhouding te na te kom (226). God se oordadigheid is gesetel in sy vergifnis en
die sondaar s’n in sy verantwoordelikheid teenoor God. God se vergifnis is ʼn gebeurtenis wat
die interpretasie van die verlede verander en spreekwoordelik ʼn nuwe toekoms aan die
sondaar skenk-vandag.
Christus se kruisdood moet dalk liewer profeties geïnterpreteer word, ʼn waarskuwing aan sy
volgelinge teen die wêreld se reaksie op die koninkryk. Dit was blykbaar die interpretasie wat
deur die vroeë kerk aangehang is (233). Die onsin van die koninkryk seëvier selfs in die bitter
gebeurtenis as Christus, onvoorwaardelik, die Romeinse soldate se sondes vergewe.
2.4.3.1 Herskepping
Die gebeurtenis in die verhaal van Lasarus se afsterwe in Betanië (Joh. 11:33-44) is nie
noodwendig die opwekking van Lasarus nie. Die ware gebeurtenis is dalk dat Christus gehuil
het, aangesien Hy te laat daar aangekom het. Die trane dui op die swakheid van God, die
trane wat Hy stort omdat Hy nie betyds was om sy vriend te help nie. Dit is heeltemal anders
as die beeld van ʼn super-god wat vol selfvertroue sou weet dat hy met gemak die persoon uit
die dood kon opwek. Soos in die skeppingsverhale, is Christus besig om in die narratief te
herskep. Wonderwerke is tuis in die gebeurtenis. Die susters wou hul broer terug hê, die
herstel van tyd asof hy nooit gesterf het nie, en hulle het gehoop teen hoop en opreg geglo dat
Christus dinge kan herstel. Hulle was op soek na nuwe tyd, waarin Lasarus weer lewe, wat
die geruïneerde tyd (ruined time) vervang. Dit is ʼn tyd van hergeboorte, ʼn nuwe dag.
Geruïneerde tyd is ʼn tyd waarin ʼn onherstelbare verlies (bv. die dood van ʼn geliefde)
plaasgevind het. Die verlies kan nie in die ekonomiese (liniêre) tyd van die wêreld ingereken
word nie en is dus ʼn onmoontlike gebeure – presies die teenoorgestelde van die geskenk
(244). Die dood van Lasarus was vir sy geliefdes so ʼn gebeurtenis. Die oomblik van lyding
kan nie in ʼn sisteem van verruiling verreken word nie. Hoe dan kan die onmoontlike situasie
omgekeer word? Caputo stel voor dat Christus Lasarus nie letterlik uit die dood opgewek het
nie, maar dat daar iets groters wat selfs meer onmoontlik is, plaasgevind het (249). Die ware
simbool van hoop, is die koms van die messias, in dié geval Christus se aankoms in Betanië.
Elke persoon het ʼn verlosser nodig, ʼn geneesheer wat hom/haar kan bevry. Die geneesheer is
41
meer as ʼn gewone individu, en is eerder ʼn “a priori principle of human mortality” (249).
Verlossing vind plaas as die geneesheer ʼn persoon van homself bevry en hom van sy eie pyn
en lyding uitlig, sodat hy verlos kan word van die situasie en die onmoontlike ervaar.
Ekonomiese tyd beweeg voort volgens die sirkelloop van dieselfde. Slegs die koms van die
messias, die Totaal Andere, kan die mens verlos van die bose, dog natuurlike, kringloop.
Verlossing kan slegs kom vanaf die ander wat ʼn nuwe toekoms en nuwe moontlikhede
daarstel. Pyn behoort nie tot sekulêre tyd nie en dus kan genesing nie gekoop word nie. Ware
genesing is die herstel van die onherstelbare en vir die herstel om plaas te vind, is die
onmoontlike gebeurtenis nodig. ʼn Hoop teen hoop en ʼn geloof in die messias sodat dinge in
die hede kan verander in ʼn werklike sin. Verlossing is die bevryding van pyn, bevryding nie
deur vergoeding nie, maar deur die daar wees en die staat maak op die ander (252).
Messiaanse tyd is slegs moontlik met ʼn messiaanse geskiedenis, sodat geskiedenis in die
konteks van die messiaanse geneesheer, met die oog op Hom gevestig, geskryf kan word.
Geskiedenis word herskryf sodat elke individu – die een nie die nege-en-negentig nie – se
pyn en lyding onthou word; dit is die swakplek van God en die swakheid van sy mag (254).
Die fokus is op die ander en die gemarginaliseerde. Dit is natuurlik ʼn onmoontlike taak, die
onmoontlikheid daarvan wat nooit as verskoning gebruik mag word om nie God se wil uit te
voer nie. Die projek moet deur hoop aangevuur word, want hoop is slegs moontlik wanneer
die situasie onmoontlik is. Die geskenk wat gebied kan word aan die persone met ʼn
onherstelbare verlede, is ʼn oop toekoms, ʼn messiaanse toekoms waarvoor gebid kan word, ʼn
toekoms wat alle verwagtinge oortref (257). Slegs die dooies kan ʼn ware geskenk gee, want
hulle kan nie daarvoor vergoed word nie. Die rol van die kind in geskiedskrywing kan nooit
geminag word nie. Die toekoms is vir kinders en slegs die wat word soos kinders kan die
koninkryk van God binnegaan.
So wie is dié wat die koninkryk van God mag binnegaan? Dit is die vraag wat in die laaste
hoofstuk van die boek gestel word. Indien gekyk word na skrifgedeeltes wat handel oor die
koninkryk, is die antwoord op die vraag verrassend. Die evangelies toon dat selfs Christus
met die gedagte gestoei het (260). Die gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid (Luk. 14:7-
14) illustreer ware gasvryheid as ʼn gebeurtenis (260). Sekulêre tyd en ekonomiese transaksies
word getransendeer sodat iets nuuts, wat ondenkbaar is, op die horison van verwagting
opkom. Die koms van die koninkryk sal in so daad gesien word. Christus stel in Markus 7:14-
15 die beginsel dat die mens rein of onrein is as gevolg van dit wat vanuit die hart kom, dus
42
kan die koninkryk vir die Jode sowel as die Grieke wees. Tog, in Jesus se uitspraak in
Markus 7:27-28, is dit duidelik dat Hy weer hieroor moes dink en sy eie woorde in dade
omsit. Die implikasie van die verhaal is duidelik, die koninkryk is vir almal: Jood of Griek,
meester of slaaf, man of vrou (261). Meer radikaal is die gelykenis van die groot maaltyd
(Luk. 14:15-24/ Matt. 22:1-10) met ʼn roepstem wat hard en duidelik aankondig: “Die
koninkryk van God is juis vir die uitgeworpenes!” In dié koninkryk staan gasvryheid sentraal
en dus is die deur van die koninkryk oop vir almal wat ware gasvryheid toon, selfs vir iemand
soos Derrida, alhoewel hy eintlik ʼn ateïs was (266). Die naam van God is die naam van ʼn
daad, die naam van ʼn gebeurtenis; in die geval is die naam en gebeurtenis waarna dit verwys,
gasvryheid (267).
Caputo stem saam met Levinas dat die koninkryk van God nie ʼn plek is nie, maar ʼn ander tyd
is, ʼn manier om in tyd te lewe, soos veldlelies. Die koninkryk van God is nie die belofte van
ʼn ewige lewe waar alles, ekonomies gesproke, regverdig gaan wees nie. Dit is nie ʼn plek van
terugbetaling aan almal wat lyding moes verduur nie. Dit is ʼn manier van lewe onder ʼn bevel
vanuit ʼn ander tyd, ʼn alternatiewe hiper-reële werklikheid (270). God se koninkryk is die
oordadigheid van die geskenk in die wêreld. Die koninkryk is nie ʼn ander ruimte of ʼn tyd
agter die skerms van werklike tyd nie, maar dit is ʼn soort tyd ouer as konvensionele tyd. Dit
is nie ʼn “waar” nie, maar ʼn “wanneer”. Die “wanneer” vind plaas wanneer God regeer (271).
God is slegs God wanneer ʼn persoon die vreemdeling verwelkom. Die naam van God word
vertaal na die gebeurtenis, in die geval gasvryheid. Die vertaling vind plaas in die
pragmatiese domein, nie die semantiese domein nie (272). Om ʼn Christen te wees is nie ʼn
“wat” nie, maar ʼn “hoe”. God is slegs God indien mense ontslae raak van God, want God is
ʼn gebeurtenis wat moet plaasvind (273). Godsdiens sonder godsdiens of selfs godsdiens
sonder God is die moontlikheid wat ter tafel gestel word. Die “godsdiens” van Derrida wat
nie in ʼn wese genaamd “God” glo nie, want vir hom is God iets wat moet plaasvind. God se
naam moet vertaal word in die gebeurtenis van gasvryheid. In ʼn reële sin is almal verlore en
kan niemand veel oor God sê of veel van Hom weet nie. God is nie ʼn “wie” nie, maar ʼn
“hoe”, die koninkryk is nie ʼn “waar” nie, maar ʼn “wanneer”.
Wie sal dan toegang kry tot die koninkryk van God? Die binnekring is uit en die
uitgeworpenes is in. Die godsdienstige binnekring moet soos Amos, Hosea en Jesaja duisende
jare gelede gepleit het, ontslae raak van hul godsdiens en geregtigheid nastreef. Om God te
“doen”, nie God te “sê” nie (277). Die uitgeworpenes is in. Die koninkryk van God is vir
43
hulle. Dié wie se name nie op die amptelike gastelys is nie en dalk selfs die wat deurgaan as
ateïste. Die koninkryk van God word ʼn realiteit deur die gebeurtenis van gasvryheid.
2.4.4 Slotgebed
Caputo se sentrale idee, wat hy as sy bydra tot die wêreld beskou, is dat niemand regtig weet
wie hy of sy is nie (283). ʼn Persoon kan in alle eerlikheid nie eers praat van homself nie, want
die “hy” na wie verwys word, is ʼn kriminele vereenvoudiging van wie die persoon werklik is.
Hoe is dit dan moontlik om van God, die gans andere, te praat? Hoe is dit moontlik om Hom
in teologie te bestudeer indien die mens nie eers dieselfde oor hom/haarself, kan doen nie?
Die naam van God kan slegs in die konteks van gebed gebruik word: “The name of God is
linked to prayer as the bird is linked to the air, as its medium or ambience” (285). Daarom is
tradisionele teologie wat God as wetenskaplike objek bestudeer nie moontlik (of gewens) nie.
“Waarheid” is om te bieg oor die armoede van filosofie, die swakheid van teologie en die
nederigheid van die menslike kondisie (286). Gebed is om die naam van God te bely sodat dit
uitvloei in God, die gebeurtenis. Die een wat bid moet altyd bewus wees van die feit dat die
gebeurtenis altyd verwagtinge oortref en nuwe onvoorsiene horisonne skep, horisonne wat
die mens nie noodwendig wil betree nie.
Is ʼn “Teologie van Swakheid” dan vir swakkelinge? Beslis nie, want die swakheid van die
teologie is gesetel in die onbeslistheid van die naam; dit is dus steeds eksistensieel intens. Dit
is ook in lyn met die saligsprekinge, waarby swakheid as ʼn seëning beskou word. Die
nastrewing van ʼn hiper-realistiese weg is die kern van die saak. Die realiteit word nie in die
huidige bedeling gevind nie en wil die hiper-realistiese gebeurtenis in realiteit weergee en
bekend maak. God se naam dui op die gebeurtenis. Dit dui op die onmoontlike. Dit dui op
hoop en alles wat mense kan liefhê en soveel meer. Die mag van God is nie gesetel in sy
wese nie, maar in die moontlikheid van die gebeurtenis.
2.5 Wat sal Jesus dekonstrueer (Caputo 2007c)
In Caputo se jongste werk What would Jesus deconstruct? poog hy om drie baie
uiteenlopende verhale te kombineer tot ʼn sinvolle eenheid. As bloudruk, gebruik hy Charles
Sheldon se boek In His Steps, gepubliseer in 1896. Die alombekende vraag wat in die boek
gestel word, What would Jesus do?, word deur Caputo aangepas sodat ʼn totaal nuwe vraag
44
ontstaan: What would Jesus deconstruct?, want “... deconstruction provides a felicitous
hermeneutic of the kingdom of God, or so I hope to show” (33). In die vraag word die twee
ander verhaallyne gevind, met spesifieke verwysing na Christus se aardse bediening en
postmoderne dekonstruksie-teorie soos geformuleer deur Jacques Derrida. Hierdie is ʼn
ambisieuse poging, as daar al ooit een was. As deel van die Church and postmodern culture-
reeks word daar nuut gedink oor God, die kerk, die heersende (postmoderne) kultuur en hoe
die verskeie fasette op mekaar inspeel. Caputo se postmoderne weergawe van In His Steps (5)
het ten doel om ingewikkelde konsepte op verstaanbare wyse te verklaar, sodat akademici se
filosofiese werke tot voordeel van die kerk gebruik kan word (7). Dit is nie ʼn maklike taak
nie, maar beslis ʼn nodige een.
Sheldon wou graag deur die daarstelling van sy bekende vraag ʼn koninkryksteologie vestig.
Daarom is dit glad nie verrassend dat sy boek veral Walter Rauschenbush, een van die vaders
van die Sosiale Evangelie (Social Gospel) beweging, beïnvloed het nie (24). Teenoor Sheldon
se oorspronklike bedoeling het talle konserwatiewe Christen-groeperinge die vraag hul eie
gemaak. Die vraag - Wat sal Jesus doen? - het dus ontaard in ʼn stok om ander mee te slaan en
ʼn staf om op te steun en hul eie agenda in die “naam van Christus” te bevorder. Caputo
kritiseer deurgaans die groepe. Die vraag behoort eintlik in alle nederigheid, met ʼn leerbare
gees gevra te word. Dit is in realiteit ʼn oneindig komplekse hermeneutiese vraagstuk.
Dekonstruksie lig die dieptes en kompleksiteit van Sheldon se vraag uit en verleen ʼn
hermeneutiek daaraan (48).
Daar word ʼn vergelyking getref tussen Sheldon se boek, die televisie reeks The Wire en die
historiese (of aardse) Jesus wat voor-die-hand-liggend illustreer dat Jesus en die koninkryk
van God die ander is. Die hedendaagse institusionele kerk is dieselfde (wat teenoor die ander
staan). Daar word gepleit dat alles (en veral die kerk) voortdurend ondersoek en
gedekonstrueer moet word. Die wet word gedekonstrueer met die oog op geregtigheid. So
ook behoort die kerk gedekonstrueer te word met die fokus op die koninkryk van God (16).
Indien internasionale-, sowel as plaaslike kerkgeskiedenis geanaliseer word, is dit duidelik
dat Caputo ʼn sinvolle voorstel opper. Die titelvraag moet voortdurend gevra word om te
verseker dat die kerk nie verval in ʼn gemaksone nie. Anders kan dit gebeur dat die kerk al
meer lyk na ʼn magtige organisasie en al minder na die liggaam van Christus. Dié liggaam wat
die koms van God se koninkryk in die wêreld, hier en nou deur woord en daad, moet
verkondig. Nie slegs die kerk nie, maar selfs iets so eenvoudig soos gebede behoort ook
45
gedekonstrueer te word. Gelowiges vra so maklik na Christus se koms en kan tot hul skok
uitvind dat Hy dalk reeds in die vorm van ʼn boemelaar, weduwee of onwettige immigrant
(lees: gemarginaliseerde) gekom het (30). Die deursnee Christen se idee van die “almagtige
Christus wat op die wolke kom” laat nie noodwendig ruimte vir dié koms van die lydende
Christus nie. So, wat sal Jesus doen? Sal Hy nie juis dié wat dinge in sy naam doen, se dade
dekonstrueer nie (31)?
Melding moet gemaak word van Caputo se benadering tot die Nuwe Testament. Syns insiens
is dit nie ʼn geskiedenis-, wetenskaplike- of enige ander handboek nie, maar ʼn argief wat ʼn
bepaalde poëtiek daarstel – nie ʼn politiek, etiek of dogmatiek nie – maar ʼn poëtiek van God
se koninkryk, “... which lays claim to us and which calls for a transformation into existence.”
(33). Die Nuwe Testament, ʼn komplekse samestelling bestaande uit narratiewe, gelykenisse
en skynbare teenstrydighede, het een gemene faktor en dit is Jesus Christus as middelpunt
(57).
Die gelowige is op soek en sy hart is so onrustig soos die van Augustinus. Die gelowige is ʼn
mens van die belofte wat hoop teen hoop koester (38). Hy wil op hiper-realistiese wyse in
Christus se voetspore volg. Daar is ʼn soeke na die realiteit anderkant die werklikheid. Dit is
nie realisties nie, want daar is nie tevredenheid met die dorre realiteit nie. Terselfdertyd is die
gelowige ook nie, soos talle goddeloses sal redeneer, onrealisties nie, want dit is nie die
navolging van ʼn versinsel nie. Vir hom is die lewe ʼn avontuur, ʼn onbekende wandelroete wat
aangepak moet word. Op die lewensreis het hy die kompas van geloof – geloof in God en die
hiper-realistiese weg van Christus. Die komplekse lewensreis is telkens moeilik, amper
onmoontlik. Slegs “amper” aangesien dié geloof ʼn mens daardeur kan dra. Geloof is in elk
geval slegs geloof as die situasie al hoe meer onmoontlik lyk. Daar is ook die hoop in
Christus en hoop is slegs hoop wanneer dinge werklik hopeloos begin lyk, dit is die hoop
waarvan Paulus praat. Só dan word die roete van geloof, hoop en liefde eers werklik
bewandel wanneer die pad geblokkeer is. Die hiper-realistiese koninkryk van God word met
die wandeling al meer op die aarde gevestig.
Caputo wil graag aantoon dat dekonstruksie en die koninkryk van God gekenmerk word deur
ʼn gedeelde liefde vir paradoks en aporia en ʼn gedeelde waardering vir die pad wat minder
bewandel word. God is ʼn gebeurtenis wat in die menslike realiteit in gekom het, die groot
“Ek-is”. Die naam van God kan gedekonstrueer word, maar nie God self nie – Hy is ʼn hiper-
46
realistiese gebeurtenis. Derrida het graag gesê dat demokrasie nie werklik bestaan nie, omdat
demokrasie in die huidige bedeling nie ʼn moontlikheid is nie. Dit is ʼn hiper-realistiese
gebeure. Die gebeurtenis behoort aan die vokatiewe orde; die orde wat roep, wat geroep
word, wat herroep word, terwyl name aan die eksistensiële orde behoort, die orde wat eintlik
bestaan, in natuurlike taal en werklike dinge (59). Dié voorkeur vir die vokatiewe bo die
beskrywende funksie van taal is dan ook kenmerkend van ʼn postmodernistiese benadering
(Vanhoozer 2005:93).
Is dekonstruksie nie ook maar ʼn soort gebed nie, wonder Caputo; ʼn gebed vir geregtigheid,
die geskenk, vergifnis en gasvryheid. In onderafdelings wat in sy skrywe volg, word die
geykte kategorieë gebruik as incognito’s van die onmoontlike:
• Geregtigheid
Die wet kan altyd gedekonstrueer word, maar geregtigheid nie. Die wet verseker legaliteit,
nie geregtigheid nie.
• Geskenk
Ons kan nie alles doen vir die beloning nie, sommige dinge moet bloot uit liefde vir die saak
gedoen word. Die geskenk waarsku gelowiges teen die gedagte dat verlossing verdien kan
word en dat skatte in die hemel bymekaar gemaak kan word.
• Vergifnis
Die Christelike geloof se verstaan van vergifnis en die vergifnis van dekonstruksie toon
besliste raakvlakke. Hoe is dit moontlik dat iemand ʼn moordenaar vergewe? Dit gaan tog
menslike begrip te bowe. Dit is in ʼn sin, onmoontlik. Hierdie vergifnis is ʼn geskenk wat
getuig van die onmoontlike. Dit herinner sterk aan die Nuwe Testamentiese voorskrif om jou
vyande lief te hê (Matt. 5:43-48). Liefde vir die vyand, ʼn onmoontlike taak, is aan die orde
van die dag in God se koninkryk. Ware vergifnis is, soos Christus se vergewing van die
soldate met sy kruisiging, sonder voorwaardes en totaal onbegryplik.
• Gasvryheid
Gasvryheid is ʼn woord met soveel belofte wat ongelukkig nooit tot vervulling kan kom nie.
Mense is slegs gasvry teenoor die wat aan hulle plesier verskaf. Die verwelkoming van
47
mense wat vanuit die staanspoor welkom was. Die ironie hiervan is dat dit glad nie gasvry is
nie! Lukas 14:12-13 skets ware gasvryheid. Christus se koms, as die seun van ʼn skrynwerker
(i.p.v. magtige koning van die Jode), was vir die meerderheid Jode ʼn antiklimaks en daarom
het hulle Hom verwerp. Is die bidders gereed vir Christus se koms? Sal hulle teenoor Hom,
die andere, gasvry wees? Of is daar die moontlikheid dat geskiedenis herhaal sal word?
Christus het immers gesê dat Hy na sy eie mense gekom het en dat hulle hom nie erken het
nie.
In bogenoemde incognito’s is liefde deurgaans die oorhoofse, alomteenwoordige beginsel.
Dekonstruksie is ʼn werk van liefde. Dit is verlief op die onmoontlike, die ondekonstrueerbare,
die toekoms wat nog moet aanbreek, die gebeurtenis. Dekonstruksie is nie realisties nie en dit
is ook nie onrealisties nie. Dit is net nie tevrede met die blote werklikheid nie, want die
werklikheid is altyd dekonstrueerbaar. Watter groter soeke het die mens tog as die
gewaarwording van die onwerklike? Dit is wat gelowiges lief het en waarvoor gebid word
(79).
Wat sal gebeur indien die intonasie van die vraag - Wat sal Jesus dekonstrueer? - verander
word? Wat maak Jesus en die koninkryk wat Hy verkondig uniek? Die uniekheid van Jesus
Christus is gesetel in die mag van sy magteloosheid. Sy boodskap is radikaal, ʼn boodskap van
radikale vrede en nie-gewelddadige pasifisme. Die ikoon van God se mag, Christus wat aan
die kruishout hang, versinnebeeld eintlik totale magteloosheid. Vandaar Paulus se skrywe in
1 Kor. 1:25 aangaande die swakheid van God wat vir die wêreld nie sin maak nie en tog meer
magtig is as al die mag van die wêreld (82). Alhoewel Christus nooit geweldadig opgetree het
nie, het hy nooit terug gestaan vir enige persoon nie - juis dié karaktertrek lei tot sy lyding en
uiteindelike kruisiging. Caputo maak gebruik van die Bergrede (Matt. 5:1-7:29) as
samevatting van Christus se leer omdat Hy veral in dié toespraak die wysheid van God se
koninkryk met dié van die wêreld kontrasteer. Die onmoontlike is die kernsaak van die
Goddelike koninkryk. Om iemand lief te hê wat jou lief het, is heeltemal moontlik, maar om
die lief te hê wat jou haat, soos God vereis, is onmoontlik. Die onmoontlike situasie fasiliteer
die heerskappy van die Goddelike koninkryk. “Loving the unlovable, the possibility of the
impossible, that is the central symmetry that leads me to treat deconstruction as the
hermeneutics of the kingdom of God.” (84). Jesus se aardse lewe was een van oordaad –
oordadige liefde. Sy vermoë om altyd die ekstra myl te stap, die voorbeeld vir gelowiges wat
in sy voetspore wil volg.
48
Die uniekheid van Christus dan? Die raaiskoot wat gewaag word, is dat, indien ware
volgelinge van Christus teëgekom word, persone dalk mag dink dat hulle swakkelinge is, ʼn
bietjie mal of so iets, vanweë hul soektog na die onmoontlike (87). In ʼn Christengedrewe
politieke bestel moet die swakheid van God, deur die arbeid van gelowiges, sterker word as
die mag van die wêreld. So ʼn bestel sal gekenmerk word deur die malligheid van vergifnis,
vrygewigheid, genade en gasvryheid (88). Caputo se gebed is dat alle gelowiges sal kyk na
die kerk en die wêreld en voortdurend vra “Wat sal Jesus (hier) Dekonstrueer?” Dit is ʼn
oneindige vraag waarop daar nooit ʼn antwoord kan of mag gekry word nie, want geregtigheid
en die koninkryk van God, lê geslote in die terrein van die onmoontlike.
2.6 Samevatting
Elkeen van die boeke wat bespreek is dra by tot ʼn beter verstaan van die belangrike
fenomeen, bekend as ʼn “Teologie van Swakheid”. Sonder DCNT sal die leser nie
noodwendig die ingewikkelde dekonstruksie-teorie fondasie van dié teologie kan begryp nie.
In On Religion word ʼn voorsmakie van Caputo se teologiese denke aangetref en alhoewel dit
met tye vaag is, dien dit as rigtingwyser tot iets groters en meer volledigs. Die “iets” word
dan aangetref in ʼn sistematiese omskrywing van sy “Teologie van Swakheid” in The
Weakness of God. Hierna word die sirkelgang voorlopig voltooi met die boek What Whould
Jesus Deconstruct? as Caputo nie slegs homself voordoen as teoloog nie, maar opsetlik
teologiese, morele, en politiese advies aan ʼn evangeliese mark bied (Robbins 2008a:4).
49
HOOFSTUK 3:
GASVRYHEID, VERSKILLE WELKOM... “SAMEVATTING” VAN JOHN D.
CAPUTO SE DENKE
3.1 Inleiding
Dekonstruktiewe godsdiensfilosofiese teoretisering is die hoofdoelwit van die projek van
“Teologie van Swakheid”. Die aard van teorieë is dat dit ʼn eindelose maalkolk van suspisie
en wantroue is. Teorieë bevraagteken en toets die huidige bedeling, met ʼn sekere geloof in
die toekoms, ʼn geloof dat dinge beter kan wees, selfs beter as wat verbeel kan word – die
koms van ʼn toekoms wat verwagtinge oortref. In hierdie hoofstuk sal opsommenderwys
gefokus word op enkele hoofmomente van Caputo se projek. Hoofmomente word sistematies
georden in terme van prominensie; dus sal eers gekyk word na Caputo se oorkoepelende
hermeneutiese strategie en vandaar elemente wat deel uitmaak daarvan. Ter bevordering van
ʼn breër perspektief word die hoofstuk afgesluit met ʼn vergelykende afdeling waarin
Caputoaanse teologie met die van enkele klassieke teoloë vergelyk word.
3.2 Caputo se “godsdiens”
“Godsdiens” is nie volgens hom ʼn institusionele saak nie. Terselfdertyd is dit nie vrye denke
waar elkeen die Nuwe Testament kan lees soos dit hom pas nie; dit is veel eerder ʼn manier
van in-die-wêreld-wees. Godsdiens moet soos literatuur en politiek ten volle in- en deel van
die wêreld wees (Caputo 2008:47). Teologiese nadenke moet die situasies van mense in die
wêreld uitpluis en sin maak van hul bestaan (Caputo 2008:49). Caputo artikuleer dus in sy
werk ʼn verstaan van teologie as ʼn gebed wat betekenisvol word sodra wêreld (positief)
verander. Na sy mening geskied verandering deur die nastreef van geregtigheid, met die oog
gefokus op die toekoms (Newheiser 2008:108). Daaglikse bestaan is godsdiens en teologie.
Dit is ʼn hermeneutiese perspektief waardeur na die lewe gekyk word (Caputo 2000:174).
Caputo se voorstel: ʼn Radikale hermeneutiek.
50
3.3 Radikale hermeneutiek
John Caputo is van mening, soos geïllustreer in die vorige hoofstuk, dat dekonstruksie kan
dien as ʼn hermeneutiek vir die koninkryk van God. Dekonstruksie is gefokus op die toekoms,
die onkenbare, die onvoorspelbare, en uiteindelik die onmoontlike. Indien Lambert
(2001:174) se definisie van die hermeneutiek “as die kuns om die diskoers van ʼn teks te
verstaan”, aanvaar word, volg dit dat dekonstruksieteorie die “kuns” kan bied om die
“diskoers” van die “teks” (oftewel koninkryk) te verstaan. Dit is die sleutel tot die
interpretasie van die projek.
Wyshogrod in Johnson (2005:214) beskryf Caputo se denke as ʼn transendering van
metafisika, ʼn etiese verbintenis en ʼn hermeneutiese strategie. Die strategie kan as ʼn radikale
hermeneutiek beskryf word. Caputo se hermeneutiek word aangevuur deur ʼn liefde vir God,
veral ʼn Joods-Christelike openbaring van God. Sy ideaal hiermee is om ʼn Christelike
filosofie, of meer spesifiek, ʼn Christelike dekonstruksie te formuleer. Hy kontamineer
Westerse filosofie deur dit binne ʼn Nuwe-Testamentiese raamwerk te bedink. Dié raamwerk
is dan die bekendmaking van ʼn alternatiewe lewensvorm (buiten die moderne Westerse
lewensvorm). Caputo beweeg nie op die terrein van ʼn algemene, abstrakte, ontologiese
dimensie nie, maar tree in gesprek met die tasbare, ontiese dinamika van die Nuwe
Testament, en spesifiek Jesus Christus in die Sinoptiese Evangelies. Hy dring daarop aan dat
ʼn Christelike dekonstruksie in die lewe en bediening van Jesus Christus gesetel moet wees.
Vandaar kan dié radikale hermeneutiek as ʼn radikale Christologie herdoop word (Putt
1997:449-50).
Keller (2007:134-5) beskryf Caputo se “Teologie van Swakheid”-projek as ʼn eksperiment in
post-strukturalistiese Bybelse teologie. Alhoewel die teks vanuit ʼn dekonstruktiewe
perspektief gelees word, word Skrifgefundeerde argumente aangevoer. Organisering van vrae
rondom God word o.m. verklaar aan die hand van die Pauliniese argument aangaande die
swakheid van God, die eerste skeppingsverhaal van Genesis en talle ander Evangeliese
verhale en gelykenisse. Hy slaag dus daarin om ʼn wye reeks filosofiese en teologiese bronne
te integreer in ʼn ryk teologie (Newheiser 2008:108).
51
Prominente temas wat deel uitmaak van hierdie hermeneutiese strategie is o.m.:
3.3.1 Die Goddelike naam
Die naam van God lyk anders deur die bril van ʼn radikale hermeneutiek. Die naam dui nie
noodwendig, soos in die tradisionele dogmatiek, op ʼn persoonlike, ewige, geestelike,
alomteenwoordige, alwetende en eindelik almagtige wese (Doubell s.a.:29-32) nie. Veel
eerder is die naam van God, die naam van alles wat mense liefhet en wat hulle begeer
(Caputo 2001b:291). Dié naam dui op hul verstaan van God, die gebeurtenis. God is altyd
groter as enige iets wat oor Hom gesê of gedink kan word en daarom moet mense versigtig
wees wanneer iets gedoen word “in die Naam van God”. Hul perspektief is beperk tot die
moontlike en heel moontlik totaal verkeerd. Die gebeurtenis is onnoembaar groter as die
naam (Caputo 2008:47). Die naam kan nie regtig die gebeurtenis in bedwang hou nie.
Die naam van God (en God is liefde – 1 Joh. 4:16), moet in die oortreffende idioom gelees
word. Gelowiges moet soos Augustinus hulself met passie afvra: “Wat het ek lief as ek my
God liefhet?”, want God is groter as Sy naam. Die oorsprong van Augustinus se vraag is ʼn
passie vir die lewe en daarom meen Caputo dat postmoderniste vandag nog, met of sonder
godsdiens, met dieselfde vraag worstel: “Hoe hanteer ons dié passie vir die lewe en die
bestaan?” (Hooten 2008:116). In On Religion, word godsdiens gedefinieer as ʼn liefde vir
God, en die liefde vir God (die transendente) is ʼn passie vir die onmoontlike (Caputo
2001a:7-17/ Johnson 2005:213). Die passie is ʼn uiterste besorgdheid met dit wat die oog nog
nie gesien het en waarvan die hoor nog nie gehoor het nie, want die koms van die
onmoontlike korreleer glad nie met menslike verstaanshorisonne nie. Hierdie brandende
passie is om die rede “oop” en onseker, ʼn mooie risiko wat wag vir die koms van die messias
en sy koninkryk; die inkoms van die ander (l’invention de l’autre) wat altyd nog moet kom.
Daar word gebid vir die onmoontlike met die gebeurtenis as eienaam vir die messiaanse
toekoms, die onvoorsienbare, absolute toekoms. Daarom beskou Caputo sy postmoderne
teologie as ʼn hermeneutiek van die onmoontlike (Caputo 2006:6). Sy teologie van die
gebeurtenis kulmineer in die konkrete uitdrukking van die koninkryk van God, met Jesus
Christus as middelpunt (Caputo 2007c:134). Alhoewel hy bely dat geen persoon die
oorbodigheid van die gebeurtenis kan begryp nie en niemand regtig weet wat hy/sy liefhet
52
wanneer hy/sy God liefhet nie, neem hy ʼn geloofssprong en stel ʼn antwoord voor: Wat het hy
lief as hy God liefhet? Hy is lief vir God soos geopenbaar in Jesus Christus (Putt 2008:591).
3.3.2. Die on/moontlike koninkryk
ʼn Radikale hermeneutiek meen dat God ʼn gebeurtenis is en dat indien die gebeurtenis sal
ontvou, sy koninkryk sal volg, maar hoe sal dié koninkryk lyk? Dit is onmoontlik om in te
dink, maar gelukkig kan tydens die Nuwe Verligting ʼn tweede kindsheid beleef word, waar
die mens weer kan droom oor die transendente. Die droom mag dalk as volg daaruit sien:
Die transendente as passie vir die onmoontlike is terselfdertyd die passie vir menslike
bestaan. Dit oortref bestaan-horisonne en menslike verwagtings met ʼn radikale, onvoorsiene,
“onprogrameerbare” toekoms (Caputo 2007a:190/ Caputo & Scanlon 2007:13). Ervaring van
God is ervaring van die onmoontlike, Goddelike koninkryk. In ʼn fenomenologiese sin, is die
onmoontlike nie die antitese van die moontlike nie, maar verplettering van
verwagtingshorisonne (Caputo 2003:123). Teenoor Kant se definisie van ervaring – dit wat
moontlik is, is die van Caputo – dit wat onmoontlik is (Caputo 2003:126). Werklike ervaring
geskied sodra die terrein van die onmoontlike betree word.
Waarom tyd spandeer om na te dink oor dit wat onmoontlik is? Is dit nie tot ʼn mate onsinnig
nie? Volgens Caputo (2003b:13-4) is hy nie besorg oor die onmoontlike nie, maar die
onmoontlike besorg met hom. Dit roep hom voortdurend, dit steur sy slaap en hou sy hart aan
die hoop. Hy wag pal op die koms van regte demokrasie, geregtigheid, gasvryheid en ander
ondekonstrueerbares. Die onmoontlike is gestruktureer as ʼn roepstem wat wese transendeer;
daarom kan die moontlike (wese) dit nooit bereik nie. So wat het die onmoontlike, ʼn bekende
tema in dekonstruksie-teorie, te make met die koninkryk van God? Eenvoudig gestel, is dit
een en dieselfde ding, want alhoewel niks vir God onmoontlik is nie (Matt. 19:26), is die
onmoontlike ʼn teken van God se teenwoordigheid. Die onmoontlike is die terrein van God en
sy koninkryk. Hier regeer Hy, en sy koninkryk van die swakkes en die uitgeworpenes is
malligheid in die oë van die mens (Caputo 2003:127-8). Die koninkryk van God is die
koninkryk van die onmoontlike. Die onmoontlike is om nie te leef vir jouself en wêreldse
dinge nie, maar om jouself te oriënteer tot “God” en Sy diens, deur liefde vir die ander
(Kavka 2003:226).
53
Al hoe die onmoontlikheid moontlik kan word, is deur opregte geloof. Geloof is nie
geloofwaardig wanneer iets moontlik is nie. Ter illustrasie hiervan, Caputo (2003:131) se
verhaal van ʼn man wat verkeerdelik van ʼn misdaad beskuldig word. Aanvanklik sal al sy
vriende hom ondersteun en sy kant kies, maar namate die bewyse teen hom vermeerder sal al
minder vriende glo dat hy wel onskuldig is. Slegs enkeles, die met opregte geloof, sal in die
“onmoontlike” situasie – met talle bewysstukke teen hom – nog glo in sy onskuld. Gepaard
met die geloof is altyd die hoop, die hoop dat hy onskuldig is. So ook, is hoop slegs hoop
wanneer dinge hopeloos lyk. Die kern van die onmoontlike situasie is die seëviering van
geregtigheid.
Indien die koninkryk onmoontlik is, wat dit is, stel die onmoontlike situasie moeilike eise aan
die gelowige. Indien gebid word vir die koms van God se koninkryk in die wêreld, is dit ʼn
gebed vir die koms van die onmoontlike, waar die saligsprekinge, soos geformuleer in
Matteus 5, ʼn realiteit word. Alhoewel die gebed in geloof en met ʼn hoop teen hoop moet
geskied, is dit steeds gelowiges se verantwoordelikheid om die onmoontlike te doen; om die
koninkryk van God ʼn werklikheid te maak in die wêreld. Dit kan dalk met behulp van ʼn
politiese bestel gedoen word. ʼn Politieke bestel, geskoei op die poëtiek van die koninkryk sal
geken word deur die dwaasheid van vergifnis, vrygewigheid, genade en gasvryheid. Die
ontstellende nagedagtenis van Christus se gekruisigde liggaam figureer as dreigement teenoor
ʼn wêreld wat rondom die gevaarlike gedagte van krag en mag wentel (Caputo & Keller
2007:107). Só gesien, word die “onmoontlike” en die “koninkryk” meer as filosofiese temas
of teologiese beginsels, dit word ʼn profetiese roepstem, soos Amos wat koning Jerobeam
waarsku teen die gevolge van sy misdrywe (Caputo & Keller 2007:106).
Die dryfkrag vir die koms van God se koninkryk is ʼn diepgaande begeerte daarvoor. Vanuit
fenomenologiese hoek is begeerte ʼn woord voordat dit ʼn “iets” is. Begeerte is die
moontlikheid van bevrediging in taal, deur taal. Dit is die lewenskrag van kreatiwiteit, omdat
begeerte vir homself objekte verbeel, voordat dit realiseer. Dié denkbeeldige, alternatiewe,
ideale konstrukte (bv. die koninkryk) moet allerlei reële, wêreldse struikelblokke in die gesig
staar. Die dubbelsinnige subjek (bv. die wêreld) is altyd onder konstruksie met ʼn eindelose
verlange omdat die begeerte, as woord, in die verhewe terrein van taalkunde opgesluit is.
Begeerte is om te dink, te praat, te skryf, te lees en te leef in die wêreld wat geen ander
wêreld ken nie (Vahanian 2001:94). Die ander wêreld wat begeer word, die koninkryk van
onmoontlikheid – waar geregtigheid seëvier – is nie enige iemand se koninkryk nie, dit is die
54
koninkryk van God. Dit is die koninkryk van ʼn gebeurtenis, wat die koninkryke van mense
dekonstrueer.
3.3.3 ʼn Teologie van die kruis
Die Christelike simbool by uitnemendheid – die kruis – word nie uit die oog verloor in
Caputo se “Teologie van Swakheid” nie. Korrelasie word tussen die dekonstruktiewe sakrale
anargie van Christus en die bekeringsboodskap (metanoics) van Paulus se logou strautou in
die eerste brief aan die Korintiërs aangetref. Hiermee kontrasteer hy gevestigde
magsstrukture, wat hul mag aflei van rede en wese, met die swakheid van God en sy
koninkryk, waar die swakkes (ta me onta) in tel is (1 Kor. 1). Putt (2007:195) meen dat daar
na Caputo se “Teologie van Swakheid” as ʼn “Korintiër”-teologie verwys kan word,
aangesien hy so gereeld terugverwys na veral hoofstukke 1 en 13 van Paulus se eerste
Korintiër-brief. Volgens Putt kondenseer die inhoud van die twee hoofstukke die struktuur
van Caputo se postmoderne filosofiese teologie. ʼn Teologie van die kruis verwerp ʼn
theologia gloriae en ʼn triomfantlike kerk mentaliteit. Só ʼn teologie weier dat God ingeperk
word tot tipiese filosofiese kategorieë of menslike definisies van prestige en beheer. ʼn
Teologie van die kruis praat liewer van ʼn swak God of ʼn lydende God soos uitgebeeld in
Christus se kruisdood (Putt 2008:492). Keller gaan dalk te ver in haar uitspraak dat die
Pauliniese God van swakheid die “leuen” van Goddelike almag afsterf (Keller 2007:137).
Volgens Caputo het teologie te make met hoe die mens in die wêreld leef. Christus se
koninkryksboodskap, wat hy deur sy lewe en dood verkondig, is een van lewe in-en-vir-die-
wéreld; dit is ware etiek. Etiek, wat nie as sisteem funksioneer en blindelings nagestreef moet
word nie (die wet), maar etiek as geregtigheid om te reageer op beproefde vlees – die arme,
die melaatse, die weduwee en die tollenaar. Die formulering van hierdie etiek vind nie plaas
op grond van transendente, Goddelike uitsprake nie, maar op grond van ontmoetings met die
ander in die wêreld. Dit is ʼn boodskap van anders wees in die wêreld. Dit is die verkondiging
van verantwoordelikheid teenoor die ander, wie se gewonde vlees uitroep na verlossing en
nie morele spekulasie nie! Wie ʼn oor het om na hierdie boodskap te luister, word
getransformeer. ʼn Metamorfose van die vlees en transformasie van die hart vind in die
koninkryk plaas. Die wonderlike aspek van die boodskap is die verkondiging van ware
genesing. Die goeie nuus van dié evangelie – die onmoontlike, genesing en die herstel van
geruïneerde tyd, is moontlik!
55
Die boodskap verwesenlik in die sg. “terapie van die koninkryk”, waar volgelinge van
Christus alles in hul vermoë moet doen om ander persone se lyding te verlig. Terloops, is die
belang van Christus se wonderwerke volgens Caputo hierin gesetel. Indien
wonderwerkverhale letterlik gelees word (soos in die tradisie) word dit ingekrimp tot stories
oor ʼn Goddelike man wat Sy bonatuurlike kragte ten toon stel. Caputo interpreteer liewer die
verhale as poëtiese uitdrukkings van Jesus se aandrang dat God die kant van die gewonde
kies en begeer dat persone se lyding tot ʼn einde moet kom. Genesing in die koninkryk is dus
nie die gevolg van bonatuurlike magte nie, maar afkomstig van individue wat Jesus se
roeping om uit te reik na die ander, ernstig opneem (Putt 1997:452-3).
Die Vader van Christus, aan wie dié koninkryk “behoort”, openbaar Homself as “per
contraria” teenoor die wysheid van die wêreld en wêreldse mag (doxa). Hy doen dit deur die
paradoks (paradoxa) van swakheid en die risiko van kwesbare liefde. Jesus se Hemelse
Vader beoefen sy Goddelike soewereiniteit deur die kruisdood van Christus en nie deur
wonderlike magsvertonings nie. God betreur pyn, lyding en ongeregtigheid en voel bedroef
wanneer mense verkeerd optree. Daarom spandeer Hy tyd om hare te tel, verlore skape te
soek en wag hy met ʼn brandende begeerte vir die terugkeer van die verlore seun. Die
kruisteologie is, “theopassionism”, ʼn teologie van die lydende God wat in solidariteit met die
lydendes nee sê vir onregverdige en onverdiende lyding (Putt 2007:200). Duidelik word die
teologie van die kruis slegs radikaal sodra die aanwesigheid (of afwesigheid) van God op die
kruis van Jesus raakgesien word (Sobrino 1981:182).
3.4 In gesprek: Ander teoloë
Hoe radikaal is die “Teologie van Swakheid” werklik? Indien vergelykings getref word met
die werke van enkele moderne teoloë, mag gereformeerde lesers dalk aangenaam verras wees
met die ooreenstemmings wat aan die lig kom. Die name van veral Switserse teoloog Karl
Barth en Duitse teoloë Jurgen Moltmann en Dietrich Bonhoeffer kan in die verband genoem
word.
Caputo meen dat God die totaal andere (tout autre) is. Die gedagte sluit sterk aan by Barth se
siening van God as die ganz andere. Albei se beredenerings het in gemeen dat God groter is
as die menslike verwysingsraamwerk en daarom sal teologiese denke altyd ver tekort skiet
indien die Goddelike bestudeer word. God, as die gebeurtenis of ganz andere, maak inbraak
56
in dié wêreld van dieselfde. Caputo beklemtoon die onmoontlikheid van gesprekke oor God,
wat sterk aanklank vind by Barth (1978:186) se woorde aan jong predikante: “As ministers
we ought to speak of God. We are human, however, and so cannot speak of God. We ought
therefore to recognize both our obligation and our inability and by that very recognition give
God the glory.” Die mens se verantwoordelikheid dan: Om God te loof en te prys deur die
bewerkstelling van sy koninkryk.
Aksente wat in Caputo se “Teologie van swakheid” beklemtoon word, is soortgelyk aan die
gevolgtrekking wat Moltmann in sy teologie van die “gekruisigde God” (The Crucified God)
bereik. Die gedeelde Pauliniese kruisteologie (by uitstek 1 Kor. 1:18-25) fondasie val op.
Deur die geskiedenis heen is die klem van Christus se kruisdood grotendeels op die
antropologiese (“oor ons”) of selfs soteriologiese (“vir ons”) wyse geïnterpreteer (O’ Collins
1983:94). Moltmann, wat self ’n gevangene tydens die Tweede Wêreldoorlog was, skets in sy
groot werk The Crucified God vir die leser ’n God wat in ʼn reële sin aan die kruis gely het.
Juis deur die gebeure identifiseer Hy met lyding in die wêreld en word Hy die “God van
solidariteit” (Sobrino 1994:245). Moltmann benut Hegel se dialektiese filosofiese beginsel in
sy verklaring van die kruis. Hiervolgens verloop die geskiedenis volgens die dinamika van
tesis, antitese en sintese (Taylor 1975:212). Indien die sisteem op die kruisiging-gebeurtenis
toegepas word, sal dit as volg daar uitsien:
Tesis: Daar is lyding aan die kruis en in die wêreld.
Antitese: Die lyding affekteer God en die indruk word geskep dat dit Hom selfs, met die
dood van Christus, oorwin.
Sintese: God transformeer, deur die uitstorting van die Gees, die lyding tot die lewe.
In die Caputo-idioom is die tesis die moonlike, die antitese die onmoontlike en die sintese die
gebeurtenis.
Dietrich Bonhoeffer se kenotiese leer, soortgelyk aan die van Moltmann hou dat God opsetlik
in Christus Homself verklein en te kort gedoen het. God moes self ly om in solidariteit met
die lydendes te wees. God word magteloos in die wêreld, om aan die kant van die magteloses
te wees (McGrath 2003:283-4). Deur die stelling poog Bomhoeffer om die Christelike geloof
te fundeer in iets anders as godsdiens of metafisika (McGrath 2003:543). Die godsdienslose-
Christendom (Religionless Christianity) van Bonhoeffer, is gebaseer op die Goddelike
openbaring van Christus en die navolging van Hom; die antitese van die idee dat die mens
57
van nature godsdienstig is en verval in allerlei tradisies en gebruike. Dit klink nogal na aan
Caputo se sekulêre teologie wat die hiper-realistiese navolging van Christus voorstel. Albei is
gekant teen ʼn godsdiens wat meer fokus op menslike institusies of maniere van aanbidding as
die ware aard van God.
3.5 Samevatting
ʼn “Teologie van Swakheid” is eindelik ʼn postmoderne godsdiensverskynsel en in
postmodernisme word godsdiens gedemokratiseer en word gode gedwing om ruimte te maak
vir mekaar (du Toit 2006:1259). Indien gekyk word na die perspektief op Jesus in What
Would Jesus Deconstruct? is dit verstaanbaar waarom Caputo gekant is teen mag in die kerk,
want Christus toon deur sy lewe aan dat Hy, as buitestaander, altyd Homself aan die kant van
buitestaander skaar. Dit is ook sigbaar in sy kruisdood wanneer hy tussen twee kriminele
hang – in solidariteit met die slagoffers en nie die suksesverhale van die samelewing nie.
Jesus se kruisiging dramatiseer nie alleenlik die saligsprekinge nie, maar dit openbaar op
spesiale wyse hoedat ons Goddelike openbaring moet verwag te midde van die samelewing
se mislukkings (O’ Collins 1983:95).
58
HOOFSTUK 4:
DIE WET EN GEREGTIGHEID: ‘N KRITIESE EVALUERING
4.1 Inleiding
Die analise, interpretasie en bevraagtekening van tekste is maar enkele take van die
dekonstruksie gebeure. Die hooftaak is deurgaans die nastrewing van geregtigheid. Daarom is
dit net regverdig om dieselfde kriteria in die analise van Caputo se werke te handhaaf. Sy
standpunte is ook slegs teorieë wat tussen talle ander gevind word, elkeen met die doelwit om
lesers ʼn bietjie nader te bring aan die realisering van ʼn outentieke geloofservaring in die
21ste eeu. Die analise geskied in twee dele: ʼn kritiese evaluering van Caputo se standpunte,
gevolg deur ʼn waardeskatting van sy werk vir die gereformeerde teologie. Die analise en
evaluering se fokus sal breedweg by periferie sake begin en al meer fokus op kernsake.
Dit is noodsaaklik om te verstaan dat die navorser as teologiese student binne die Nederduits
Gereformeerde raamwerk inderdaad besig is met ʼn ander soort teologie as die van Caputo.
John Caputo is ʼn professionele filosoof en nie in die eerste instansie ʼn dogmatikus nie en dus
is sy uitsprake nie noodwendig tot bevordering van partikulêre Christelike leerstellings nie.
Godsdiensfilosowe soos hy beweeg opsetlik buite die terrein van die konfessionele gelowe en
is onafhanklik van religieuse instansies en denominasies (Robbins 2008b:34). Dié realiteit
verlig ʼn tekortkoming in die huidige gesprek. Daar is tans ʼn skeefgetrekte fokus op filosowe
se uitsprake aangaande godsdiens teenoor die afwesigheid van konfessionele teoloë se
uitsprake oor God (Hart 2003:445).
Lowe (2004:776-7) tref onderskeid tussen “minimalistiese teoloë” en “maksimalistiese
teoloë”, terwyl Westphal in Robbins (2003:189) ooreenstemmend van “dik” en “dun”
teologieë praat. Dun teologie, is ʼn meer formele, transendentale teologie wat gestroop is van
die “positiewe inhoud van spesifieke godsdienstige tradisies”; dit is soortgelyk aan Caputo se
“godsdiens sonder godsdiens”. Kenmerkend van hierdie godsdienstige nadenke is die
navolging van ʼn algemene teologiese struktuur met temas wat ʼn religieuse karakter toon.
Hierteenoor is dik teologie, waarmee die navorser al die afgelope ses jaar mee besig is. Die
soort denke begin vanuit die teïstiese verklaring dat God as persoonlike wese, skepper van
die heelal is. Kenmerkend aan die meer tradisionele benadering is dat dit ʼn sterk teïstiese aard
toon wat getrou is aan die Skrif as God se besondere openbaring. Verskillende teologiese
59
perspektiewe sal noodwendig verrykende gevolge te weeg bring. Kernwaarhede sal dalk
dieselfde bly, maar die verskeie hoeke waaruit dit gelees word, verryk wedersyds die verdere
lees van die teks. Met hierdie verskil in teologiese denke in ag geneem, sou Caputo se
teologies-filosofiese denke ʼn sinvolle inspuiting tot teologie in ʼn Suid-Afrikaanse
gereformeerde konteks kon bied.
4.2 Kritiek
4.2.1 Geskiedenis
Caputo se kennis van die geskiedenis van filosofie is merkwaardig en daar kan duidelik
gesien word dat hy werklik ʼn kundige op dié gebied is. Dit blyk ongelukkig met tye dat sy
ekklesiologiese kennis plek-plek yl is. Die gevolg hiervan is dat die filosofiese agtergrond
van sy werke in detail en met groot duidelik uiteengesit word, terwyl die kompleksiteit van
die Christelike tradisie onderskat word. Illustratief van hierdie tendens in sy werk is duidelik
in uitsprake soos: “strong theologies ... are the only theologies that ‘exist’” (Caputo 2006:9).
Alhoewel die aspek van sy werk teleurstel, is dit nie té vernietigend ten opsigte van die
waarde wat sy skrywes vir die teologie inhou nie.
4.2.2 Skrifgebruik
Caputo se non-konfessionele benadering tot die teologie het ʼn massiewe impak op sy
benadering tot die Skrif en kan met tye problematies raak. Die problematiek wentel rondom
die sentrale vraag na “Skrifgesag”. Eenvoudig gestel: “Wat is die Bybel in John D. Caputo se
opinie en hoe hanteer hy die Skrif?”
In resente Bybelwetenskaplike navorsing word al meer teruggekeer na die kanoniese
interpretasie-model. Die model neem die huidige vorm van die Bybelteks ernstig op. Dit
staan teenoor die histories-kritiese model (wat etlike jare die eksegetiese toneel oorheers het)
se geneigdheid om die teks te versnipper in ʼn soektog na die ware, ongereduseerde teks
“agter die teks”. Dit is duidelik dat Caputo laasgenoemde strategie beoefen. Die probleem
hiermee is dat hy baie liberaal te werk gaan in sy hantering van die Skrif en vir
gerieflikheidshalwe keuses maak wat nie noodwendig die teks as geheel respekteer nie. Die
indruk word dus geskep dat die Bybelteks gemanipuleer word om bepaalde argumente te
60
bevorder. In The weakness of God gebeur dit herhaaldelik dat teksgedeeltes wat sy teorieë
moontlik kan verongeluk, summier aan die hand van ʼn redakteur toegeskryf word en dus nie
geldig is as die outeur se “oorspronklike intensie” met die teks nie.
Hoewel die aspek van Caputo se navorsing binne die skrywer se konteks problematies is,
moet in ag geneem word dat Caputo, as postmoderne godsdiensfilosoof, die volste reg het om
wel die teks op die wyse te benader. Sy verweer teen aanklagte dat hy nie die gesag van die
Skrif respekteer nie: “My answer is that I am not an idolater. In deconstruction, the Scriptures
are an archive, not the arche (which means they are not God). I take the second
commandment very seriously and I do not put false gods—like books (biblical inerrantism)
or the Vatican (papal infallibility)—before God, who is the ‘wholly other’” (Caputo
2007c:110). Dit herinner ʼn mens net weer aan die feit dat geen interpretasie ooit waardevry
en objektief is nie, so ook nie die “gereformeerde Christelike” interpretasie nie.
4.2.3 Liefde en universalisme
Caputo se (oor)-beklemtoning van die liefde kan moontlik negatiewe gevolge vir die
Christelike dogmatiek inhou; ʼn etiek van liefde word plaasvervanger vir ʼn verhouding met
die lewende God: “... the name of God is one of the names we have for love ... what we really
mean by ‘God’ is love.” (Caputo 2001a:126). “God” word dus ʼn plaasvervangersnaam vir die
objek van sy verlange. Godsdiens moet dus bedryf word in die ruimte tussen die empiriese-
en die fantasie- wêreld (Kavka 2003:226). In dié struktuur is daar geen geheime kennis
aangaande die Goddelike nie, want liefde is die sentrale, alomvattende begrip. Die
ontwikkeling kompliseer ook die Christelike etiek. Die aspek van Christelike etiek wat dit
uniek maak van ander etiese denksisteme is dat eg. in die wese en karakter van God begrond
moet word, en nie in allerlei ander beginsels soos geregtigheid, liefde, narratiewe van
bepaalde gemeenskappe of sosiale strukture nie. Al bogenoemde is belangrike elemente van
ʼn Christelike etiek, maar dit mag nie die basis van morele denke, karakter of dade vorm nie.
ʼn Bybelse etiek is ʼn reaksie op die lewende, verbondmatige, almagtige God van die heelal en
Hyself is die fondasie vir die etiek en morele gedrag (Hollinger 2006:64).
Die “verabsolutering” van liefde is syns insiens ʼn positiewe ontwikkeling, want vir hom is dit
irrelevant of daar ʼn mutasie van die Christelike geloof of ʼn hele nuwe geloof, wat die
Christelike geloof vervang, ontstaan. Inteendeel, sal hy juis so ʼn mutasie verwelkom: “I am
61
interested in displacing distinctions between believer and infidel, theist and atheist, the
subscriber to a particular confession and everybody else. We are all in this weak theology
together, all exposed to the event under whatever name, all afloat on rafts large and small in
an endless sea, all wondering who we are and what is what and who is calling and what is
being called for in the name of God.” (Caputo 2006:20). Die universalisme spruit voort
vanuit sy vae Derridiaans- geïnspireerde definisie van geloof as ʼn “passie vir ‘iets’ wat nie
noodwendig genoem kan word nie”. In die Christelike geloof is geloof tog meer as dit. Met
die “geloof” van Derrida kan geloof in enige G/god geplaas word, hetsy Jesus, Allah of
Amitaba; en dit is onbelangrik, want elk van daardie godsdienste verkondig geloof in
menslike bestaan (Bairns 2008:522-3). Op vernuftige wyse word die keuse om in God te glo
of om nie te glo nie, vermy (Johnson 2005:215). Syns insiens is die geveg vir die bevoorregte
posisie en die reg om sake onder ʼn vasgestelde naam te doen, nie van veel betekenis vir
postmoderne mense nie. Tog is die sin wat individue van hul lewens en die wêreld maak,
belangrik vir die toekoms (Cupitt 1998:232).
4.2.4 Jesus Christus
Caputo se houding jeens die Godheid van Jesus Christus verdien aandag. Hy meen o.m. dat
Christus nie wonderwerke gedoen het nie, dat Hy nie gesterf het vir die sondes van die
mensdom nie en ook dat Hy nie vanuit die dood opgestaan nie. Al die detail wat in die Skrif
voorkom, moet metafories en simbolies binne die narratiewe konteks verstaan word. Hy
meen dat ʼn letterlike lees van die teks onaanvaarbaar is en deur die histories-kritiese metode
gereduseer word tot fundamentalisme. Die historiese ondersoeke van John Dominic Crossan
stel vir hom die beste sy van die soektog na die historiese Jesus voor. Hy aanvaar Crossan se
hipotese dat die Evangelies deur redakteurs se latere inkorporering van Ou Testamentiese
profesieë gelegitimeer is. Lees die teks sonder die toevoegings en ʼn harde werklikheid is te
leer vanuit die lewe en sterwe van Jesus Christus: Die aanwesigheid van God in die lewe van
ʼn gelowige wakker ʼn passie aan vir die uitgeworpenes. Jesus proklameer immers dat God aan
die kant van die uitgeworpene en die gemarginaliseerde is, en Sy volgelinge moet dieselfde
doen. Hy sien Homself dus nie as Goddelik, die Messias of die Verlosser nie. In plaas
daarvan, reis Hy, met sy volgelinge, as plattelandse Joodse sinikus deur Palestina en versteur
die kultuur van die tyd. Hulle leef ʼn eenvoudige lewe, veroordeel materialisme en verkondig
ʼn boodskap van hoop aan behoeftiges. Sentraal in die leer is hul radikale verbintenis tot Abba
as die hemelse Vader (Putt 1997:451-2).
62
4.3 Waardeskatting
4.3.1 Die filosofiese nie-dood-van-God
Die filosofiese wegkeer vanaf die metafisiese het die dood-van-God teologieë tot gevolg
gehad. Dekonstruksie was veronderstel om ʼn versterkende rol hierin te vertolk sodat “God”,
as die hoogste transendentale openbaring, finaal vernietig kon word. Voorstanders van die
aanpak sluit filosowe soos Raschke, Taylor en Winquist in. Derrida se kritiek van die
metafisika van teenwoordigheid, soos oorgeneem deur Caputo, het ʼn godsdienstige noot
getref en herinner aan die Bybelse waarskuwing teen afgode; die afgod in dié geval –
metafisika en menslike rede (Caputo 2000:171). Die “Teologie van Swakheid” het dus die
weg gebaan vir die “terugkeer” van God en godsdiens in die filosofie; dit ná die sogenaamde
dood-van-God, bevestigend van die realiteit dat God steeds “begeer” word. Die dood-van-
God het nie die finale sê nie en vandaar sy nie-dogmatiese uitgangspunt dat godsdiens in
essensie ʼn begeerte is na iets wat nie noodwendig geken kan word of moontlik is nie. Die iets
is dalk “God”, die gebeurtenis wat die naam oortref (Robbins 2008a:3).
4.3.2 Pragmatiek
Is Caputo werklik besig met teologiese besinning of is sy projek eerder eksklusief filosofies
van aard? Die antwoord op dié vraag is duidelik indien Robbins (2003:195) se besinning
aangaande die aard van ware teologie in berekening gebring word. Hiervolgens sal egte
teologie, of dit godsdienstig of sekulêr van aard is, sy lewensvatbaarheid en waarde bewys.
Dié maatstaf bepaal dat teologie werklik reflekterend moet wees, nie slegs as (kwasi-)
transendentale kritiek in die sin dat dit terug reflekteer op sy eie kondisies van
(on)moontlikheid nie, maar dat daar oor ʼn soort pragmatisme beskik word. Daar moet gebons
word tussen gedagtes en die werklikheidservaring, waar die een vir die ander
verantwoordelik is en vice versa, ad infinitum.
Dit is ʼn waardevolle insig tot die kern van teologiese besinning. Teologie word wêreldwyd
beoefen, maar wat beteken dit? Behoort teologie eng gesproke die logos van die Theos te
wees? Kan teoloë nog werklik so arrogant wees om te dink dat hulle God onder die
vergrootglas kan plaas, dissekteer, verwerk en in pragtig verpakte dogmatiese antwoorde (of
liewer Antwoorde) aan leke verskaf? Caputo (2006:272) se oortuiging in die verband: “God
63
is structurally absent from theology, has already passed theology by.” Hy artikuleer sy
verstaan van teologie as ʼn gebed. ʼn Gebed wat merkwaardig word in etiese aksie georiënteer
teenoor die toekoms. Só gedefinieer, kan en moet alle gelowiges teologie beoefen.
ʼn “Teologie van Swakheid” vestig voortdurend die oog op die werklikheid en verplig lesers
om weer te dink oor die aard, basis en doelwit van teologiese besinning. Die gebeurtenis het
ʼn metodologiese transformasie tot gevolg; die teks word dus nie op modernistiese wyse
gelees om betekenis te ontgin nie, die teks verander die leser (Keller 2007:135). Kenmerkend
van die “nuwe” teologie is die nie-dogmatiese en politiese funksionering daarvan. Sentraal
hierin is die verstaan en betekenis van menswees. Verder moet dit vir mense waarde skep
deur die daarstel van oop denksisteme en ʼn alternatiewe lewensbetekenis. Dit dien as getuie
vir dit wat nie uitgebeeld kan word nie nl. die onmoontlike wat die wêreld kan (en moet)
verander (Wiebe 2008:78-9).
4.3.3 Christelike temas
Die belangrikste bydrae wat Caputo se werk tot die teologie maak, is sy vernuwende denke
aangaande geykte Christelike temas. Die kombinasie van dekonstruksie en teologie in ʼn soort
konstruktiewe teologie gekenmerk deur Caputo se radikale hermeneutiek hou die voordeel in
dat die Christelike geloof intellektueles sowel as sekulêre aktiviste trek. Indien teologie die
metodes van dekonstruksie en pluralisme absorbeer, sal die opposisie tussen sekularisme en
godsdiens al meer gedekonstrueer kan word (Caputo & Keller 2007:109). So ʼn
dekonstruktiewe benadering tot die teologie hou die teologiese wetenskap voortdurend op sy
tone, wat van groot waarde is om standpunte wat dalk totaal onbybels is te kniehalter, voordat
dit versteen in ʼn sterk tradisie. Individue moet hulself afvra: “Wat is die gebeurtenis wat
binne ʼn bepaalde teks opgesluit lê?” (Keller 2007:136). Die mens se vertrekpunt is altyd
vanuit ʼn bepaalde tradisie. Tradisie omsluit in wese ʼn spesifieke kultuur, taal,
wêreldbeskouing, godsdiens. Dekonstruksie as werk van liefde is voortdurend nodig om te
toets of Christene nog op die regte pad is binne die bepaalde tradisies wat hulle só liefhet
(Johnson 2005:213/ Caputo 2001b:304). Dekonstruksie van ondekonstrueerbare temas soos
vergifnis, die geskenk, demokrasie, gasvryheid en geregtigheid verplig Christene (en teoloë!)
om nooit te rus met die sogenaamde vergifnis, geskenke, demokrasie, gasvryheid en
geregtigheid wat in die wêreld (en spesifiek die kerk) voorkom nie (Caputo & Dooley &
Scanlon 2001:8). Dekonstruksie kan ook by gelowiges spesiale vaardighede en ʼn sensitiwiteit
64
kultiveer om die behoeftes van die ander raak te sien (Michener 2007:181). Meer radikaal,
maar in dieselfde lig, is Derrida se uitgangspunt rondom dekonstruksie se waarde vir die
teologie. Hy meen dat dekonstruksie teologie kan bevry van sy metafisiko-filosofiese super
ego, sodat ʼn meer outentieke evangeliese boodskap ontdek kan word (Hart 1998:162).
Die bestudering van ʼn “Teologie van Swakheid” se dekonstruktiewe kategorieë kan
verrykende gevolge hê vir die gereformeerde dogmatiek. Interessante gevolgtrekkings word
op veral o.m. die volgende gebiede bereik:
4.3.3.1 Vergifnis
In klassieke Christelike godsdiens is die realiteit van vergifnis ongelukkig telkens ver
verwyder van outentieke Christelike vergifnis, met die gevolg dat vergifnis soos ʼn wêreldse
ekonomiese sisteem funksioneer. Vergifnis, nie meer as Goddelike geskenk nie, maar liewer
as ʼn voorwaarde-belaaide voorlopige kontrak wat allerlei teen-verwagtings in die fyndruk
omskryf. Dekonstruksie kan weer die ware aard van vergifnis na vore bring. Ware vergifnis is
die onmoontlike, want dit is ʼn geskenk wat aan die ander gegee moet word, sonder enige
vergoeding (Caputo & Dooley & Scanlon 2001:4). Caputo lees die verhaal van die Fariseër
en die tollenaar (Luk. 18:9-14) as illustratief van Jesus se verbintenis tot onvoorwaardelike
vergifnis, totaal anders as die wêreldse ekonomie van restitusie en boetedoening.
Verder, trek Caputo ook ʼn interessante verband tussen vergifnis en die skepping. Soos
vermeld in hoofstuk 2, is Caputo nie ʼn aanhanger van die creatio ex nihilo dogma m.b.t. die
skepping van die heelal nie. Syns insiens, het God nie die skepping vanuit niks geskep nie,
maar het Hy vanuit reeds aanwesige elemente, iets goeds geskep. Dié ritme van skepping laat
ook herskepping toe. Om oop te bly vir die onsamehangende tyd van vergifnis, kan gelowiges
deel neem aan die her/skeppingsproses, om d.m.v. vergifnis die goeie na vore te laat kom.
Alhoewel geruïneerde tyd onherstelbaar is, is die voorstel dat die hede getransformeer kan
word deur ʼn daad van “radikale historiese geheue” (radical historical memory).
Geskiedenisboeke word nie herskryf nie, maar die transformasie van mense se lewens kan
aan hul verlede ʼn nuwe betekenis gee (Caputo 2006:256). ʼn Persoon word dus deur die ander
(wat vergifnis bied) vrygespreek van haar verlede, en daardeur ontvang sy ʼn nuwe verlede
met ʼn bypassende nuwe, blink toekoms (Caputo 2006:231). Vergifnis is ʼn Goddelike
geskenk wat gelowiges bemagtig om die Here se passie vir die Lewe te eggo.
65
4.3.3.2 Geloof
In dekonstruksie en teologie word ʼn gedeelde vestiging van die verwagting op die
uiteindelike koms van die messias, die gans andere, aangetref. In On Religion skryf Caputo
oor die gevolge indien iemand vanuit ʼn gemaksone geruk word. Die gedagtes van relatiewe-
en absolute toekoms word onderskei. Die relatiewe toekoms is dinge wat voorsien en beplan
word – om te gaan studeer na skool of om op vakansie te gaan ens. Daar is ook ʼn ander
toekoms wat totaal onvoorsienbaar is. Dit is die absolute toekoms. Die toekoms bring ʼn mens
van stryk. In ʼn sin word so persoon getraumatiseer en tot die afgrond gedruk sodat die ego
gedesentraliseer word. Wanneer die absolute toekoms inskop is logika, beplanning en rede
(genoeg vir die relatiewe toekoms) nie voldoende nie. Dan is geloof, hoop en liefde al wat
iemand bymekaar kan hou (Hudak 2003:81). Dit is dié onbekende wat gelowiges nederig
hou, want dit kan altyd dinge omverwerp, en alhoewel ʼn mens dit nie noodwendig wil hê nie,
is dit juis waarna gehunker word. So is ʼn verhouding met die gans andere God – op die knieë
in gebed – moontlik, want daar is nêrens anders om te gaan nie. Die geloofssprong, sonder
waarborge, moet geneem word. Caputo herinner lesers na sy jarelange studie van
Kierkegaard dat twyfel nie die teenoorgestelde van geloof is nie, maar dat twyfel juis geloof
moontlik maak. Geloof en twyfel loop hand aan hand (Robbins 2008a:6). Geloof word
moontlik gemaak deur die epistemologiese realiteit van onsekerheid (Robbins 2003:188).
Hierdie hipotese dekonstrueer dus die verhouding tussen geloof en kennis. Dit is ʼn
noodsaaklike dekonstruksie aangesien dié twee dikwels in die kerk, sowel as in die wêreld,
met mekaar verwar word. Daarom beteken ware gelowige-wees om die waarheid te hê deur
dit te doen (in geloof), sonder die kennis. Op dié oomblik word God se genade ʼn werklikheid
– ʼn mens leef nie meer volgens sy eie wil nie, maar volgens die groter wil van God. Die mens
word gelei deur God en nie andersom nie.
4.3.3.3 Poëtiek vs. dogmatiek
Waarom, bo en behalwe die redes wat Caputo vermeld, verwys hy na die poëtiek van die
koninkryk? ʼn Meer subtiele rede hiervoor het te make met die huidige tydsgees, vroeër as
post-Christenheid bestempel. In die postmoderne, post-Christelike samelewing word gevind
dat daar telkens teruggekeer word na ʼn soort poëtiese teologie. Tradisioneel kan onderskeid
getref word tussen drie soorte antieke teologieë, by name, burgerlike-, filosofiese- en poëtiese
66
teologie, met laasgenoemde wat minder hoofstroom as die ander twee was. Poëtiese teologie
handel oor mites wat deur digters oorvertel is en die tradisionele plek hiervoor was die teater.
Burgerlike teologie was teologiese besinning binne die kader van die amptelike
staatsgodsdiens en filosofiese teologie, begin deur Plato, is teologie wat deur filosowe
beïnvloed en bedryf is. Deur die loop van die geskiedenis is veral poëtiese teologie onderdruk
en is godsdiens hoofsaaklik gemodelleer op die burgerlike- en filosofiese paradigmas (Cupitt
1998:225-7). Aangesien die Bybel hoofsaaklik in die narratiewe genre geskryf is, is dit
ironies dat teologie nie meer poëties bedryf is deur die loop van die geskiedenis nie.
Waarom nou skielik die grootskaalse terugkeer na poëtiese teologie? Die hoofrede dat
dogmatiese teologie verruil word vir poëtiese teologie, is die te kort aan ware dogmas. Die
tradisionele funksie van dogma is die daarstel van wette en die inperking van denke, met die
wette wat dan illustreer aan watter groep ʼn individu behoort. Die daarstel van dogmas sonder
filosofiese “waarheid” is nie om onfeilbare waarhede te verkondig nie, maar om te sê dat
indien ʼn individu deel van dié groep word, sy dié waarhede sal glo wat haar dan sal definieer.
Dogmatiese religie werk op die logika van verskil: Dit sluit in, deur om uit te sluit. ʼn
Alternatiewe visie, meer in pas met die postmoderne samelewing, is die van ʼn poëtiese
teologie. ʼn Religie gebaseer op vertellings (Bybelse narratiewe), poëties in ʼn sin, waar
intellektuele en morele uitnemendheid bereik kan word wat ver buite die strekking van
dogmatiese godsdiens is.
Dogmatiese religie soek inperking en beperking, terwyl poëtiese teologie wyd oop is vir
eindelose herinterpretasie en herverordening. Die funksie van poëtiese teologie is nie om aan
die hoorder esoteriese kennis te gee of om haar te red van enige iets nie, maar liewer om
lewens te veredel (Cupitt 1998:228).
67
4.4 Samevatting
Daar is gesien dat John D. Caputo ʼn ryke teologie in die vorm van sy “Teologie van
Swakheid” geformuleer het. Nie slegs is daar baie filosofiese kennis geïnkorporeer nie, maar
ook Bybelse waarhede. Dit maak nie die projek onproblematies nie, want besware kan
geopper word teen die fundering, sowel as inhoudelike, van die nuwe, sekulêre teologie.
Indien die positiewe teenoor die negatiewe van die projek opgeweeg word, is dit duidelik dat
die positiewe aspekte veel meer gewig dra. ʼn “Teologie van Swakheid” is as ambisieuse
projek van onskatbare waarde vir die teologiese, filosofiese en godsdiensfilosofiese gebiede;
en elk van die gebiede sou veel armer daarsonder wees.
Qui, qui veins qui!
68
WOORDELYS
APORIA
ʼn Aporia is ʼn dooie steeg en skynbare teenstrydigheid sonder oplossing. Die
bestaanskondisie vir die moontlikheid van ʼn konsep (bv. Die geskenk, vergifnis,
geregtigheid) is terselfdertyd die kondisie vir die onmoontlikheid daarvan.
DEKONSTRUKSIE
ʼn Filosofiese teorie van kritiek (gewoonlik van literatuur of film) wat daartoe streef om die
diep gesetelde teenstrydighede in ʼn teks te ontbloot deur dieper te delf as die voor-die-hand-
liggende oppervlakkige betekenis (Aanlynbron:6). Dekonstruksie het ontstaan in ʼn Europese
konteks, spesifiek Frankryk.
DOOD-VAN-GOD-TEOLOGIE
ʼn Teologie wat beweer dat die Westerse beskawing hul sin van ʼn “God” verloor het. Dit bied
ʼn alternatief vir die interpretasie van die Christelike evangelie aan ʼn post-Christelike
samelewing (Deist 1984:68).
FENOMENOLOGIE
Kennis deur die blote waarneming van verskynsels in die werklikheid (Potgieter 2001:80).
Die metode van filosofiese nadenke konsentreer dus uitsluitlik op die beskrywing van objekte
soos hulle hulself aan die menslike bewussyn blootstel. Ter versekering dat die syn gefokus is
op die spesifieke fenomeen wat ondersoek word, moet die ondersoeker twee reduksies
deurmaak: Ten eerste moet hy vanuit sy bewussyn alle ander fenomene wat sy beredenering
kan beïnvloed verwyder en ten tweede moet alle vooraf kennis en interpretasies van die
fenomeen vanuit die bewussyn verwyder word. Slegs dan kan verslag gelewer word oor wat
hy waarneem (Deist 1984:128).
EKSISTENSIALISME
Die wysgerige stroming wat voorhou dat die mens, deur die vryheid van die keuses wat hy
uitoefen, sin aan sy bestaan moet gee (Potgieter 2001:80).
69
EPISTEMOLOGIE
Die “teorie van wetenskap”. Filosofiese nadenke rondom die gronde en tekortkominge van
die fondasie, metodes en kriteria vir wetenskaplike kennis (Deist 1984:173). Epistemologie
dien as basis vir alle filosofiese nadenke insluitend metafisiese vraagstukke, etiek en estetika
(Cox 2006:10).
GODSDIENSFILOSOFIE
Die studie van die betekenis en regverdiging van fundamentele religieuse bewerings
aangaande die wese en bestaan van God, of gode, of die goddelike (Aanlynbron:7).
HERMENEUTIEK
ʼn Sinvolle definisie van hermeneutiek is soos gevind in Lambert (2001:174): Hermeneutiek
is die kuns om die diskoers van ʼn teks te verstaan.
HIPER-REALISME
Hiper-realisme verwys na ʼn realiteit wat nie in die huidige bedeling gevind word nie.
Terselfdertyd is dit nie onrealisties nie. Dit bestaan as alternatiewe werklikheid in ʼn reële
teks. ʼn Hiper-realistiese daad wil dié gebeurtenis in realiteit weergee en bekend maak.
KONTINENTALE FILOSOFIE
Versamel naam vir die vele kenmerkende filosofiese tradisies, metodes, en style dominant op
die Europese kontinent (veral Frankryk en Duitsland) vanaf die Immanuel Kant era. Dit staan
in kontras tot analitiese filosofie, ook bekend as Anglo-Amerikaanse filosofie. In die 20ste
eeu het dit o.m. die denkskole van fenomenologie, eksistensialisme, strukturalisme, en
dekonstruksie omsluit. Denkers wat uitstaan in die breë stroming is Martin Heidegger, Jean-
Paul Sartre, Maurice Merleau-Ponty, Michel Foucault, en Jacques Derrida (Aanlynbron:5).
METAFISIKA
ʼn Been van filosofie wat poog om die eerste beginsels van die werklikheid te ondersoek deur
logiese argumente. Dit is ook die studie van die essensie van wese (Deist 1984:104).
ONTOLOGIE
Wysgerige leer omtrent die synde; wordingsleer (Schoonees 1997:738).
70
ONTO-TEOLOGIE
Onto-teologie is ʼn woord wat deur Martin Heidegger geformuleer is en dui op die metafisiese
tradisie se mislukking in filosofie en teologie. Die tradisie se grootste tekortkoming is gesetel
in dié poging om alle wesens te verstaan i.t.v. hul “essensie” (die “onto” in “onto-teologie”),
oorspronklik vanuit een of ander hoër entiteit (die “teo” in onto-teologie). Dit lei tot
verwarring aangesien gepoog word om die fondasie van alle wesens te verstaan op grond van
ʼn transendente wese (Wrathall 2003:1-2).
POSTMODERNISME
Die algemene filosofie wat volg na die ineenstorting van modernisme. Dit beklemtoon die
kontekstualiteit van alle kennis en ontken dat vaste sekerhede bestaan. Alle sekerhede is
relatief en die enigste fondasie vir waarheid is gesetel in pluralisme (Doubell s.a.:148).
Akademiese postmodernisme adresseer die intellektuele aspekte van die beweging en dui op
ʼn wegbreek van Verligting ideale. Dit dui nie slegs op filosofie en teologie nie, maar ook op
literêre kritiek, sosiologie, geskiedenis en talle ander gebiede (Michener 2007:6).
PRAGMATISME
Filosofiese stroming wat die waarde van ʼn bewering uitsluitend volgens sy praktiese belang
vir die mens beoordeel (Schoonees 1997:815).
SEKULARISASIE
Die bevryding van onverantwoorde kerklike bindinge in die samelewing (Potgieter 2001:81).
SEKULARISME
Die verwerping van enige Goddelike beskikking en gesag oor die mens se lewe (Potgieter
2001:82). Volgens dié Verligting-tesis moet godsdiens deur wetenskap en menslike rede
vervang word (Caputo 2008:45).
SEKULÊRE TEOLOGIE
Die woord “sekulêr” dui op ʼn teologie wat sonder “godsdienstige/denominasionele beheer”
op wêreldse wyse beoefen word. Die metode en inhoud van sekulêre teologie verskil radikaal
van dit wat in tradisionele teologieë aangetref word (Robbins 2008b:33/ Caputo 2008:46).
71
STRUKTURALISME
Teorie wat die struktuur van die taal as samehangende eenheid bestudeer (du Toit
1997:1039).
TEODISEE
ʼn Poging om die probleem van lyding in die wêreld in lig van God se voorsienigheid op te los
(Doubell s.a.:149). Letterlik beteken die woord: Regverdiging van God (Heyns 1978:162).
THEOLOGIA GLORIA
Refleksie op die betekenis van God se majesteit en glorie (in die natuur) (Deist 1984:172).
TRANSENDENTE
Die filosofiese uitgangspunt dat die grondbeginsel vir die heelal te vinde is anderkant die
grense van die heelal (Deist 1984:175).
VERLIGTING
ʼn Term wat vanaf die negentiende-eeu gebruik word om te verwys na die beklemtoning van
menslike rede en outonomie, kenmerkend van Wes-Europese en Noord-Amerikaanse denkers
deur die verloop van die agtiende eeu (McGrath 2003:583).
72
BIBLIOGRAFIE
BAIRD, F E
2008. Book review: Philosophy and theology. Theology Today 64 (4), 521-523.
BARTH, K
1978. The Word of God and the word of man. Vert. Horton, D. Gloucester: Peter
Smith.
BIRNS, N
2001. Deconstruction, in Taylor & Winquist 2001:84-86.
CAPUTO, J D
1987. Radical Hermeneutic: Repetition, hermeneutics and the deconstruction project.
Bloomington: Indiana University Press.
1993. Against ethics. Bloomington: Indiana University Press.
1997a. Deconstruction in a nutshell. New York: Fordham University Press.
1997b. The prayers and tears of Jacques Derrida. Bloomington: Indiana University
Press.
2000. Book review: Religion. Journal of the American Academy of Religion 68 (1),
171-174.
2001a. On Religion. New York: Routledge.
2001b. What do I love when I love my God? Deconstruction and Radical Orthodoxy,
in Caputo, Dooley & Scanlon 2001:291-317.
2002. Richard Kearney’s enthusiaism: A philosophical exploration of the God who
may be. Modern Theology 18 (1), 87-94.
73
2003a. The experience of God and the axiology of the impossible, in Wrathall
2003:123-145.
2003b. Without sovereignty, without being: Unconditionality, the coming God and
Derrida’s democracy to come. Journal for Cultural and Religious Theory 4 (3), 9-26.
2006. The weakness of God: A theology of the event. Bloomington: Indiana University
Press.
2007a. Temporal transcendence, the very idea of à venir in Derrida, in Caputo &
Scanlon 2007:188-203.
2007b. Transcendence and beyond. A Concluding roundtable, in Caputo & Scanlon
2007:219-238.
2007c. What would Jesus deconstruct?. Michigan: Baker Academic.
2008. Open theology – or what comes after secularism?. Bulletin/ CSSR 37 (2), 45-49.
CAPUTO, J D & DOOLEY, M & SCANLON, M J (reds)
2001. Questioning God. Bloomington: Indiana University Press.
CAPUTO, J D & KELLER, C
2007. Theopoetic/Theopolitic. Cross Currents 56 (4), 105-111.
CAPUTO, J D & SCANLON, M J (reds)
1999. God, the gift, and postmodernism. Bloomington: Indiana University Press.
2007. Transcendence and beyond, A postmodern inquiry. Bloomington: Indiana
University Press.
74
CARLSON, T
2001a. Jean-Luc Marion, in Taylor & Winquist 2001:238-239.
2001b. Mark Taylor, in Taylor & Winquist 2001:388-389.
COX, J L
2006. A guide to the phenomenology of religion. London: T & T Clark.
CUPITT, D
1998. Post-Christianity, in Heelas, Martin & Morris 1998:218-232.
DEIST, F E
1984. A concise dictionary of theological terms. Pretoria: J.L. van Schaik.
DOUBELL, F B
s.a. Studyguide for CIT 174 doctrine of the church. Ongepubliseerde
studiehandleiding.
DU TOIT, C W
2006. Secular spirituality versus secular dualism: Towards postsecular holism as
model for a natural theology. Hervormde Teologiese Studies 62 (4), 1251-1268.
DU TOIT, S J
1997. Strukturalisme, in Odendal, F F & Schoonees, P C & Swanepoel, C J & du Toit,
S J & Booysen, C M 1997:1039.
HART, K
2003. Book review: Towards a postmodern Christian faith: Overcoming onto-
theology. Modern Theology 19 (3), 444-446.
HART, K J
1998. Jacques Derrida (b. 1930): Introduction, in Ward, G (red), The Postmodern
God, 159-167. Massachusetts: Blackwell.
75
HEELAS, P & MARTIN, D & MORRIS, P
1998. Religion, modernity and postmodernity. Massachusetts: Blackwell.
HEYNS, J A
1978. Dogmatiek. Pretoria: N.G. Boekhandel Transvaal.
HOLLINGER, D P
2006. Choosing the good. Michigan: Baker Academic.
HOOTEN, J
2008. Theology as social science. Bulletin/ CSSR 37 (4), 116-117.
HUDAK, G
2003. Book review: On religion. Journal of Religion and Health 42 (1), 77-83.
HYMAN, G
2004. The study of religion and the return of theology. Journal of the American
Academy of Religion 72 (1), 195-219.
JOHNSON, P A
2005. Book review: A passion for the impossible. International Journal for
Philosophy of Religion 57 (3), 213–216.
KAVKA, M
2003. The absence fetish. Religious Studies Reviews 29 (3), 225-234.
KELLER, C
2007. Book review: Weakness of God. Cross Currents 56 (4), 133-139.
LAMBERT, G
2001. Hermeneutics, in Taylor & Winquist 2001:174-176.
76
LOWE, W
2004. Book review: A passion for the impossible: John D. Caputo in focus. Journal of
the American Academy of Religion 72 (3), 774-780.
MARGARONI, M
2001. Derrida, Jacques, in Taylor & Winquist 2001:92-94.
McGRATH, A E
2003. Christian theology: An introduction. Cornwall: Blackwell.
MICHENER, R T
2007. Engaging deconstructive theology. Burlington: Ashgate.
NEWHEISER, D
2008. Book review: “Philosophy and theology” and “the weakness of God”.
International Journal of Systematic Theology 10 (1), 105-108.
NEWMAN, B M
1993. Greek-English dictionary of the New Testament. Stuttgart: Bibelgesellschaft.
NIEMANDT, N
2007. Nuwe drome vir nuwe werklikhede. Wellington: Lux Verbi BM.
O’ COLLINS, G
1983. Introducing Catholic theology: Interpreting Jesus. London: Geoffrey
Chapman.
ODENDAL, F F & SCHOONEES, P C & SWANEPOEL, C J & DU TOIT, S J &
BOOYSEN, C M
1997. HAT verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor
Uitgewery.
POTGIETER, P C
2001. Dogmatiek deel 1: Kursus DOG212. Ongepubliseerde studiehandleiding.
77
PUTT, B K
1997. The im/possibility of a passionate God: A postconservative manifestation of
Caputo’s kingdom christology. Perspectives in Religious Studies 24 (4), 447-467.
2007. Risking love and the divine “Perhaps”: Postmodern poetics of a vulnerable God.
Perspectives in Religious Studies 34 (1), 193-214.
2008. Poetically negotiating the love of God: An examination of John D. Caputo’s
recent post-secular theology – A review essay. Christian Scholar’s Review 37 (4),
483-497.
ROBBINS, J W
2003. In search of a non-dogmatic theology. Cross currents 53 (2), 185-199.
2008a. The hermeneutics of the kingdom of God: John Caputo and the deconstruction
of Christianity. The Global Spiral 8 (11), 1-12.
2008b. Theses on secular theology. Bulletin/CSIR 37 (2), 31-36.
RORTY, R
2003. Anti-clericalism and atheism, in Wrathall 2003:37-47.
SCHOONEES, P C
1997. Ontologie, in Odendal, F F & Schoonees, P C & Swanepoel, C J & du Toit, S J
& Booysen, C M 1997:738.
SHUTTE, A
2005. The possibility of religion in a scientific and secular culture. African Journal of
Philosophy 24 (4), 289-307.
78
SOBRINO, J
1981. Christology at the crossroads: A Latin American approach. London: SCM.
1994. Jesus the liberator: A historical-theological reading of Jesus of Nazareth. New
York: Orbis.
TAYLOR, C
1975. Hegel. London: Cambridge University Press.
TAYLOR, V E & WINQUIST, C E (red)
2001. Encyclopedia of postmodernism. New York: Routledge.
VAHANIAN, N
2001. Desire, in Taylor & Winquist 2001:94.
VANHOOZER, K J
2005. Lost in interpretation? Truth, scripture and hermeneutics. Journal of the
Evangelical Theological Society 48 (1), 89-114.
VOSLOO, R
2004. Anderkant etiek? Tradisie, dekonstruksie en verdere weë. Nederduits
Gereformeerde Teologiese Tydskrif 45 (3&4), 936-955.
WIEBE, D
2008. Secular theology is still theology, not the academic study of religion. Bulletin/
CSSR 37 (3), 77-81.
WRATHALL, M A
2003. Introduction: metaphysics and onto-theology, in Wrathall 2003:1-7.
WRATHALL, M A (red)
2003. Religion after metaphysics. Cambridge: Cambridge University Press.
79
AANLYNBRONNE
1. Atheist bus campaign. Verkry 20 Februarie 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://en.wikipedia.org/wiki/Atheist_Bus_Campaign
2. John D. Caputo. Verkry 27 Januarie 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://en.wikipedia.org/wiki/John_Caputo
3. John D. Caputo tuisblad. Verkry 24 Januarie 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://religion.syr.edu/caputo.html
4. John D. Caputo. After Jacques Derrida comes the future. Verkry 27 Januarie 2009
vanaf die wêreldwye web: http://www.jcrt.org/archives/04.2/caputo.shtml
5. Continental Philosophy. Verkry 3 Augustus 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://www.britannica.com/EBchecked/topic/1308494/continental-philosophy
6. Deconstruction. Verkry 3 Augustus 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://wordnetweb.princeton.edu/perl/webwn?s=deconstruction
7. Philosophy of Religion. Verkry 3 Augustus 2009 vanaf die wêreldwye web:
http://knowledgerush.com/kr/encyclopedia/Philosophy_of_Religion/